‘Blade moet eerder bedank ná NSF-skandaal’

Blade Nzimande, minister van hoër onderwys (30 Junie 2021) (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die Demokratiese Alliansie doen ʼn beroep op die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, om die naskoolse onderrigbedryf ʼn guns te doen en te bedank. Die party meen Suid-Afrika verdien ʼn bekwame minister.

Dit volg ná die Nexus- forensiese verslag oor die nasionale vaardigheidsfonds (NSF) se uitgawe van R2,5 miljard vir vaardigheidsontwikkeling uiteindelik aan die parlementêre portefeuljekomitee voorgelê is.

Chantel King, die DA se skaduminister oor hoër onderwys, sê minister Nzimande het uit vorige ouditverslae deur die ouditeur-generaal van Suid-Afrika geweet dat die NSF vrywaringskennisgewings ontvang het. “Tog het hy en sy departement absoluut niks gedoen totdat die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) hom gedwing het om ondersoek in te stel na dié reusagtige onreëlmatige uitgawe nie.”

Die 10 NSF-gefinansierde projekte wat Nexus ondersoek het, is oënskynlik net die oortjies van die seekoei. Die forensiese verslag het die volgende uitgelig:

  • Bankrekeninge is deur diensverskaffers as ʼn front oopgemaak. Sodra die NSF-fondse oorbetaal is, is dit onmiddellik na ʼn ander bankrekening oorbetaal.
  • Die NSF kon nie rekenskap gee of derdeparty-uitgawes verifieer nie weens onvoltooide dokumente en onverwante fakture wat nie met die betrokke projekte ooreenstem nie.
  • NSF-beamptes het versuim om prosedures vir wigte en teenwigte in te stel.
  • Daar was ʼn gebrek aan aanspreeklikheid en gevolgebestuur.
  • Daar was ʼn konflik van belange en kruisbestuiwing van maatskappye en direkteure wat aangestel is om met mekaar sake te doen.

“Dit was weens die NSF se onbekwaamheid en gebrek aan projek- en gevolgebestuur dat ʼn toksiese stelsel van bedrog en korrupsie kon floreer. Die DA verwelkom verdere ondersoek deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE), die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke), die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die staatsprokureur, maar minister Nzimande het aan die begin die keuse gehad om ʼn ondersoek deur die SOE te versoek. Tog het hy gekies om eerder vir ʼn privaat ondersoek te betaal. Dit het nou tot ʼn dubbele uitgawe gelei vir dieselfde ondersoek.”

King sê die DA is ook besorg oor die trae vordering wat gemaak word om wetgewing te wysig om ʼn NSF-raad te oorweeg. “Dit plaas die huidige direkteur-generaal, dr. Nkosinathi Sishi, in ʼn moeilike situasie waar hy skeidsregter en speler moet wees, omdat hy die rekenkundige beampte van die NSF is.”

King meen dit is duidelik dat daar ʼn sentrale ruimte moet wees vir die finansiering van studente sodat alle staatsfinansiering vir opleiding en vaardigheidsontwikkeling geadministreer kan word. “Dit sal verseker dat alle aansoekers ʼn regverdige hap van die appel kry en sommige nie onreëlmatig voordeel kan trek uit dubbele finansiering nie. Almal wat verantwoordelik is vir die growwe wanbestuur van die NSF en die verkwisting van R2,5 miljard moet aanspreeklik gehou word. Die DA sal ʼn ogie hou om seker te maak dit gebeur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hennie J ·

Natuurlik moes hy (onder normale omstandighede) al lankal n skop onder die boom gekry het, maar hy is n sprekende voorbeeld,soos vele ander,van die “sukses” en gevolg van kaderontplooiing.Cereal klou aan hom vas net om die kommies, met hulle zero invloed, tevrede te stel.

Aggie ·

En so is daar net eenvoudig geen staatsdepartement van die anc wat sonder korrupsie is nie. Hoe sal ons hierdie hoë berg oor klim ? Sal ons ooit by ‘n punt kom waar korrupsie se rug gebreek is ? Op die keper beskou is dit net teoreties moontlik !

Nie Verbaas ·

Niks sal met hom gebeur nie. Dit is mos altyd iemand anders se skuld met die lafhartige kaders.

JohanR ·

Het ons al ooit in 28 jaar ‘n minister gehad wat uit sy eie bedank het? Vir ‘n supposed kommunis lewe hy te lekker. Stalin would be proud of you.

Papsak ·

HULLE ALMAL N SKANDE VIR SA REGTIG HOLE LOT ALMAL MOET GESLUIT WORD

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.