‘Bird Island’: Uitgewer vra ‘onvoorwaardelik verskoning’

NB-Uitgewers het onvoorwaardelik om verskoning gevra vir stellings in die omstrede boek The Lost Boys of Bird Island (en die vertaalde weergawe daarvan, Die seuns van Bird Island) wat daarop kan dui dat oudminister Barend du Plessis betrokke kon wees by die seksuele mishandeling van minderjarige seuns.

“Hoewel pogings aangewend is om sy identiteit te verbloem, aanvaar NB-Uitgewers dat daar steeds voldoende inligting in die boeke voorkom om mnr. Du Plessis te identifiseer as ʼn betrokkene,” het die uitgewer Dinsdag in ʼn verklaring gesê.

Die boek is in 2018 bekend gestel en het onder meer aangevoer Du Plessis [wat nie by name genoem is nie] en genl. Magnus Malan, oudministers van finansies en verdediging onderskeidelik, was betrokke by ʼn pedofielnetwerk wat glo in die 1980’s in die Port Elizabeth-omgewing bestaan het.

John Wiley, ʼn destydse minister van omgewingsake, is ook in die boek met die netwerk verbind.

Dit het groot opspraak gewek.

Maryna Lamprecht, verbonde aan die uitgewer se nie-fiksie-afdeling, het destyds op News24 geskryf die boek deur die oudspeurder Mark Minnie en ondersoekende joernalis Chris Steyn, onthul hoe sommige van Suid-Afrika se magtigste voormalige politieke leiers by die “wrede seksuele aanranding van kinders, die meeste van hulle swart, betrokke was”.

Die uitgewery sê nou hy vra “onvoorwaardelik verskoning vir die publikasie van hierdie bewerings tot die mate dat dit mnr. Du Plessis impliseer, en vir die gepaardgaande inbreuk op sy menswaardigheid en aantasting van sy reputasie, asook die emosionele skade wat dit vir hom en sy familie veroorsaak het.

“Die gewraakte stellings kon nie onafhanklik geverifieer word nie.”

NB-Uitgewers sê hy het reeds onverkoopte eksemplare van die Afrikaanse en Engelse uitgawes van die boek onttrek en die e-boek is van aanlyn platforms vir e-handel verwyder.

“Die verskoning is beperk tot mnr. Du Plessis en is nie van toepassing op enige ander persoon geïdentifiseer in die boek wat ʼn rol gespeel het in die gebeure beskryf in die boek nie.

“NB-Uitgewers sal enige poging om die boek en sy inhoud te diskrediteer in die toepaslike forum verdedig.”

Johan Victor, Du Plessis en die familie van die twee oorlede ministers se regsverteenwoordiger, het gesê die sogenaamde skokonthullings in die boek was niks meer as versinsels en ʼn web van leuens wat deur die skrywers geweef is nie.

Hy sê 18 maande nadat die boek bekend gestel is, het nog nie ʼn enkele getuie na vore gekom om die bewerings te staaf nie.

Minnie het skaars weke ná die boek se bekendstelling selfmoord gepleeg. Steyn het ʼn leuenverklikkertoets oor die inligting in die boek afgelê, maar dit is gekritiseer as dat dit nie gehelp het om die bewerings te staaf nie, maar slegs bepaal het dat sy haar bronne se weergawes van die gebeure korrek weergegee het.

Die ondersoekende joernalis Jacques Pauw het later ook onthul dat Minnie enkele dae voor die boek se publikasie die volgende aan die uitgewer geskryf het: “Ons het geen konkrete bewyse dat enige van die drie ministers ’n slagoffer seksueel gemolesteer het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

So word “n persoon se nalatenskap vernietig ter wille van Geld en roem

Wielspore

Die aangeleentheid rakende “Bird Island” kan dalk nie bewys word!
Dit is ‘n feit dat dienspligtiges seksueel misbruik was in die operasionele gebied – LMB Ondangwa – 1983 – OPS Medics. Die Majoor wat almal se hero was met sy dapper optrede was ‘n monster as die son sak, jou vuil hande het jong manne se lewens verander. Vuilgoed!

Frieda

Die skade is gedoen al trek hulle ook wat terug!! Moenie ‘n gat grou vir ander jy val self daarin.

Rooikoos

Duidelik is die illuminati in beheer van hierdie hele situasie.

Jakes

NB uitgewers hoort gedagvaar te word vir miljoene in siviele eise. Van die begin af was dit lagwekkend en n spul snert wat opgedis is teen gesiene persone wat nooit sulke skandelike dade sou doen nie. Nog n beter opsie sou wees om die uitgewers agter tralies te sit vir n lang tyd.