Binnelandse sake maak planne teen lang rye

(Argieffoto: Leon Lestrade/ANA)

Suid-Afrikaners kan verwag om eersdaags nie meer ure lank in rye te staan wanneer hulle aansoek doen om ʼn ID-dokument by binnelandse sake nie.

Die departement van binnelandse sake het planne voorgelê om die lang rye waaraan die publiek by die departement se kantore onderwerp word, korter te maak en die wagtyd te verminder.

Die departement was Dinsdagoggend in die pekel by die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake wat daarop aangedring het om te weet wat die staatsdepartement gaan doen om diens aan die publiek te verbeter.

Die topbestuur van die departement van binnelandse sake het erken navorsing toon die wagtyd vir diens by baie van die departement se bedrywiger kantore het aansienlik toegeneem die afgelope twee jaar.

Dit geld vir die dienspunte wat buitelandse asielsoekers en ongedokumenteerde en/of onwettige immigrante moet hanteer, asook die kantore wat dienste aan Suid-Afrikaanse burgers lewer.

Wat die kantore betref wat Suid-Afrikaanse burgers bedien, is die wagtyd die langste in Soweto, Pietermaritzburg en Oos-Londen, volgens die navorsing. Daar is ʼn baie korter wagtyd by bedrywige kantore wat goed bestuur word as by kantore wat swak bestuur word. Uiteraard is wagtyd oor die algemeen ook korter by kantore wat minder mense hanteer as by die besigste kantore, toon die navorsing.

Oor die redes vir die lang wagtyd en rye het die departement gesê die grootste sondaar is kantoorhoofde wat swak beplan en organiseer, sodat die rye nie vinnig vorder nie en ook nie optimaal doelmatig is nie – almal staan in dieselfde ry, of hulle nou dienste benodig wat lank neem of wat vinnig afgehandel kan word.

Goed funksionerende dienspunte bied afsonderlike rye sodat diegene wat ʼn diens benodig wat sommer spoedig afgehandel kan word, nie hoef te wag vir diegene met tydrowende behoeftes nie.

Voorts tref swak funksionerende kantore nie onderskeid tussen die rye vir enersyds diegene wat hul vorms elektronies voltooi het, en andersyds diegene wat dit met die hand moet doen of ongeletterd is nie. Goed funksionerende kantore doen dit wel, wat beteken die elektroniese indieners se dienste word vinniger afgehandel.

Onverwagse toelope op sekere dae – veral in die eerste week van Januarie – laat agterstande ontstaan wat lank neem om in te haal, het die navorsing bevind.

Een van die grootste probleme is dat die vakbonde een van die departement se planne om die drukte in rye te verminder en werk in te haal, gekelder het toe die vakbonde geweier het dat hul lede op vrywillige en betaalde grondslag op Saterdae werk. Dit sou veral professionele mense in staat stel om hul dienste op Saterdae te laat verrig sodat hulle nie verlof hoef te neem nie.

Wat die oplossings betref, word alle hoofde van kantore van die departement van binnelandse sake tans opgelei sodat die beter funksionerende kantore se ordeningsmodelle vir dienslewering en vinniger bewegende rye oral in die land toegepas kan word.

Binnekort sal elke departementele kantoor verplig word om sy elektroniese aansoekers te skei van diegene wat dit met die hand op papier doen – daar sal afsonderlike rye wees.

Verskillende rye sal ook ingestel word vir elke diens wat benodig word, en kantore sal landwyd op voorspelbare druk tye – soos die eerste week van Januarie – vroeër oopmaak en later sluit as normaalweg.

ʼn Stelsel word tans ingestel om die publiek wat oor eie vervoer beskik, te verwys van besige kantore af na nabygeleë stiller kantore.

Die staat onderhandel boonop met vakbonde om vrywillige, betaalde Saterdagwerk weer in te stel.

In ʼn belangrike innovering is die departement van binnelandse sake besig om met al die groot handelsbanke te onderhandel om as afsetpunte vir ʼn verskeidenheid dienste te dien, wat tans net by kantore van die departement gelewer word.

Parlementslede was nie vreeslik beïndruk met die amptenare se beloftes nie, en het beloof om deurgaans te monitor of die departement sy kant bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Christa

Mense wat beter diens liewer Moet daar gesit word. Hulle gesels met mekaar terwyl hulle kliente help. Bind hulle monde toe en dit Sal vinniger gaan

Adri jacobsz

Ek vind net om 6-8 maande te wag vir n geboorte sertikaart wat nog verkeurt gedruk is uiterse swak diens is. En dan n verdere 3 maande te wag vir dieselfde foutiewe sertifikaat om reg gedruk te word heeltemal te swak van die aard is. Hoe moet mense dokumente kry as daar nie huidiglike swak og geen dienslewering is nie?

Sanna

Wag al twee jaar en twee maande op ‘n visa vir die pa van my kinders en ek ytwyfel of dit iets met lang rye te doene het, maar eerder die feit dat ons al drie keer geweier het om omkoopgeld te betaal.

Irene

Skande dat mense so moet staan. Hoekom bou hulle nie teen die muur sitplekke nie hoeveel mense kan hul perdag help. Gee kaartjies van 1 – tot dan kan mense soveel daar wees. Maar hul kan regtig rat in gat
kry.

Schalk

Planne wil julle nog brood vretende amptenare aanstel wat al vretende die publiek bedien.Enigste land waar jy bedien word terwyl broodkrummels uit die mond van die amptenaar die glas tussen jou en die amptenaar aanval.