Blikkies sardyne van skole se spyskaart verwyder

Een van die handelsmerke wat geraak word. (Foto: Spar)

Die departement van basiese onderwys het Woensdag gesê blikkies sardyne in tamatiesous is van die nasionale skoolvoedingsprogram se spyskaart onttrek.

Dit volg nadat die nasionale reguleerder vir verpligte standaarde (NRCS) beveel het dat alle handelaars dadelik die 400 g-blikkies sardyne in tamatiesous asook die 400 g-blikkies sardyne in rissiesous van hul rakke afhaal.

Die departement het nou alle provinsies opdrag gegee om met hul onderskeie verskaffers te skakel om die produkte onmiddellik van die nasionale skoolvoedingsprogram se spyskaart te verwyder.

“Die blikkiesvis is ’n algemene item wat in alle skole bedien word wat by die nasionale voedingsprogram betrokke is en etes aan meer as 9,2 miljoen leerders verskaf,” het die departement in ’n verklaring gesê.

Die departement vra dat die blikkiesvis tydelik met ’n ander vorm van proteïne op die nasionale skoolvoedingsprogram se spyskaart vervang word, terwyl alle provinsies aangeraai word om hul blikkiesvisvoorraad na te gaan en spesifiek op die uitkyk vir blikkies met die verpakkingskode ZST2 en ZSC2 te wees.

“Die departement het tot dusver nog geen negatiewe verslae van die provinsies ontvang nie. Ons probeer in hierdie stadium om proaktief voor te bly met die moontlike uitdagings en om die profiel, geloofwaardigheid en integriteit van die nasionale skoolvoedingsprogram te beskerm.

“Die departement wil ouers, leerders en die publiek gerusstel dat ons alles in ons vermoë doen om te verseker dat geen leerder se welstand in die gedrang kom nie,” het Neo Sediti, direkteur van die nasionale skoolvoedingsprogram, gesê.

Die handelsmerk Lucky Star se produkte word nié geraak nie. (Foto: ANA)

Lucky Star

Maroela Media het vroeër berig ʼn fout het in die inmaakproses, waartydens sommige blikkies sardyne tydens die produksieproses met sous gevul is, ingesluip. Dit is intussen bevestig dat die gewilde handelsmerk Lucky Star se geblikte sardyne nié hierdeur geraak word nie.

“Die Lucky Star-handelsmerk se sardyne en alle Lucky Star-produkte hou geensins verband met sekere blikkies sardyne in tamatiesous wat aan die mark onttrek is nie en is beslis veilig om te eet,” sê Zodwa Velleman, groepbestuurder vir regulatoriese en korporatiewe aangeleenthede by Oceana Group Limited, wat die Lucky Star-handelsmerk besit.

Volgens Velleman het die nasionale reguleerder vir verpligte standaarde (NRCS) alle Lucky Star-produkte veilig verklaar.

Die volgende produkte word wel geraak:

Handelsmerke  
Deep CatchSparCheckers (huishandelsmerk)
MammasOK (huishandelsmerk)Prime Ocean
SunnyShoprite RitebrandCape Point
U BrandSaldanhaWest Point

Dié produkte het die verpakkingskode ZST29 en ZSC29 bo-op gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos10

Die produk onttrekking is sowat ‘n week terug gelas, en nou eers spring die onderwys departement op die wa. Ek kan waarborg dat die produkte nie by alle skole onttrek is nie. Dit laat my nou wonder dat daar soveel kinders by skole siek geword het die afgelope 2 maande. Was dit ‘n “coverup”?

Rooikoos

Hoekom se hulle nie presies wat die fout was wat ingesluip het nie?

Chantelle

ek het n video gesien waar daar wurms in die blikkies voorkom…hoe waar weet ek nie…….ek voel jammer Dis baie sleg vir verkope

SwartBees

Weet enige iemand wat die probleem is met die blikkies vis?

NetM

As die blikkies vis veilig is hoekom word dit dan onttrek?