BLF sê joernaliste ‘vertrou nie die polisie’

Brandon Shabangu vir BLF. Foto: Lindi Masinga/ANA.

Die Black First Land First (BLF)-groep het Donderdag gesê die feit dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) ʼn hofaansoek gebring het vir ʼn interdik téén hulle, is omdat die joernaliste nie die polisie vertrou om hulle werk te doen nie.

Brandon Shabangu, BLF se regsverteenwoordiger, het in die hooggeregshof in Johannesburg gesê joernaliste wat “hof toe hardloop” is ʼn misbruik van die gereg.  “Wat hulle duidelik sê, is hulle sal hof toe gaan omdat hulle nie die polisie vertrou nie,” het Shabangu gesê.

Sanef het ʼn dringende hofaansoek gebring om ʼn interdik teen BLF aan te vra wat BLF sal verhoed om joernaliste, wat veral oor bewerings van staatskaping verslag doen, te teister, intimideer, aan te rand of te dreig.

Shabangu het gesê Mahlatse Gallens, voorsitter van Sanef, is nie by magte om die aansoek namens die medeaansoekers voor die hof te bring nie omdat hulle nie almal lede van die organisasie is nie.

“Sy het slegs seggenskap as eerste aansoeker – sy kan net mense verteenwoordig wat lede is van Sanef. Daar is geen bewyse dat [die medeaansoekers] lede is nie. Hierdie aansoek het misluk,” het Shabangu gesê.

Shabangu het ook aangevoer Sanef se aansoek is nie dringend nie, want daar was nog net een optog en geen ander gewelddadige aksie daarna nie. Hy het bygevoeg hy kan nie verstaan wat die bedreiging is as mense sê hulle sal betoog teen wit joernaliste wat hulle dink bevooroordeel is nie.

Tembeka Ngcukaitobi, ʼn regsverteenwoordiger van Sanef, het vroeër ʼn beëdigde verklaring van Karima Brown, ʼn politiese ontleder voorgelees. Dié verklaring het uiteengesit wat tot die dringende aansoek tot die interdik gelei het.

Volgens Brown se verklaring is sy verlede Donderdag ingelig van ʼn betoging buite Peter Bruce, die eienaar van Tiso Blackstar, se huis. Sy het gesê ʼn betoger het ʼn plakkaat in haar gesig gedruk toe sy in haar motor wou klim. Sy is later ook voor die polisie gevloek en gedreig en die polisie het glo vir haar gesê sy lok die betogers uit.

“ ʼn Betoger het gesê sy sal my wys wat hulle aan my gaan doen,” het Brown in haar verklaring gesê.

Die betogers het gesê hulle was buite Bruce se woning omdat hy oor die Guptas geskryf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Adam ·

Avokado, ek sal nie opgewonde raak oor enigiets wat die Bacon, Lettuce en Feta groepie te vertelle het nie.

al ·

BLF moet eerder skoothondjies gaan speel vir die Zuptas, hul is duidelik opgeskeep en verveeld met hul self. Of iewers werk soek.
Leeglê is die duiwel se oorkussing.

John ·

Mens spel die spul se naam eintlik ‘bluf’, maar hul klas kon nog nie die U baasraak nie…
Miskien volgende jaar weer probeer, maatjies…

snoefie ·

nou weet ons ook wat was die guptas se voorwaarde vir die aalmoes aan blf. net nog pionne.

SARIE VAN HEERDEN ·

Is daar net een rede waarom ons die polisie en ook hul saamlopers die BLF moet vertrou? Ek dink hierdie siele het ‘n ekstra geen wat ons ander nie het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.