Biosekuriteit groot bedreiging vir landbou in KZN

Die grens tussen Suid-Afrika en eSwatini.

Biosekuriteitsbedreigings in KwaZulu-Natal kan nie geïgnoreer word nie en kan lei tot duisende werksverliese, het die DA in die provinsie Sondag gesê.

Die party begin binnekort met ʼn reeks oorsiginspeksies in streke wat grens aan Lesotho, eSwatini (voorheen Swaziland) en Mosambiek, asook by grensposte by die King Shaka-lughawe en die Durban- en Richardsbaai-hawe om die risikovlakke wat buitelandse biosekuriteitsbedreigings vir die land inhou, te ondersoek, het Chris Pappas, DA-woordvoerder, gesê.

“Die inspeksies volg op verskeie biosekuriteitsverwante voorvalle die afgelope maande. Die DA glo dit hou ʼn beduidende risiko vir landbou in die provinsie in, direk en indirek. Meer onlangs het die uitbreking van siektes soos bek-en-klouseer gewys hoe vatbaar die landboubedryf is vir bedreigings van buite,” het hy gesê.

Die DA het vantevore al bewys hoe maklik mense en diere daagliks vrylik tussen Suid-Afrika en eSwatini beweeg. Enigeen van dié diere kan ʼn siekte inbring wat KwaZulu-Natal se landboubedryf in duie kan laat stort. Die uitwerking van die uitbreking van bek-en-klouseer op die vleisbedryf is een só ʼn voorbeeld, het die DA gesê.

“Biosekuriteitsbedreigings vir die landboubedryf kan nie geïgnoreer word nie. Dit kan lei tot duisende werkverliese en voedselsekerheid in die provinsie ondermyn. Dit is dus uiters belangrik dat die regering die toekenning van hulpbronne prioritiseer om die vrylike beweging van diere, plante en mense te stuit,” het Pappas gesê.

Die DA stel voor dat hommeltuigtegnologie en verhoogde grenspatrollies deur die weermag ingespan word om die grense beter te patrolleer. Altesaam 15 weermagkompanjies patrolleer tans die landsgrense. Die party stel voor dat dit na 22 vermeerder word en dat dié lede goed toegerus en opgelei word.

Die party vra voorts vir die versekering van doeltreffende en gekoördineerde grensveiligheid en -beheer deur verhoogde polisiëring by grensposte en langs die grens, die ontplooiing van die weermag in beskermde gebiede wat grens aan buurlande, asook dat genoeg hulpbronne, soos skandeerders, by grensposte beskikbaar is om te verseker voertuie word behoorlik deursoek.

Die DA gaan sy bevindings en voorstelle ná afloop van die oorsigbesoeke aan die KwaZulu-Natalse LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, Bongiwe Sithole-Moloi, voorlê.

“Die DA is verbind daartoe om te verseker dat KZN se landboubedryf beskerm word teen buitelandse bedreigings en gaan die ANC-geleide provinsiale regering vra om praktiese oplossings in werking te stel om te verseker die bedryf bly veilig,” het Pappas gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leon ·

Die grens tussen Swaziland en Mpumalanga is ‘n platgetrapte doringdraad. Voor 1994 is dit die roete waardeur onwettige wapens in Suid Afrika ingekom het en ek is seker nogsteeds inkom. So dit verbaas my nie dat daar sulke goed kan plaasvind nie.

piet piet ·

Die DA is bekommerd oor diere wat oor die swaziland grens beweeg maar nie oor diskriminerende wetgewing teen minderhede in Suid afrika na 25 jaar se onderdrukking nie ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.