Bitter koue duur naweek voort

‘n Foto van sneeu, geneem op die Dalmally-plaas in die Oos-Kaap (Foto:Storm Report, Facebook)

Die koue weer wat die meeste dele van Suid-Afrika in ’n ysige greep het, sal na verwagting tot volgende week voortduur. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sal dit in veral die sentrale binneland selfs nóg kouer word, met minimum temperature wat na verwagting onder vriespunt sal daal.

Die eerste behoorlike sneeu vir die jaar het Maandagaand in die noordoostelike gebiede in die Oos-Kaap, die suidelike Drakensberg van KwaZulu-Natal en Lesotho uitgesak. Volgens Lehlohonolo Thobela, ʼn weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW), word sneeu die hele naweek vir dié gebiede voorspel.

Die weerdiens het gerugte op sosiale media dat ligte sneeu oor dele van Gauteng kan val, in die kiem gesmoor. Thobela sê die weerdiens het tot dusver geen verslae oor sneeu in Gauteng ontvang nie. “Ons kan wel bevestig dat daar ryp in dele van die provinsie geval het,” het Thobela aan Maroela Media bevestig.

Underberg in KwaZulu-Natal (Foto: Storm Report, Facebook)

Reën en donderbuie word ook langs die KwaZulu-Natalse kusgebied en aangrensende binneland voorspel.

Die weerdiens waarsku dat ryp Vrydag- en Saterdagoggend die noordelike dele van die Oos-Kaap kan tref. Swart ryp kan ook in die suidelike dele van die Vrystaat voorkom.

Thobela sê temperature sal van Vrydag af nog verder in veral die Noord-Kaap, Vrystaat en Oos-Kaap daal.

Volgens Thobela het temperature Vrydagoggend tot -6 ˚C in Bloemfontein in die Vrystaat gedaal, gevolg deur Fauresmith met -3 ˚C en Ficksburg met -1 ˚C. In die Noord-Kaap het Kimberley -2 ˚C, Sutherland -1 ˚C en De Aar -1 ˚C aangeteken. Vir Saterdagoggend word ’n minimum van -4 ˚C vir Ficksburg voorspel, gevolg deur Bethlehem met -2 ˚C.

Rustenburg in Noordwes en Ermelo in Mpumalanga sal na verwagting Saterdag ’n minimum temperatuur van -2 ˚C aanteken.

Inwoners van Ermelo in Mpumalanga kan Saterdagoggend ook ’n minimum temperatuur van -2 ˚C verwag. In die Oos-Kaap word ’n minimum temperatuur van -2 ˚C vir Cradock en -3 ˚C vir Barkly-Oos voorspel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Adri ·

Ryp val nie; dit kom voor. Dit is dou wat vries en dou val ook nie, dit kondenseer op die plante. Sal iemand die weervoorspeller reghelp, asseblief? Maar dat dit koud is, daarmee is hy in die kol.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.