Binnelandse sake sê oor ID-slimkaarte

Minister Malusi Gigaba tydens 'n vorige geleentheid. Foto: DoC

Minister Malusi Gigaba tydens ‘n vorige geleentheid. Foto: DoC

Malusi Gigaba, die minister van binnelandse sake, het Woensdag ʼn belangrike aankondiging rakende die nuwe ID-slimkaarte tydens ʼn mediakonferensie in Kaapstad gemaak.

Gigaba het gesê die ouderdomsperk van Suid-Afrikaners wat toegelaat word om by banke vir ID-slimkaarte aansoek te doen, is nou uitgebrei om alle mense vanaf die ouderdom van 16 jaar in te sluit. Enigiemand kan dus nou vir ʼn ID-slimkaart by spesifieke banke aansoek doen of van die departement se aanlyn aansoekstelsel gebruik maak.

Die departement het vroeër vanjaar die eHomeAffairs-portaal bekendgestel wat mense tussen die ouderdom van 25 en 40 jaar in staat gestel het om aanlyn vir hul ID-slimkaart of paspoort aansoek te doen en te betaal. Die proses word dan by die betrokke aansoeker se bank gefinaliseer en die voltooide ID of paspoort kan ook weer by die bank afgehaal word. So kan Suid-Afrikaners die lang toue by binnelandse sake se kantore vryspring.

Volgens Gigaba is altesaam 35 751 aansoeke reeds deur die aanlyn stelsel ingedien, waarvan 50% al afgehandel is. Hy het gesê die departement wil nou daarop fokus om meer Absa-, FNB-, Nedbank- en Standard Bank-takke aan die stelsel te koppel, aangesien daar tans slegs 12 takke in Gauteng en een tak in Kaapstad is wat die diens beskikbaar stel.

“Die plan is om die samewerkingsooreenkoms met die deelnemende banke teen Oktober vanjaar te finaliseer en sodoende ons voetspoor in die provinsies te vergroot en meer Suid-Afrikaners toegang tot die aanlyn stelsel te gee,” het Gigaba gesê.

“As deel hiervan sal die departement op 3 September vanjaar instandhouding en opgraderings by 178 binnelandsesake-kantore doen om die stelsel te verbeter. Die betrokke kantore sal op daardie dag geen ID-slimkaart- of paspoortdienste beskikbaar hê nie.”

Hy het gesê die departement se langtermyndoelwit is om die 34 miljoen groen ID-boekies met ID-slimkaarte te vervang. Tot dusver is 5,2 miljoen ID-slimkaarte reeds uitgereik.

Mense wat probleme met die aanlyn aansoekstelsel ondervind, word versoek om die departement se hulplyn by 0800 601 190 te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Marianne ·

Ek hoop van Harte dat ou mense en siek of gestremde mense tuis gehelp gaan word.

Essie ·

Wonder net – tydens stemtye word stempels en plakkers in idboekies gesit. Hoe gaan dit op die simpel plastiekding gedoen word?

Hoender ·

As jy die 3de gestem het, sou/moes jy sien dat jou boekie se barkode net gescan was – niemand het n plakker of stempel gekry nie. Die met kaarte was ook net gescan.

Sheena ·

Hoender weet nie waar jy gestem het nie, maar waar ek gestem het (Pretoria) het ons nog steeds a stempel gekry.

Se maar net ·

Hoender, ek weet nie waar jy gestem het nie, maar hier in Pretoria waar ek gestem het, het ons nog steeds ‘n stempel in ons id’s gekry!

Robbie Crouch ·

In Bloemfontein het dinge ook beter gewerk, jou strepiekode is eenvoudig gelees en siedaar jy kon stem.

anne ·

Sou eerder gedink het dat dit spesifiek ook op ouer mense van toepassing sou wees.

Alet ·

Se maar net … ek het ook n Pretoria gestem en nie n stempel gekry nie?

Van ·

Met hierdie reeling kon ek nie verstaan hoe dit vir die jongetjies maklik gemaak om aanlyn of by banke aansoek te doen en ouer mense met binnelandse sake toe en in ure lange rye staan. sou dit nie meer sin gemaak het om hierdie opsie juis vir ouer mense te bied nie.

Trienie Alberts ·

Lees die berig mooi…ALLE mense kan dit aanlyn doen.

Annetjie ·

Wat van staatspensioenare wat nie n bankrekening het nie?

Joann ·

Dit is die jong klomp wat vir Zuma ondersteun wat voorkeer kry,ons oues is dalk al dood met volgende verkiesing. LMGA

Liezel ·

Ons het ook nie ‘n stempel gekry nie, jou ID boekie was net gescan en daarna het hulle ‘n papiertjie geprint met al jou detail op. Dit was in Boksburg

M A ·

Ek het in Pretoria gestem en het nie ‘n stempel gekry nie, net ‘n papiertjie wat uitgedruk is na ‘n scan van die strepieskode.

Jorrie Jordaan ·

Hoekom beperking op ouderdom plaas vi aansoeke by banke. Ek is 63 jaar oud, dit het 2 ure met aansoek geneem en een en half uur vi afhaal by binnelandse sake kantoor. Dit is REEDS senior burgers wat van die banke voordeel gebruik sal wil maak!!!

E.K. ·

Jorrie, ai hoe lees jy. Dis vir ALLE ouderdomme toepaslik/toeganklik!

JT ·

Moet sê die stelsels en diens by Binnelanse sake is van die beste wat ek in jare beleef het. Aansoek vir nuwe paspoort en ID het minder as ‘n week geneem totdat dit afgelewer was. Nie 1 papier ingevul nie. Selfs foto’s word digital geneem en is dadelik op stelsel. SAP kan maar by die mense gaan leer. Wag tot 6 maande vir dokumente van hulle!

danie ·

Ek kan dit beaam, was 20min in binnelandse sake en het my paspoort na 7 dae gekry en 4 sms.e om vordering te raporteer. Dit was In akasia (pretoria)

elsie ·

Wanneer kan ons aan soek doen id kaart wat nie in SA gebore is nie . Maar van n paar maande na geborte in SA kom woon het.

Francois ·

Interessant hoe dinge altyd dieselfde kringloop volg. Toe ek ‘n tiener was het almal identiteitskaarte gehad. Selfs die bestuurslisensies was in kaartvorm.
Daarna het die eerste blou “lewensboekie” verskyn wat alles van jou geboortesertifikaat, huwelikssertifikaat, vuurwapenlisensies, bestuurslisensie en stemrekords bevat het.
Dit was natuurlik effe groot en het nie lekker in ‘n hempsak gepas nie. Later is die boekie verklein met die eerste groen boekie en nog ‘n uitgawe het gevolg.
Nou is ons weer terug by ‘n afsonderlike kaartstelsel, alhoewel dit nou ‘n “slim” kaartstelsel is.

Martha de Waal ·

Maak net seker jou slim Id Kaarte is korrek – my man VK de Waal sn dui aan dat hy onbevoeg is om sy handtekening te maak. Wonder op wie se Id sy handtekening is? Dept of Home Affairs weier om die fout op hul koste reg te stel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.