Bizos se seun eindelik vervolg ná ‘gesinsgeweld’

Van links: Kallie Kriel, adv. Gerrie Nel en Monique van Oosterhout maak die NVG se besluit bekend om Alexi Bizos wel te vervolg. Foto: Verskaf

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is verheug dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) ná ʼn jare lange stryd besluit het om tog die seun van die gesiene menseregteadvokaat George Bizos te vervolg.

Alexi Bizos het na bewering ses van sy vrou se ribbes gebreek toe hy haar glo op 16 Maart 2015 die soveelste keer aangerand het. Dit was die keerpunt vir Monique van Oosterhout, maar haar pogings om haar man te laat vervolg, was aanvanklik alles vergeefs.

Nel het Woensdag op ʼn nuuskonferensie in Centurion gesê die NVG wou Bizos jr. nie vervolg nie omdat Van Oosterhout die enigste getuie was, asook omdat haar man beweer het sy het hom óók aangerand en die mediese verslae mekaar weerspreek het.

Nadat Van Oosterhout die NVG keer op keer sonder welslae gevra het om haar man te vervolg, het sy eindelik op 24 Oktober 2017 by AfriForum om hulp aangeklop.

Van Oosterhout sê sy het geen steun gekry in haar stryd om haar man te laat vervolg nie. Foto: Verskaf

Hul volgehoue pogings om die NVG van plan te laat verander, het meer as ʼn jaar later eindelik vrugte afgewerp toe hulle die afgelope week kennis gekry het dat Bizos jr. wel vervolg sal word vir aanranding met die doel om ernstig te beseer. Geen redes is vir die ommeswaai verstrek nie, het Nel gesê.

“Ons is natuurlik besonder gelukkig met die NVG se besluit,” het Nel gesê, en bygevoeg hulle sal Van Oosterhout nie nou in die steek laat nie. “Ons sal Monique aanhou bystaan, want ons ondersteun al die mense enduit wat sterk genoeg is om op te staan vir geregtigheid.”

Van Oosterhout het gesê dit was ʼn moeisame proses om reg te laat geskied nadat sy na bewering so lank in haar eie huis aangerand is. “Dit het jare van volgehoue pogings geverg om dié punt bereik. As dit nie vir adv. Nel en AfriForum was nie, sou Alexi Bizos nooit vervolg gewees het vir iets wat met die jare herhaaldelik gebeur het nie.”

As jy weet so iets gebeur en jy bly stil, is jy medepligtig.

Van Oosterhout het gesê haar boodskap aan vroue is om saam te staan en te volhard. In haar geval het mense om haar geweet wat aangaan, maar niemand wou haar help nie. “Ek het baie mense om hulp gevra toe ek amper vermoor is en geen hulp gekry nie.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê hulle wil deur hul optrede wys vroue hoef nie mishandeling te verduur nie. “Vroue moet dit nie los nie,” het hy gesê, maar ook mense wat van sulke gevalle weet, maar niks daaromtrent doen nie, gewaarsku: “As jy weet so iets gebeur en jy bly stil, is jy medepligtig.”

Hy het gesê wat dit in Van Oosterhout se geval nog erger maak, is dat haar skoonpa bekend is as “ʼn groot voorstander van menseregte”. Hy het beweer Bizos sr. het van die aanranding op sy skoondogter geweet, maar “hy het dit eenvoudig onder die mat ingevee”, nes almal in haar vriende- en familiekring wat geweier het om haar te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Elvira ·

Dankie AfriForum en NVG. Bly dat jou stem uiteindelik gehoor word, Monique. Hou jou kop hoog.

Christien vd Westhuizen ·

Bly ek is lid van afri forum sien nou resultate looi hulle

Rentia ·

Alle mans wat n vrou en/of kinders mishandel moet verpligte tronkstraf kry. Dit moet nie eers onderhandelbaar wees nie. Vroue en kinders kan hulle nie fisiek teen n man verdedig nie.

waarheid ·

Hoop hy kry tronkstraf – verdien dit deur en deur – ook die ander familie-lede wat doodstil gebly het en niks gedoen het om te help nie.
Wat se tipe mense is dit?
Jip hou jou kop hoog dame, – ek het respek vir jou.

veronreg ·

ek hoor aanhoudend van mans wat vroue en kinders mishandel maar selde of ooit andersom nie. ek was vir jare sielkundig deur n vrou afgetakel en besluit om te skei. mans is ongelukkig te trots om navore te kom want ons is mos mans. ek hoop die dag breek aan dat mans ook navore sal kom. baie mans rand hul vroue aan omdat hulle daartoe gedryf word, maar ek vra die mans om liewer n ander uitweg dan geweld te gebruik. geweld sal NIE help nie en die kans dat jou vrou sal verander is minder as nul. Jammer vroue. ek het respek vir julle maar daar is vroue vir wie ek nie respek het nie en ek bly van hulle baie baie ver weg

Alta Smit ·

Knap gedaan. Ek self het beskermsbevel gekry- direk Na die Eerste aanranding. Nooit my toegeswelde oog agter sonbril weggesteek Nie, was Nie my skaamte om weg te steek Nie. Ontbloot hul- is Al manier hoe hul ooit ophou. Sterkte Monique

beskerm ·

kan jy glo. ek as man het n beskermingsbevel teen my gewese vrou gekry.

jaco ·

So die ANC vervolg die ANC. Vreemd. iets maak nie sin nie. dit kan in n administratiewe proses van n week afgehandel/toegesmeer word.

Mariaan ·

Nie almal kan Gerrie Nel bekostig nie. My gewese man het my geslaan, ons kind so aangerand dat sy gestermd is. Polisie beskerm hom want hy werk vd polisie, geen onderhoud. As ek onderhoud geeis het , het hy polisie uitgestuur om my inhegtenis te neem en gedreig om ons kind weg te neem van my af. Daar gaan weke om dat ek nie kans het om na myself om te sien nie. Geen ondersteuningstelsel ook geen hulp van ‘n kerk nie. As Gerrie net my ook kan help om die miljoen rand wat ek op my kind moes spandeer kon eis, sou dit my ryker laat wees het, want ek is met ‘n ongeneeslike siekte gediagnoseer. Wat gaan van my kind word?

PJC ·

Ek hoop hierdie Bizos kry wat hy vrdien. Dit is regtig sleg as ń vrou nie familie of vriende het wat bereid is om op te staan vir haar nie. Die geval van Mariaan hierbo bewys ook dat dit nodig is dat privaat vervolgings gedoen moet word. Baie polisiemanne dink mos hulle is onaantasbaar daarom het publiek so ń groot wantroue in die mag.

Johan H. ·

Gatvol !!!ek stem saam,,,Advokaat gmff!!!! maar draaie n blinde oog vir sy eie seuntjie se mislukking,,,Trap hom ook!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.