Bittere twis oor geld vir Marno woed voort

Helga Muller. (Foto: Verskaf)

Die beskermingsbevel wat Helga Muller vroeër teen haar suster, Nadia Minnie, bekom het, is Vrydag in die Brakpan-landdroshof verleng. Die bevel verbied na verneem word albei vroue om bewerings oor mekaar op openbare platforms te maak. Dit verbied Minnie ook om haar suster “verbaal en emosioneel te misbruik”.

ʼn Herrie woed nadat Minnie vroeër aangevoer het dat van die geld wat weldoeners vir Muller se seuntjie Marno geskenk het, glo wanbestee is.

Die vyfjarige Marno was byna ʼn maand lank in die hospitaal nadat die toutjies van sy baadjie aan die glyplank by sy kleuterskool vasgehaak en die baadjie hom gewurg het. Dokters het aanvanklik gewaarsku dat Marno dalk breinskade sal hê, maar hy het merkwaardig herstel.

Die gebeure het mense aangegryp en talle weldoeners het ingespring en geld geskenk om vir Marno se versorging en rehabilitasie te help betaal. Muller se beweerde wanbesteding van die geld wat weldoeners geskenk het, het haar nou egter die gramskap van baie mense op die hals gehaal.

Sy het Mike Bolhuis se span by Specialised Security Services gevra om die bewerings te ondersoek en só haar onskuld te bewys. Spesialisondersoeker Odette van Staden het egter bevind dit was “dadelik duidelik dat Helga Muller nie die geld gebruik het vir dít waarvoor dit bedoel was nie”.

Ondersoekers het op 14 Julie met Muller vergader en sy was veronderstel om onder meer ʼn volledige rekonsiliasiestaat van al die geld wat sy ontvang het – en dit wat reeds bestee is – te verskaf. Sy moes ook alle administratiewe dokumente voorlê.

Van Staden sê dit is nie gedoen nie en al wat die span gekry het, was ʼn bankstaat vir Junie en ʼn “paar kwitansies”. “Die bewyse van betaling was min en onvoldoende.”

Die ondersoekspan het ook gevra vir Marno se volledige mediese rekords van voor en ná die voorval en bankstate van drie rekeninge waarin geld glo inbetaal is. Hulle het vasgestel dat R42 000 tussen 19 Junie en 14 Julie bestee is, maar met geen aanduiding van waarop nie. Daar was ook geen dokumentasie daarvoor nie. “Ons het feitelike bewyse dat sommige skenkings wanbestee is,” lui die ondersoekspan se bevindings voorts.

Die ondersoek het ook bevind:

  • R38 000 is aan meubels bestee.
  • R25 000 is bestee aan ʼn motorfiets en onderdele daarvoor, vir Muller se verloofde.
  • Muller het verskeie skenkings ontvang, waaronder twee enkelbeddens met beddegoed vir die kinders.
  • Betalings is in ʼn private bankrekening gedoen.

Luidens die verslag het Muller erken dat sommige hiervan wel die geval is, maar sy het dit probeer verduidelik deur aan te voer dat “alle aankope in die beste belang van die kind gedoen is”.

Marno Muller (5) by sy ma, Helga. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Die ondersoekspan het ook bevind: “Mev. Muller het die voorval by die skool gebruik om lede van die publiek se simpatie te wen en persoonlik te baat deur haar kind en die vrygewigheid van mense te misbruik.”

Volgens die ondersoekspan lyk dit of Marno gesond is en of daar geen newe-effekte ná die voorval agtergebly het nie. Outisme is voor die voorval al by Marno gediagnoseer.

“Marno Muller lyk of hy goed vaar en gesond is. Daar is geen mediese briewe of aanbevelings wat mev. Muller kan voorsien, wat bykomende terapie of toetse noodsaak nie.”

Van Staden sê Muller het boonop nie haar volle en volledige samewerking aan die ondersoek gegee nie.

Een van die bewerings wat die afgelope ruk teen Muller gemaak is, is dat sy in ʼn onderhoud aangevoer het Marno dra doeke en moet weer leer loop, terwyl ʼn video van die seuntjie in ʼn restaurant wys hoe hy normaal baljaar.

Die skarefinansieringsinisiatief wat op die been gebring is om geld vir Marno se behandeling in te samel, is glo op R89 000 afgesluit.

Minnie het by navraag gesê weens die hofbevel kan sy nie kommentaar lewer nie. Die bevel teen haar is tot September verleng, wanneer sy die hof sal vra dat dit opgehef word.

Ook Muller wou weens die regstappe nie veel kommentaar lewer nie. Sy het bevestig dat die bevel verleng is en het positief geklink te midde van die herrie wat die afgelope ruk gewoed het.

Volgens haar gaan dit in hierdie stadium fisiek goed met Marno, hoewel hy emosioneel nog baie sukkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

59 Kommentare

chantelle ·

goeie genade.

liewe mama, ek verstaan julle is deur n moeilike tyd maar die geldjies kon baie beter bestee word deur dit aan ander kindertjies te skenk wat dit nodig het!
hoe gaan marno baat by n motorfiets?
of nuwe meubels? EK SAK MY KOP IN SKAAMTE

miavos ·

Haar lewensmaat het haar deur dik en dun ondersteun in daardie moeilike tyd. Hy het dalk die motorfiets broodnodig. Hulle is nie ryk mense nie. Die meubels is dalk broodnodig – moet hulle op die vloer sit? Daar’s NIKS so AAKLIG as ñ jaloerse suster nie.

Snuffelgids ·

Ons is redelik gemaklik finansiel, en jy gaan sukkel om meubels van R38k te kry by ons. Sy moes maar net die nodige doen, en dink aan die dag van more. Volgende jaar moet ons almal weer help met skoolklere en skryfbehoeftes. Mens dink immers vooruit, wel van ons

Groen-oog ·

Reggggggtig. Val jy vir daai stok ou trick uit Oom Noag se ark??? Syt n flat in Brakpan gehad. Sys geskei ens. Syt seker n wasmasjien microgolf en sitkamerstel gehad. Syt n nuwe flat diekant gesoek wat die q organisasie gehuur en vir n JAAR vooruit betaal het. N kar gekry VERNIET wat sy nie wou he nie want hys te groot. Nee nee dink weer almal kan nie verkeerd wees nie.

Alma ·

En nou is hulle uitmekaar. Daar is ander siek kindertjies wat skenkings ook broodnodig het, hulle lewens hang daarvan af.

Danie ·

Dankie Helga Muller. Dit is mense soos jy met jou selfsug en gierigheid wat veroorsaak dat daar geen vertroue is in die samelewing. Daar is ander mense/kinders wat ook die publiek se hulp nodig het maar word dit ontneem as gevolg van jou dade.

annie ·

Nee wat mense, haar eie suster? Duidelik was Helga nie welaf nie en dit is op tv gebeeldsend. Sy sou seker graag nie so skaam wou voel nie en het menslik opgetree. Familie-jaloesie is ‘n lelike ding. Plaas dat die familie saam bly is oor die Genade vir haar seuntjie. Nou moet sy speurders betaal om haar te help. Lelik, lelik!

Maritza ·

Ek dink jy is confused annie. Familie Jaloesie? Dis goed dat Helga se suster mense bewus gemaak het hoe Helga haar eie seuntjie se besering gebruik het om haarself te bevoordeel. Sy behoort haar te skaam!!! Plaas sy daai geld wat oor gebly het bele het vir Marno se studies

piet ·

Wat van die goedhartige mense se geld wat nou op verloofde se motorfiets gemors is, daai geld kon iemand anders se lewe gered het?

annie ·

Vaderland, maar ons Afrikaners probeer so hoogheilig wees. As jy aan iemand geld geskenk het, is dit hare/syne. Die familie kon dit vete stil besleg het. Jaloesie is duidelik aanwesig. Nou moet die hele wêreld die arme vrou aanval. Wat van ‘n brandstapel?

Sokrates ·

Dit klink nou se dae asof elke derde of vierde kind op die “Outisme” spektrum lê….. is dit nou “die nuwe normaal”? Amper soos “Bipolêr” by tieners en jongmense….?

Zoey ·

Duidelik weet jy nie wat is Bipolere Gemoedsindroom nie. Ek is 49 en “Bipolêr” en raai wat, my dogter van 21 het dit ook. Dit kan geneties voorkom. Dis nie ‘n “ding” waaragter mense skuil nie, maar ‘n werklike Gestremheid. Wat hier gedoen is, is nie reg nie, maar moenie ander mense met werklike geestestoestande oor dieselfde kam skeer nie. Julle weet niks.

siegfried ·

Stem saam jou Zoey. wat sy gedoen het is verkeert maar sokrates het geen Idee waarvan sy praat as dit by bipolar kom nie. ek het self bipolar en dis n aaklige siekte om te he. wens dit nie eers vir my vyande toe nie. sterkte daar!!

Sobymykoolkop ·

Hierdie tipe maak net dat die volgende persoon wat die publiek se hulp nodig het nie gehelp gaan word nie omdat mense al meer skugter raak om te help omdat daai byna altyd wanbestuur plaasvind

Antoinette ·

wat is fout met die familie? Mamma het die geld nie gebruik vir die doel wat dit
aan haar verskaf is nie. Dit is sulke dinge wat maak dat daar geen geld vanaf die publiek
vir n ander kindjie gegee sal word nie wat dit werklik nodig sal he nie.

Martha ·

Hoe doen mens so uets. As sy nog vir die kind gekoop het was dit n ander saak. Maar hoe help n motorfiets vir die boyfriend haar kind

Zandra ·

Ek voel regtig baie jammer vir mense wat bv nie n medies het as n ongeluk gebeur, of wat hoë mediese onkostes het wat hulle nie kan delg nie….maar dis dinge soos die wat my waaksaam maak om te skenk. N mens hoor baie van familie wat veronderstel is om die fondse te bestuur..wat dit dan wanbestee

Kokerboom ·

Dis om van naar te word! Skaam julle!!!!!Sulke gierigheid gaan skarebefondsing in die kiem smoor en die wat dit nodig het gaan daaronder ly!!

Frank John ·

Outidme? Lyk my die mediesie het iets uitgevind nou word tot groot mense daarmee gedeagnoseer

Daleen ·

Is daar ‘n mediese term vir groot mense wat nie kan spel nie? Hoekom kan groot mense nie met outisme gediagnoseer word nie Frank John?

honeybee ·

Dis sulke mense wat maak dat mens nie meer geld wil skenk nie.

Hannelie ·

“What goes around, comes around”.
Om “skelm” te wees, en jou kind gebruik om geld en simpatie te kry, is baie baie laag en gemeen.
Sy behoort haar te skaam!!!

Hannelie ·

Wat bedoel jy Renier? sommige mense bly nie aan die anderkant nie van die treinspoor nie en hul is beter?

antieke antie ·

laat my baie dink aan ander gevalle ook waar geld ingestroom het en nou luukse lewe met oor begin ‘vir die kind’ gebruik was …. en hierdie mamma het gedink almal is stupid … alles kan deesdae uitgevind word…. maar hoekom soveel verkillende rekeninge… om die kerel happy te koop en mamma te vergoed vir wat sy as ma elke geval voor moes sorg?

Saartjievandiebosveld ·

Ek kyk so na die situasie…dit wil voorkom dat die mense dit nie Baie breed het nie…skielik is daar Baie geld…wat doen jy…jy koop dit wat jy nie kon bekostig nie…”human nature.”
Ek sê ook nie dat dit reg is nie….

JohanR ·

Ek het al baie gewonder soos ek geld in ‘n rekening sit om te hulp met ‘n hulp kreet, of die geld eintlik op eindig by die regte plek of persoon, en of iemand miskien ‘n week in Mauritaus gaan geniet?

Di ·

Sjoe dis eintlik hartseer! Dis hierdie tipe gedrag wat veroorsaak dan mense 2 keer sal dink om weer vir verdere gevalle skenkings te doen. Sy sal moet verduidelik en eerder met die waarheid vorendag kom aangaande hierdie aantuigings. Sy is dit verskuldig aan almal wat geld geskenk het hiervoor.

Roebs ·

R25 000 is bestee aan ʼn motorfiets en onderdele daarvoor, vir Muller se verloofde. Ag nee julle regtig, hoe kan julle dit doen as die geld vir jou kind was en sy gesondheid…. My hart is seer om te dink volgende keer as iemand hulp soek gaan mense 2 keer dink voor hulle gaan help. Ek weet nie meer waar ons mensdom oppad is nie,

Waarnemer ·

Ja nee….hoe meer dae hoe meer dinge…..onderdele vir boyfriend se motorfiets….seker om klein Marno rond te ry hospitaal toe agterop die motorfiets.

Ria ·

Dit sal maak dat mense wat wil help, hulle beursies nou gsan toehou.

Chantel ·

Hierdie maak dat ek NOOIT WEER enige iemand sal help nie!!!! Swak styl

SwartBees ·

Dit is net plein weg sad. Ek het nie woorde nie.

let wel, Die Here slaap nie.

Oe la la ·

Ja neh… Van die begin af geweet die vrou se hulp kreet na geld is aan geplak! En hoe sy smeek vir gebed met n vloek woord! My heel te mal afgesit van die hartseer storie.. Maak mens wonder of haar seun regtig so kritiek en eristig in die hospitaal was? of het sy die pap dik aangemaak sodat ons nog meer sou help en sleg voel?

Alma ·

Dit was hulle plan om dit so lank as moontlik uit te rek. Hulle was baie vies toe die video uitkom waar die seuntjie heel gemaklik stap, want sy het vertel hy moet alles van voor af leer doen (natuurlik met die publiek se fondse).

pestilensie ·

Liewe aarde, mense , dis nie asof dit die wereld se geld is nie Bolhuis vra seker amper soveel vir die ondersoek. Wonder of haar suster ooit bygedra het tot die mediese kostes

Alma ·

Dis dalk net die bedrag wat n ander siek kindjie nodig gehad het om sy lewe te red, maar gelukkig kan hulle darem nou sit.

Louise ·

Ai dis so hartseer, as sy die geld dalk vir die kind op ande maniere gebruik het kon ek verstaan. Maar nie vir die verloofde nie. So bly klein Marno is gesond.

Jack ·

Hoe onsensitief kan n ma wees wat dit doen. Dit laat my dadelik dink aan die gestelery met die covid fondse. Ek het nie woorde vir die mens nie.

Veronika ·

En dit is die rede hoekom ek nie geld gee vir dit nie!! As ek dit by die hospitaal kan inbetaal ja maar privaat nee! Hier by ons jare gelede het almal ook vir n kollega fonds gestig en geld ingevorder toe sy jong seun sy been agv kanker verloor het. Volgende toe ry mnr n splinternuwe luukse motor na hy altyd net soos die res ons n gewone “skedonk” gery het en net daar het ek besluit ek sal dit nooit weer doen nie, hy het elk geval n goeie medies gehad!

Sarel ·

Dit is Tragies en natuurlik nou ‘n groot plesier vir gebruikers van Sosiale Media om rotse te gooi en ‘n persoon klaar skuldig gevind het. I vorige geval was die Moeder na mnde onskulfig bevind maar nidmand sou agterna verskoning vra nie.
Wat laat julle hoog heilige mense so lekker kry om ‘n persoon wat reeds lê nog te skop ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.