Blinde kiesers sukkel om stem geheim te hou

‘n Kamma-stembrief demonstreer hoe blinde kiesers gehelp kan word om te stem. (Foto: Blind SA)

Vir duisende gesiggestremde Suid-Afrikaners wat Woensdag gaan stem het, was die proses ʼn opdraande stryd – veral wat betref hulle reg op ʼn geheime stem.

Volgens die organisasie Blind SA het hy waarnemers by meer as 200 stempunte ontplooi om die proses vir gesiggestremde kiesers te monitor. “Die meeste van dié kiesers kon nie in die geheim stem nie, omdat voorsittende beamptes – en in sommige gevalle sommer voor party-agente – die lys kliphard aan blinde kiesers voorgelees het,” het Blind SA in ʼn verklaring gesê.

In Queenswood in Pretoria het ʼn kieser aan die voorsittende beampte gesê dat hy ʼn vriend, wat hy vertrou, na die stemhokkie wil saamneem om met die proses te help. Sy het die versoek aanvanklik geweier.

“Dit is die eerste keer sedert 1994 dat ek dié probleem het. Ek het haar gevra waar haar afskrif van die [Kies-]wet is, maar het geen antwoord gekry nie. Ek het vir haar gesê wetgewing maak voorsiening [vir die versoek] en dat ek aandring op my regte. Ná ʼn verdere argument met vroue wat gesê het hulle is waarnemers, is my duim uiteindelik gemerk en het ek my stembriewe gekry,” het Daan van Niekerk, ʼn gesiggestremde kieser, gesê.

Van Niekerk en sy vriend is na die stemhokkie, toe twee waarnemers wéér nader gestaan het, glo omdat hulle oor die proses moes toesig hou.

“Ek het vir hulle gesê dit is nié wat ek wil hê nie en dat hulle my ontneem van my konstitusionele reg op ʼn geheime stem. Ek het ook vir hulle gesê hulle diskrimineer teen my as blinde persoon.”

Blind SA sê die voorsittende beampte se optrede is strydig met die Grondwet en die VN se konvensie oor die regte van mense met gestremdhede.

Die organisasie sê hy het in aanloop tot die verkiesing saam met die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gewerk om die stemproses meer toeganklik vir gesiggestremde kiesers te maak. Hy het die OVK onder meer gehelp om ʼn universele stembriefpatroon, inligtingstukke en aanwysings oor hoe om die stembrief te gebruik in braille beskikbaar te stel.

Christo de Klerk, ʼn waarnemer van Blind SA, het gesê hy het die indruk gekry dat voorsittende beamptes by stempunte nie opgelei is oor hoe om blinde kiesers te help nie.

“Dit lyk of beamptes nie begryp dat blinde mense die reg op ʼn geheime stem het nie. Ek is verleë oor al die plasings op sosiale media oor die fasiliteite wat beskikbaar sou wees vir blindes om te stem, wat uiteindelik bloot nie beskikbaar was nie,” het De Klerk gesê.

Blind SA sê daar was wél stempunte waar beamptes blinde en gesiggestremde kiesers vriendelik en doeltreffend bygestaan het.

“Dit lyk of veel meer bewustheidswerk gedoen sal moet word om te verseker dat dieselfde lot nie blinde en gesiggestremde kiesers tydens die volgende verkiesing tref nie,” het André Vosloo, voorsitter van Blind SA se bewusmakingskomitee, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

JohanL ·

Goeie vriendin van my met siggestremdheid het ook gesukkel deurdat OVK beampte namens haar kruisie op die vorm wou trek!!!!! Het by ander berig die insident volledig verduidelik, so ek gaan nie alles herhaal nie. Op die ou einde het my vriendin se man nadat hy gestem het, eenvoudig fisies die pen uit die OVK beampte se hand gevat en sy vrou se stem namens haar uitgebring.

Johannes Meintjes ·

‘n Blinde vriend van my wat al oorlede is het ook die probleem gehad wat die blinde keiser oor kla hier en om daardie rede het hy glad nie meer gaan stem nie. Ek sien op die facebook Groep van Front Nasionaal kla een kieser dat hy in Newcastle sy kruisie vir Front Nasionaal getrek het maar volgens die verkiesings uitslae in Newcastle vir die area wat die kieser gestem het het daar blykbaar geen persoon vir Front Nasionaal gestem nie.

Sprakeloos ·

My dogter het gaan stem. Eerste keer en baie opgewonde. Wat n absolute vertrapping van haar menseregte het ek nie gesien Woensdag nie!! 3 party beamptes wat almal staan en kyk hoe iemand anders die kruisie vir haar moet maak en dan moet sy hardop sê vir wie sy stem. Sy voel verkleineer en baie baie kwaad en ontugter deur die stem proses. Sies vir julle wat kamstig so baklei vir gestremdes se regte. Ek sou baie skaam kry as ek vir die OV gewerk het!

Susan Webber ·

Eerstens het die Voorsittende Beampte aangebied om vir my te stem. Ek het soos met vorige verkiesings aangedring dat my vertroueling dit sal doen. Dit blyk dat hulle ‘n mens daaroor in ‘n blik wil druk dat hulle vir jou stem, maar ek sit net dood eenvoudig my voet neer dat my vertroueling dit moet en sal doen. Die Voorsittende Beampte het vir ons (my en my ma) ook gesê dat waarnemers moet dophoe hoe ek stem. Ek was nie lus daavoor om met hulle daaroor te redekawel nie. Dit is weliswaar teenstrydig met die geheime stem. Ek het nog altyd ‘n problem met hierdie waarneming. Ek gaan mos nou nie kliphard vir my vertroueling sê vir wie om vir my te stem nie, ook nie vir die Voorsittende Beampte of ander bemagtigde werknemer van die OVK nie. Hoe sal die waarnemers dan kan sê dat die person my keuse uitgevoer het? Die universele sjabloon was nie beskikbaar nie. Dit sou moontlik wees om ‘n geheime stem te hê indien die stembrief korrek in die sjabloon geplaas is. Hopelik werk dit reg met die volgende verkiesing.

Botterblom ·

En die spesiale stemme met persoon se ID en naam op…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.