Bitter twis tussen POF, prokureurs duur voort

(Argieffoto)

Die stryd tussen die paneel prokureurs wat die Padongelukkefonds (POF) verteenwoordig en die waarnemende uitvoerende hoof van die instelling, Collins Letsoalo, duur voort.

Letsoalo het die afgelope week weer gesê die POF het sy primêre mandaat, om eise te skik en te ondersoek, nagelaat en pleks daarvan gefokus op regsgedinge wat die fonds volgens hom miljarde rande kos.

Letsoale het Maandag meer inligting bekend gemaak oor die fonds se beoogde nuwe bedryfsmodel. EWN berig Letsoalo het ʼn verlies aan inkomste van R15 miljard vir hierdie boekjaar voorspel en die fonds is reeds sowat R17 miljard in die rooi. Die POF is naas Eskom die regering se grootste las.

Letsoalo sê die POF wend hom in sowat 90% van alle sake tot die hof en dat regskoste toegeneem het van sowat R940 miljoen in 2008 tot R10,6 miljard vanjaar. Hy wil ingevolge die nuwe bedryfsmodel dié koste bespaar en fokus op die afhandeling van eise binne 120 dae, pleks van die jare wat dit soms in die howe duur.

Sommige prokureurs sê egter Letsoalo bou lugkastele as hy dink dit kan sonder die hulp van ʼn kundige paneel gedoen word. Die POF is steeds in ʼn bittere stryd gewikkel met die prokureurspaneel wat hom in sake verteenwoordig en die fonds probeer nou al geruime tyd om hul dienste op te skort.

Die saak het in die Pretoriase hooggeregshof gedraai waar regter Wendy Hughes in Junie beslis het die prokureurs moet minstens ses maande nog voortgaan om op die POF se paneel van prokureurs te dien terwyl die fonds sy sake in orde kry. Hughes het ook gesê die POF se optrede is besig om ʼn grondwetlike krisis te skep.

Volgens haar voer die POF aan die een kant aan dat hy nie die dienste van die paneel prokureurs benodig nie, maar wil hy terselfdertyd nuwe prokureurs raadpleeg wat dieselfde diens sal lewer as wat die bestaande paneel prokureurs reeds doen.  “Daar is geen logika aan die stelsel nie.”

Volgens die regter verhoed niks die POF om sy voorgestelde plan in werking te stel nie, mits dit regmatig gedoen word.

Johann Hamman, ʼn prokureur van Louis Trichardt wat deel van die prokureurspaneel vorm, sê die paneel se doel is om te verseker dat die belastingbetaler nie ʼn sent meer betaal vir ʼn eis as wat hy moet nie – en dat regsverteenwoordigers eise wat ingedien word gemiddeld met tot 77% verminder.

Hamman sê in die laaste sowat 200 sake waarin hy vir die POF opgetree het, het die onderskeie eisers se gesamentlike eis teen die fonds R503 miljoen beloop. Die uiteindelike skikking was egter R154 miljoen, ʼn besparing van R449 miljoen vir die POF.

“Daar is nie ʼn meer kostedoeltreffende manier nie,” het Hamman gesê.

Hamman sê die regering het vantevore al aangedui dat hy wil wegbeweeg van ʼn litigasiemodel na ʼn skikkingsmodel. Hy sê egter Letsoalo se stelling dat sake binne 120 dae geskik gaan word, gaan allermins gebeur.

Hy sê deskundiges se menings word ingewin en ʼn verslag word daaroor saamgestel. Die kundiges sluit kenners soos dokters, sielkundiges, arbeidsterapeute en aktuarisse in en op grond van ál hul insette en die aanbevelings van die regspan, bied die POF ʼn skikkingsbedrag aan ʼn eiser aan. Die bedrag is gewoonlik veel laer as waarvoor oorspronklik gevra is, wat tot groot besparings vir die fonds lei.

Wanneer hierdie proses nie gevolg word nie omdat niemand die POF in ʼn hofgeding verteenwoordig nie, het die hof dikwels geen ander keuse nie as om die reuse-eis toe te staan.

Hamman sê prokureurs tree boonop teen verminderde koste vir die POF op.

Volgens hom het Letsoalo die afgelope week boonop beweer dat hy die prokureurspaneel “afgedank” het. Dít ten spyte van die hofbevel dat hulle minstens ses maande lank hul werk moet voortsit. Hamman sê Letsoalo minag die hofbevel en eise teen hom kan volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stofdonkie ·

Dit maak wel vir my sin wat hulle wil bereik. Dit help nie die prokureurs bespaar die fonds R449miljoen en dan vra hulle meer vir hulle fooie as wat hulle die fonds bespraar nie. Dis dan effektiewelik nie ‘n besparing vir die fonds nie. Ek sou net eerder dink hulle moet die prokureurs wat vir hulle optree in die paneel se vergoeding beter onderhandel. Laat hulle dan ‘n persentasie van die besparing kry in plaas van belaglike fooie. Ek neem aan BEE speel weer ‘n groot rol hier en dat die stelsel deur sekere prokureurs uitgebuit word. Dit sal tog nie sin maak dat die fond die prokureur R1mijoen moet betaal om ‘n eis teen te staan en uiteindelik die eis net met R200,000 te verminder nie, dan kon hulle eerder uit die staanspoor die eies betaal het en sodoende geld gespaar het.

Pieter ·

Als wat die ANC komuniste aan vat verander in n groot gemors hulle sal en kan nooit n land best nie

Pampoen ·

Klink my die prokureurs melk die fonds droog. Fire die lot!

marius ·

Wat kry die slagoffers na die sake afgehandel is ? Twee liter koeldrank en ‘n brood . Dis die waarheid .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.