Bizos het vrou glo ‘teen boekrak gegooi’

Monique van Oosterhout (Foto: Verskaf deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid)

Monique van Oosterhout het Woensdag haar getuienis in die Johannesburgse landdroshof voortgesit waar sy beskryf het hoe haar vervreemde man, Alexis Bizos, haar glo in die gesig geslaan, rondgestamp, teen ʼn boekrak gegooi en in die bors geslaan het. Van Oosterhout het destyds ses ribbes in die beweerde aanranding gebreek.

Die saak teen Bizos, seun van die gerespekteerde menseregteprokureur adv. George Bizos, word deur AfriForum se privaatvervolgingseenheid gedryf.

Maroela Media het vroeër berig dat Bizos na bewering Van Oosterhout in 2015 aangerand en ses van haar ribbes gebreek het. Die verhoor begin eindelik nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) versuim het om hom te vervolg.

Hy staan nou tereg op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Tydens haar hoofgetuienis, gelei deur adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het Van Oosterhout aan die hof vertel dat sy die aand van 16 Maart 2015, ná ’n woordewisseling met Bizos, hom in sy studeerkamer genader het.

Sy voer aan dat die beskuldigde haar met die vuis in die gesig geslaan het nadat sy vlugtig met hom gepraat het.

“Ek het op die grond geval en was gedisoriënteerd. Ek het swaar gevoel asof ek op die grond vasgegom was en nie kon opstaan nie,” het Van Oosterhout aan die hof gesê.

Sy het verder beweer die aanval het voortgeduur tot op die punt dat Bizos haar teen die boekrak gestamp het, wat tot verskeie frakture gelei het wat later in ’n RTT-skandering geïdentifiseer is. Die klaer het aan die hof gesê dat sy hierdie kwessie met Bizos se familie probeer opper het, maar geïgnoreer is.

“Sewe jaar ná die voorval is ek verlig dat ek uiteindelik die geleentheid gekry het om my storie aan die hof te vertel.

“Ek wil AfriForum se privaatvervolgingseenheid bedank dat hulle my ondersteun en verseker het dat hierdie aangeleentheid op die rol geplaas is,” het Van Oosterhout ter afsluiting van haar getuienis gesê.

Bizos het onskuldig gepleit met verwysing na selfverdediging en gesê dat Van Oosterhout die aggressor was – ’n aantyging wat sy ontken. Tydens kruisondervraging het die advokaat ’n weergawe aangebied wat strydig met die klaer s’n was, maar sy het aan die hof gesê dit is heeltemal versin.

“Hierdie is nog ’n saak van geslagsgebaseerde geweld waarop die privaatvervolgingseenheid fokus weens die mislukking van die strafregstelsel om vroue en kinders te beskerm,” het Barry Bateman, woordvoerder vir die eenheid, Woensdag gesê.

“Die eenheid sal daarop gefokus bly om sulke ongeregtighede aan te spreek en aanhou om slagoffers van misdaad te ondersteun.”

Die saak is tot Januarie 2023 uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

My siening ·

Looi hom nog n kader wat saam met pappie gesê het hou wreed apparheid was maar daar is meer geweld en veral by ANC in die land. Ek vra hoe versoen mens met wat die kaders doen en dis die ANC se helde!

Dries ·

Waarom die lank uitstel, tot Jan 23? Ek wil graag die saak oorleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.