Biskop se korrupsiesaak uitgestel

Argieffoto

Die vonnisoplegging van ʼn bekende kerkleier van Port Elizabeth, wat skuldig bevind is op korrupsieaanklagte van R3 miljoen, is Dinsdag in die handelsmisdaadhof in Port Elizabeth uitgestel.

Biskop Samuel Banzana is vroeër skuldig bevind dat hy omkoopgeld van ʼn konstruksiemaatskappy aanvaar het om tenders aan die maatskappy toe te ken om honderde lae koste HOP-huise te bou.

Tom Langenhoven, vir Banzana, het Dinsdag aangevoer sy kliënt is die primêre versorger van sy twee kinders, waarvan een ʼn minderjarige is.

Langenhoven het die hof uitstel versoek sodat ʼn proefbeampte ondersoek kan instel en ʼn verslag saam kan stel oor die bydraes in die Bazana-huishouding.

Staatsaanklaer Ronelle Brink het aangevoer die minderjarige kind het verskeie versorgers en dat dit nie ʼn verskil maak indien Banzana nie meer beskikbaar sou wees om ʼn bydrae te maak nie.

Banzana is in Maart skuldig bevind op vier aanklagte van korrupsie ter waarde van R3 miljoen.

Banzana was ten tyde van die misdade, tussen 2004 en 2009, die bestuurder van die Mzingisi-ontwikkelingstrust, wat deur ANC-veteraan Govan Mbeki op die been gebring is. Die trust bou HOP-huise in behoeftige gebiede, insluitend Soweto on Sea, Veeplaas, Westview en Bethelsdorp.

Die batebeslagleggingseenheid het intussen beslag gelê op Banzana se huis en drie luukse motors, ter waarde van R2,9 miljoen. Die verlies van R378 000 moet nog gedek word. Die afgetrede biskop bly tans by sy skoonouers.

Die saak is tot 14 September uitgestel vir die proefbeampte se verslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

eish ·

Nou wat gebeur met die konstruksie maatskappy wat die omkoopgeld betaal het? Is die slange nie net so skuldig soos die biskop nie? Hul het tog seker die aanbod gemaak of ingestem en die betaling gedoen? Sjoe! Hoe sneuwel die manne in die bediening nie!

Annette Stander ·

Wys jou maar net. Ook maar voete van klei. Lekker luukse lewe gelei.

snoefie ·

met kinders is hy beslis nie n katolieke biskop nie. was hy dalk n munisipale biskop dat hy tenders vir laekoste behuising kon uit deel?

Basjan ·

Net R3 miljoen? Wat van die hoë regeringsamptenare wat miljarde rande se bedrog/omkopery/geldwassery en wie weet wat nog gepleeg het en nog vry rondloop?

snert ·

vra jy wat lippe het. ek glo in al die jare wat die NP aan bevind was, was daar oor die hele tydperk nie soveel korrupsie as in EEN ENKELE JAAR in die anc nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.