Binnelandse sake jammer oor onderbrekings

Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake. Foto: GCIS

Die departement van binnelandse sake het vanoggend die publiek van Suid-Afrika om verskoning gevra vir die groot onderbreking van dienste wat verlede Vrydag en Maandag voorgekom het.

Duisende Suid-Afrikaners was landswyd gestrand by kantore van die departement met Vrydag die hele dag geen diens nie en Maandag vir meer as twee ure.

Dit is een van die ergste onderbrekings van die departementele pligte – insluitend prosessering van paspoorte, identiteitsdokumente, huweliksertifikate, registrasies van geboortes – wat nog in Suid-Afrika voorgekom het.

Die departement van binnelandse sakie en die tersaaklike diensverskaffer, die staat se intelligensietegnologieagentskap (Sita), is vanoggend voor ʼn gesamentlike sitting van die parlementere portefeuljekomitee oor binnelandse sake, en die parlementere portefeuljekomitee oor telekommunikasie en posdienste gedaag om te verduidelik wat gebeur het, en hoe ʼn herhaling voorkom kan word.

Oor wat gebeur het, was die antwoord duidelik en omvattend. Vrydag omstreeks 02:00 het ʼn kragonderbreking by Sita se hoofkantoor in Centurion plaasgevind. Daar is twee kragopwekkers in geval van so ʼn gebeurlikheid, maar toe daarna oorgeskakel is, het die een se petrolvoorraad aan die brand geslaan en die ander een het nie gewerk nie.

Die situasie is daardeur vererger dat die departement van binnelandse sake (waarvan die stelsels 24 uur lank, deurgaans, moet werk omdat Suid-Afrikaanse ambassades in tydsones dwarsoor die wêreld die stelsel heeltyd moet gebruik) eers vyf uur later, om 07:00, van die probleem bewus geword het.

Toe het dit meer as ʼn uur vir tegnici geneem om op te daag, en hulle het die hele dag gewerk om die stelsels aan die gang te kry. Dit is teen 17:30 bereik.

Maar toe werk alles op batterye, en teen Maandagoggend, toe die batterye afgeloop was, gaan staan die stelsel weer. Hierdie keer het dit ʼn meer as twee uur geduur om die stelsel weer aan die gang te kry.

Parlementslede van die ANC, DA en EFF het in alle rigtings geknor en gekla oor die ongemak vir die publiek en dat dit nooit herhaal moet word nie. Die DA en die EFF het aangedring dat die departement van binnelandse sake hulself van Sita losmaak en, soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, hul eie stelsel bedryf.

Die adjunkminister van binnelandse sake, Fatima Chohan, die top-bestuur van die departement van binnelandse sake en Sita het egter gesê die probleem is uitgesorteer, sal nie weer voorkom nie en diegene wat aandadig of nalatig was, sal dissiplinêr aanspreeklik gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Akasia ·

Ek self was al ten minste drie keer by Akasia Binnelandse Sake in die onlangse verlede net om te hoor daar is geen krag nie en ek moet maar weer kom. Moenie maak asof hierdie die eerste keer is wat so iets gebeur nie.

Johann cb ·

Ai tog, die ou spreekwoord sê “prevention is better than cure”!
In ons land word ongelukkig nie meer voorsorg getref nie! Eina…

Amanda Meyer ·

Wag al meer as 3 jaar vir “unabbridged ” huweliksertifikaat. Hulle is net slap.

Kobalt ·

Eers befoeter hy die land se finansies en nou vereger die reeds gekruppelde Binnelandse sake.! Ai ou CP, leer uit jou voorganger se foute. Van minister van sport tot minister van polisie, Mbalula weet steeds niks waar hy homself ookal nou bevind nie en so kan ek aangaan. Duidelik is almal onbevoeg en raak aldus eerder van al die onbevoegde lede ontslae die uwe meneer die President. Aaron Motswaledi gaan ook nog die land se gesondheidsektor verder verniel..!!

John ·

Die dinge wat CR nie doen nie is tans in oorwig. Wat het hy gedoen wat beter en reg is? ‘School is a place to have fun’ is sy volsin vir gister en sanitere-produkte vir vroue, belastinggeld-begrafnisse en middernagfeeste vir grondhongeres, besoeke aan die kunsmuseums van Arabiese prinse en fliklooi by Afroka-konings, terwyl die pappot-kookwater stoom… maar nee, ons kook sommer net water…. vir niks besonders nie. Ja die kruie staan reg, maar dis ok maar sommer….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.