Blink idee keer dat rommel in baai spoel

Pieter Swanepoel by sy eenvoudige maar werkbare uitvindsel.(Foto: Alida Buckle)

Deur Alida Buckle

Strome rommel wat voor ʼn ou historiese hotel verby dryf met hoogwater en met laagwater in strepe op een van die gewildste swemstrande in Saldanhabaai lê en stink, is uiteindelik iets van die verlede. Dít danksy ʼn eenvoudige, vindingryke kontrepsie wat die rommel keer.

Getaak om ʼn oplossing vir die probleem te vind, het Pieter Swanepoel, ʼn Sea Harvest-ingenieur, met ʼn eenvoudige oplossing vorendag gekom: twee vlekvrye staalringe waarvan een permanent aan die beton om die openinge vasgesit word en die tweede een semi-permanent daaraan vasgemaak sodat dit ʼn tregtervormige net vasknyp. Water word sodoende deurgelaat, maar die rommel gekeer. Toue aan die punt van die 3 m lange nette word met ʼn glipknoop toegetrek en wanneer dit een keer ʼn week skoongemaak word, word dit losgemaak, die rommel verwyder en die nette weer toegeknoop. Die eerste net, wat ʼn paar weke gelede opgesit is, het reeds tydens ʼn swaar reënbui vol geloop met nie-vergaanbare rommel.

Dié uitlaat is digby die historiese en geliefde Hoedjiesbaai Hotel, waarvan Nádi Truter in Maart 2018 die bestuur oorgeneem het. Die uitsigte oor die baai, wat veronderstel is om verruklik te wees, word versuur deur strome rommel wat reg by die hotel se konferensiesaal en stoepe verby dryf wanneer dit reën. Die hotel staan ver die water in.

Die vol net na ʼn harde reënbui. (Foto: Alida Buckle)

Truter se pleidooie en video’s aan die Saldanhabaai-munisipaliteit het bykans ʼn jaar op dowe ore geval, totdat raadslid André Truter, openbare veiligheid en korporatiewe dienste, in April vanjaar rolspelers van die Blue Bay Lodge, Sea Harvest en die Dyer Island Conservation Trust op ʼn werkswinkel byeen gekry het. Daar is besluit om iets daadwerkliks aan die situasie te doen sodat dit dié keer nie net ʼn item op die agenda bly nie.

Swanepoel se goedkoop oplossing gaan nou by al die stormwateruitlate om die baai opgesit word. Dié maatreël, saam met die seël van alle toegangspunte waar oorlooprioolwater in die baai geloop het, sorg vir ʼn waarneembare skoon strand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
Me

Wel gedaan darem iemand met breins

Jan Rap

Dit word reeds geruime tyd reeds in Australie en elders gedoen

Laetitia

Briljant!!

bokke

Lyk of die net reeds ‘n gat in het. Kan ook nie te maklik wees om die goed uit die net uit te kry nie.

Pensioenaris

As ek dit nie mis het nie was dit reeds in Gansbaai ook gedoen??