Blind SA stig fonds; pleit vir hulp

Blind SA se hoofkantoor in Mayfair in Johannesburg. (Foto: Blindsa.org.za)

ʼn Fonds is gestig om blinde en swaksiende entrepreneurs en werkers, wat nie kospakkies kry en geen ander manier het om ʼn inkomste te verdien nie, in die afsonderingstyd te ondersteun.

Tommie Lehmkuhl, voorsitter van Blind SA se ekonomiese bemagtigingskomitee, het ʼn somber prentjie geskets oor blinde en swaksiende mense se ekonomiese vooruitsigte sedert die Covid-19-pandemie plaaslik ingetree het.

“Ons is bewus van ʼn familie met blinde mense in Pretoria waar hulle nie genoeg geld gehad het om vir ʼn diabeet die regte voedsame kos aan te koop nie. Die persoon het in ʼn diabetiese koma geraak.

“Ons het ook reeds talle noodkrete vir hulp vanuit Pretoria, Bloemfontein, Kaapstad en Orange Farm ontvang.”

Hy het gesê Blind SA kan eenvoudig net nie bystaan en toekyk terwyl blinde en swaksiende mense in ernstige armoede verval nie.

“Daarom het ons ooreengekom om opleiding, tegniese ondersteuning en finansiële bystand te verleen in die vorm van ʼn spesiale ekonomiese fonds.”

Lehmkuhl het bygevoeg dat net sowat 30% van alle blinde en swaksiende mense wel ʼn werk het.

Die meeste van hierdie mense is nie werksaam in die formele werksmark nie, maar verdien ʼn inkomste uit mikro-kleinsakeondernemings soos klavierstemmery, die weef van mandjies en rietmeubels, krale- en leerwerk, naaldwerk of die meng van huishoudelike chemikalieë. Ander blinde en swaksiende mense werk in beskermde werkswinkels waar hulle ʼn klein inkomste verdien wat bloot hulle maatskaplike en ongeskiktheidstoelaes aanvul.

“Ons het reeds voor die afsonderingstyd met ʼn projek begin waar ons 14 mense opgelei het om blinde en swaksiende mense van opleiding te verskaf in die Start and Improve Your Business- (SIYB-)program,” het Lehmkuhl bygevoeg.

Hy meen egter gestremde mense word dikwels steeds in die samelewing oorgesien. “Hoewel die regering ʼn teiken in 1998 ingestel het vir die indiensneming van mense met gestremdhede, is daardie teiken nooit met dieselfde ywer nagevolg as wat die geval met ras of geslag is nie.

“Boonop het die onderwysstelsel baie van ons blinde en swaksiende kinders gefaal en daarom is die informele werksmark dikwels die enigste heenkome vir hierdie mense. Die afsonderingstyd het talle van ons mense se manier om ʼn inkomste te verdien gestuit, wat beteken hulle is nou heeltemal afhanklik van die regering se maatskaplike toelaes.”

Jace Nair, die uitvoerende hoof van Blind SA, sê die organisasie se spesiale ekonomiese fonds is met R20 000 afgeskop. (‘n Skermgreep uit die aanlyn mediakonferensie.)

Blind SA se spesiale ekonomiese fonds is met ʼn bedrag van R20 000 afgeskop. Dié organisasie wil ook skenkings van individue, die korporatiewe sektor en die regering kanaliseer om blinde en swaksiende mense te help met finansiële ondersteuning.

“Ons wil ons mense help met opleiding sodat hulle kleinsakeondernemings kan begin en wel geld het om die nodige materiaal daarvoor aan te skaf. Die fonds sal ook help met bykomende bemarkingsgeleenthede vir hulle ondernemings sodra die afsondering opgehef word.”

Lehmkuhl het mense en die private sektor gevra om voorspraak te maak vir blinde en swaksiende mense in hierdie moeilike tyd. “Ons het almal se hulp nou nodig,” het hy bygevoeg.

Lehmkuhl het ook blinde en swaksiende mense aangemoedig om Blind SA te nader as hulle geen inkomste in hierdie tydperk ontvang nie of opleiding benodig.

Stuur ʼn e-pos na [email protected] of stuur ʼn SMS na 45345 met ʼn boodskap oor hoe jy die fonds kan bystaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marita ·

Wat van gehoorgestremde mense? Hoe word hulle gehelp.? Komminukasie is n baie baie groot struikelblok. Ek weet waarvan ek praat want ek is doof. Met my gehoorapparaat het ek 30% gehoor. Daarsonder is ek 100% doof. Hoe komminukeer ons dowes en hardhorendes met die organisasies om ook voedsel bystand te kry wat van dowes wat ook n klein mikro besigheid het? Dowes word beskou as “dom en stupid” omdat ons nie normaal kan komminukeer nie ek dis nie die geval nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.