Binnelandse sake verloor jou data weens kragprobleme

(Argieffoto: Google Earth)

Dringende ondersoek word gevra na die behoorlike funksionering van die departement van binnelandse sake se aanlyn stelsel wat klaarblyklik weens beurtkrag dataverliese ondervind.

Adrian Roos, die DA se woordvoerder oor binnelandse sake, was vroeër op ʼn oorsigbesoek aan die departement se kantoor op Bronkhorstspruit in Gauteng toe die dataverliese toevallig aan die lig gekom het.

“Daar was gevalle waar burgers vir ʼn ID of paspoort aansoek doen, die aansoekvorm voltooi en ʼn geldige kwitansie ontvang het. Wanneer hulle ʼn paar weke later na die kantoor terugkeer om uit te vind waarom die dokumente nie gereed is nie, vind hulle uit die aansoeke is weens beurtkrag – wat veroorsaak dat die stelsel aflyn is – heeltemal uitgewis.

“Inwoners moet dan van voor af aansoek doen,” sê Roos.

“Dit is ʼn heeltemal onaanvaarbare mors van tyd vir mense. Daar kan geen toegewings met databasis-replikasie wees nie.”

Dié replikasie beteken ʼn stelsel moet inligting wat daarop gestoor of daardeur gestuur word, gereeld van een bediener na ʼn ander oordra om moontlike dataverliese te beperk. Daar moet ook voorsiening gemaak word vir ʼn manier om die data in noodgevalle te herwin.

Roos sê uiters sensitiewe data word op die stelsel gelaai en dit moet behoorlik beskerm word.

Dit is in hierdie stadium onduidelik hoe wyd die omvang van die verlies aan data is en ʼn navraag aan die departement van binnelandse sake was tot dusver onbeantwoord.

Roos se vrae aan die minister van binnelandse sake, dr. Aaron Motsoaledi, oor verskeie kantore van die departement wat oënskynlik geen werkende kragopwekker of ononderbroke kragtoevoer-toestelle (UPS) het nie, is ook steeds onbeantwoord.

Hy het die minister in Oktober verlede jaar gevra watter kantore van binnelandse sake stukkende UPS-stelsels het en teen wanneer dit herstel gaan word, asook vir ʼn lys van kantore met geen werkende kragopwekkers of UPS-stelsels nie.

ʼn 2019-verslag van die staatsinligtingstegnologie-agentskap (Sita) het toe al gewys dat kragonderbrekings verantwoordelik was vir tussen 30% en 50% van gevalle waar die stelsel aflyn was.

In April verlede jaar was die departement se stelsels landwyd aflyn nadat ʼn kabel wat die departement met Sita verbind, gebreek het. Dit het beteken die departement kon geen dienste aan die publiek lewer nie.

In Februarie 2021 het die staatsdrukkery ook reusedataverliese ondervind – waarvan sommige waarskynlik nooit weer herwin sal word nie – weens die swak instandhouding van inligting- en kommunikasietegnologie. Die paneel wat die probleem moes ondersoek, het destyds aan die parlement gesê die span verantwoordelik vir instandhouding het nie geweet hoe om dié werk behoorlik te doen nie en daar was ook geen behoorlike rugsteunnetwerk nie.

“Die traagheid om hierdie kwessies te pak is moeilik om te verstaan, gegewe die geweldige uitwerking daarvan. Ministers geniet op die belastingbetaler se rekening die gebruik van kragopwekkers by hul huise en is heeltemal uit voeling met die uitwerking van beurtkrag,” sê Roos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

JM ·

Gaan daar in hierdie land ooit lig in die tonnel wees, behalwe dié van ‘n aankomende trein?

Mariana ·

Watter trein. Transnet dan ook in sy peetjie. Geen lig in hierdie lang tonnel nie

Charmain ·

Ons wag al van Apr 2022 vir volledige geboorte sert. Gister vir di 3de keer terug gegaan na di tak om NOG vorms te voltooi. Ons is toe vertel die verkeetde vorms is di vorige kere voltooi!!! Di proses begin nou weer van voor af, gaan seker nog n jaar wag!!! Absoluut pateties

Marthinus Johannes ·

Wat het geword van “Backup” is hulle nie veronderstel om elke dag n “Backup” te down nie wat gestoor moet word nie. Dan kan jy enige dag se prosesse nagaan en of herein sou dit nodug raak. Of is hier n geldmaak storie aan gekoppel of pleinweg slegtigheid om werk behoorlik te down. Die file13 mandjie is fans te Groot.

domheks ·

As die IT mense te sleg is om hulle werk te doen – kry ander met behoorlike kwalifikasies! “BACK-UP” is seker nie ‘n woord wat hulle ken nie! Dit moet ELKE dag gedoen word.

Mariana ·

Staatsdepartement – onvermoë om te funksioneer. Dis so tipies. Niks is in plek vir noodgevalle nie. Niks werk nie. Verkeerde mense aan die stuur.

Elma ·

Mens noem dit “back-ups”. Standaard daaglikse prosedure vir enige rekenaar sisteem. Hulle weet die seker nie. Wonder OF hulle ooit die goed capture? Die huidige verskoning van “sorrrriiieee, loadshedding” word mos maklik gebruik.

marius ·

Hulle back up by die deur uit huis toe , so gou as wat hul kan .

Maritza ·

Data verlore oor krag of onbekwane mense of beide? Wonder maar net

otter ·

nonsens , julle verloor data omrede julle met n klomp lui werkers sit wat absoluut niks wil doen nie!!!! moenie die krag krisis probeer blame nie dit is julle!!!!

Blikkies ·

Liewe Hemel, die mense van alle staatsbeheerde instansies het net nie ‘n Clue wat hulle doen nie….wanneer eindig hierdie waansin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.