Bitcoin bars deur R1,2 miljoen-merk

Argieffoto (Foto: MichaelWuensch/Pixabay)

Die kriptogeldeenheid Bitcoin het die afgelope week opnuut deur die R1 miljoen-merk gebars om sy hoogste rand-verhandelingsvlak ooit te bereik. Dié kubergeldeenheid het Vrydagoggend teen ’n rapsie meer as R1,17 miljoen verhandel, nadat dit op skrikkeldag bo die vlak van R1,2 miljoen geboer het.

Daar is skynbaar geen keer aan dié wilde perd se galop nie. Bitcoin se waarde het sedert 1 Maart verlede jaar met 175% vanaf R428 000 gestyg. Die grootste styging het oor die afgelope maand plaasgevind. Dié eenheid het op 1 Februarie nog rondom R800 000 verhandel en was op 1 Maart meer as 47% hoër op R1 177 000. Gemeet oor ’n vyfjaartydperk, het Bitcoin se prys met meer as 1 980% sedert 1 Maart 2019 se vlak van R56 000 opgeskiet.

In dollarterme was Bitcoin se waarde Vrydagoggend 1 Maart net meer as $61 000 en binne reikwydte van sy geskiedkundige dollarhoogtepunt in November 2021. ’n Jaar gelede het dié kubergeldeenheid in dollarterme teen net meer as $23 000 verhandel. Dit verteenwoordig ’n jaar-op-jaar-styging van 160% en ’n styging van meer as 1 470% oor die afgelope vyf jaar.

Die rand het in November 2019 nog teen sowat R14 teen die Amerikaanse geldeenheid verhandel en sedertdien veld tot meer as R19 per dollar verloor – vandaar die reusestyging in Bitcoin se randwaarde.

Volgens Christo de Wit, die kriptoverhandelingsplatform Luno se Suid-Afrikaanse hoof, bevestig die devaluasie van die rand teenoor die Amerikaanse dollar oor die afgelope vyf jaar talle se sentiment dat Bitcoin ’n waardevolle beleggingsinstrument is.

“Bitcoin se markkapitalisasie – die totaal van alle uitgereikte Bitcoins – het onlangs die $1,2 biljoen-merk (trillion) verbygesteek en verskeie ontleders verwag voortgesette groei. Hernude beleggersvertroue is versterk deur die prestasie van Bitcoin-beursverhandelde fondse (ETF’s), wat meer as $34 miljard van beleggers gelok het sedert dit op 10 Januarie deur die Amerikaanse Sekuriteite-en-Verhandelingskommissie (Securities and Exchange Commission) goedgekeur is.

“Die invloei van institusionele geld via ETF’s is ’n bewys dat kriptogeldeenhede baie meer positief deur tradisionele beleggingsinstellings beskou word.”

Maroela Media het vroeër berig daar word verwag dat die sogenaamde BTC-halveringsgeleentheid in April vanjaar ’n noemenswaardige uitwerking op die prys van Bitcoin gaan hê. ’n Halveringsgebeurtenis verwys na ’n tydperk elke sowat vier jaar wanneer die vergoeding vir die ontginning (of myn) van Bitcoin gehalveer word.

Halvering het ’n laer aanbod tot gevolg met minder Bitcoin wat beskikbaar gestel word, wat weer tot hoër pryse lei. Dit keer dat ’n onbeperkte omloop van dié eenheid die waarde wegkalwe. Die eerste halvering het in November 2012 plaasgevind. Die volgende was in Julie 2016, en die mees onlangse een in Mei 2020.

Dié mynbeloning het by 50 BTC per blok begin toe Bitcoin in 2009 geskep is. Soos sake nou staan, ontvang diegene wat Bitcoin ontgin 6,25 Bitcoin, wat dus tot 3,125 in April kan daal. Daar sal uiteindelik slegs 21 miljoen Bitcoin in omloop wees. Byna 19,6 miljoen Bitcoin is reeds ontgin, wat beteken dat net 1,4 miljoen nog gemyn kan word.

“Die eerste halvering het prysstygings van meer as 8 000% meegebring. Bitcoin se waarde het ook met ongeveer 3 000% toegeneem met die tweede halveringsiklus in 2016. Die laaste halvering in 2020 is gevolg deur ’n bullopie wat geëindig het op ’n allemintige prys van byna $65 000,” sê De Wit.

Ontleders verwag dat die prys van Bitcoin in Maart deur die vlak van $69 000 kan breek. Ander voorspel dat die eenheid in 2025 ’n hoogtepunt van $140 000 kan bereik en teen 2030 so hoog soos tussen $300 000 en $350 000 kan verhandel.

Volgens Statista het nagenoeg 10,24 miljoen Suid-Afrikaners, oftewel 16,7% van die bevolking, tans kriptogeld in ’n digitale beursie. Dié getal sal na verwagting teen 2028 tot meer as 15 miljoen opskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.