Bitcoin onder bespreking by forensiese byeenkoms

Argieffoto (Foto: CoinDesk)

Die werking van die kriptogeldeenheid Bitcoin het Dinsdag ʼn lewendige bespreking uitgelok by die jaarvergadering van die Instituut vir Kommersiële Forensiese Praktisyns, wat in Midrand gehou is.

Farzam Ehsani, hoofamptenaar en medestigter van die platform VALR, wat ʼn groot voorstaander van Bitcoin as betaalmiddel is, het aangevoer dat dit noodwendig is dat monetêre waarde in ʼn digitale era ook digitaal bepaal sal word, soos beeste, skulpe, goud en geld dit vroeër was.

Hy het uitgewys dat die huidige gebruik van banknote nie vereis dat die toonder of betaler moet kan bewys hy is die regmatige eienaar daarvan nie, maar dit word universeel aanvaar. Hy het beklemtoon dat monetêre transaksies in Suid-Afrika tans gemiddeld sewe tussengangers vereis en dat dit tydrowend is – banke vereis dikwels ʼn spesifieke aantal werkdae om ʼn transaksie af te handel.

Tot in 2009 was daar geen digitale betaalmiddel sonder die tradisionele tussengangers nie, veral weens kommer oor sogenaamde dubbele besteding, naamlik dat mense digitale geldeenhede sou dupliseer weens gebrek aan regulering of tussengangers, en omdat daar nie ʼn fisieke oordrag van ʼn bate met skaarsheidswaarde was nie.

In 2009 het die Japannees Satoshi Nakamoto Bitcoin geskep – ʼn kriptobetaaleenheid wat deur ʼn netwerk van tussengangers gereguleer word, in ʼn blokketting wat elke tien minute opgedateer word.

Ehsani het toegegee dat dit vir hom moeilik is om die vereiste wisselwerking tussen openbare en private sleutels wat die pdeudonimiese stelsel ondervang, te versuidelik. Hy het vervolgens in gebreke gebly om dit te doen, wat kennelik ‘n groot deel van sy uitgelese gehoor forensiese praktisyns onbeindruk gelaat het.

Ehsani het wel uitgewys dat daar verskeie konsensusmeganismes in die Bitcoin-stelsel bestaan, waaronder ʼn tydstempel, bewys van werk gelewer, bewys van belange bekom ensovoort.

Hy moes egter toegee dat reguleerders wêreldwyd tans sukkel om Ponzi-skemas en ander bedrog met Bitcoin te beheer, en dat bedrog en ontwrigting van Bitcoin gereeld voorkom.

Dit was uit die reaksie van die gehoor duidelik dat die vergaderde forensiese kundiges ewe verdeeld oor die huidige stand en meriete van die gebruik van Bitcoin is as die res van die breër gemeenskap.

“Ek verstaan die konsep daaragter, maar ek verstaan nie hoe dit tans in die praktyk werk nie. Dis nie iets waarin ek my geld sal belê nie,” het een afgevaardigde opgemerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Ebersohn ·

Ek het so 6 maande terug Bitcoins gekoop maar agter gekom sy waarde verander by die minuut dit gaan oor vraag en aanbot baie selfde as efkte beurs jy moet omtrent op jou PC slaap het verkoop vir helfde van prys.

OWO ·

Die tegnologie agter bitcoin is verseker die tegnologie vir die toekoms, maar baie water sal eers in die see moet loop voor dit veilig gaan wees.Die huidige bitcoin-stelsel laat my baie dink aan die kubus debakel van die tagtigerjare.Geld wat tussen neus en ore verdwyn.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.