BLF maak kapsie teen verkiesingsdeposito

Andile Mngxitama, leier van Black First Land First (BLF). Foto: Jonisayi Maromo / ANA

Black First Land First (BLF), wat hom beskryf as ʼn Pan-Afrikanis en rewolusionêre sosiale politieke party, het Dinsdag beswaar aangeteken teen die deposito wat vereis word voor partye aan verkiesings in Suid-Afrika kan deelneem.

Die BLF is een van verskeie organisasies wat LP’s toegespreek het oor die Wetsontwerp op Politieke Partyfinansiering wat deur ʼn ad hoc-komitee in die parlement hanteer word. Politieke partye moet R605 000 betaal om aan verkiesings in die land deel te neem – R45 000 per provinsie en R200 000 vir die nasionale wetgewer.

Lindsay Maasdorp, die BLF se woordvoerder, het gesê die organisasie meen die voorskrifte in die Verkiesingswet moet herroep word. “Ons stel voor dat elke politieke party wat graag aan die verkiesing wil deelneem, minstens 50 000 handtekeninge moet hê om te bewys hulle het die kapasiteit om stemme te werf en om te verseker hulle kan deelneem en het ondersteuning onder die meerderheid van die mense in hierdie land.”

Maasdorp het gesê die handtekeninge verseker dat partye, indien hulle die R605 000 betaal, ook kan bewys hul party het ondersteuning. Hy het egter gesê die BLF verwerp die deposito omdat dit “onregverdig en onredelik is” teenoor nuwe partye wat aan die verkiesing wil deelneem.

“Elke landsburger is geregtig daarop om politieke keuses te maak. Hoe handhaaf ons hierdie vryheid as ons sê jy moet R600 000 betaal om aan die verkiesingstelsel deel te neem, wanneer ons weet sommige mense kan daardie geld kry sonder om ʼn vinger te verroer?” het hy gesê.

Themba Godi, LP van die African People Convention’s (APC) wat ook ʼn lid van die ad hoc-komitee is, het saamgestem dat die deposito “ʼn beperking plaas”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Danie ·

Hulle wil nie die deposito betaal nie. Maar hulle gaan verseker nie ‘n verminderde subsidie aanvaar sou hulle tydens die verkiesing goed vaar nie. Dan gaan aanspraak maak op die volle subsidie en nie ‘n sent minder nie.

Nee wat ·

Betaal soos almal, dan praat jy soos almal, demokrasie. Jul kan nie die soustrein voor die tyd ry nie, presies wil net hê en nie werk nie.

bgj van der westhuizen ·

net nog n klomp wat te sleg is om te werk wil alles net he

Johannes van Rooyen ·

BLF wil net in die parlement wees vir die salaris wat hulle kan verdien vir geen ander rede nie nêrens in SA kan hulle daai geld nie HULLE IS NIE DAAR VIR HULLE KIESERS NIE NET VIR HULLE EIE SAKKE

Harry ·

Die EFF het al voorheen presies hieroor ‘n hofaansoek gebring, en dit is van die hand gewys.

Terloops, die wetsontwerp waarna hierbo verwys word gaan veral die kleiner partye bevoordeel, wat in belang van demokrasie is.

Jaco ·

Ek gaan miskien aangeval word vir hierdie opmerking, maar hier is dit.

Ek sê stemreg moet beperk wees tot die burgers wat bydra tot die staatskas. Met ander woorde, kry joy SARS sake in orde voor jy die voorreg kan hê om n keuse oor die land se regering te kan maak.

Dissie ·

Jaco, jy leef in ‘n droomwêreld as jy hoop dat so iets sou gebeur. So lank as wat die matriek slaagsyfer laag gehou kan word, so lank het hulle die voordeel van stemme. Hou die mense onopgevoed, sodat hulle die kruisie uit ‘n gebrek aan kennis kan trek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.