Blink sitrusseisoen wink ondanks uitdagings

(Foto: Unsplash)

Die 2024-sitrusuitvoerseisoen sal hierdie maand in alle erns begin.

Die verskeie fokusgroepe van die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika (SKV) het verlede week hul voorspelde uitvoervolumes by die Sitrusbemarkingsforum voorgelê. Volgens die vereniging word oor die algemeen ʼn toename in uitvoervolumes verwag.

“Dit is ʼn bewys dat sitrusprodusente te midde van talle uitdagings, onder andere skerp stygings in insetkoste, beurtkrag en verswakkende openbare infrastruktuur, steeds meer sitrus produseer,” sê Justin Chadwick, uitvoerende hoof van die SKV.

“Hierdie toename is ook die gevolg van jonger bome wat nou oor ʼn aantal streke tot produksie bydra.”

Só lyk die verwagting vir die 2024-seisoen:

  • 37,9 miljoen (15 kg elk) kartonne suurlemoene sal na verwagting na sleutelmarkte uitgevoer word. Dit is ʼn toename van 7% teenoor verlede jaar en beteken dat suurlemoen-uitvoere – wat sedert 2016 meer as verdubbel het – steeds groei.
  • Lemoen-uitvoere sal na verwagting ook styg. Voorspellings toon ʼn toename van 4% in uitvoervolume vir nawellemoene, met 25,6 miljoen (15 kg elk) kartonne wat na verwagting uitgevoer sal word. Ná twee jaar van onderdrukte Valencia-lemoenuitvoere, sal produksie waarskynlik in 2024 verbeter. ’n Toename in 2023-uitvoervolumes van 12% tot 58 miljoen (15 kg elk) kartonne word geprojekteer. Die Oranje Fokusgroep het egter beklemtoon dat uitvoere met tot 5% kan verminder weens aansienlik hoër opbrengste wat verwag word vir vrugte wat aan plaaslike verwerkers gelewer word. Dit is nie by die voorspelling van 58 miljoen kartonne ingereken nie.
  • Daar word ook voorspel dat pomelo-uitvoere sal toeneem. Die groeipersentasie van 14% kom neer op 16,7 miljoen (15 kg elk) kartonne. Die verhoogde uitvoervolume kan deels toegeskryf word aan die verwerking van vrugte (PP-klas) wat weer na China uitgevoer is.
  • Die satsoema-seisoen sal waarskynlik naby die 1,7 miljoen-kerf, op 16%, sluit, terwyl clementines en novas na verwagting onderskeidelik 5,4 miljoen (op 8%) en 4,5 miljoen (op 8%) sal bereik. Dit is egter te vroeg om te sê wat die mandaryn-oes in hierdie stadium gaan wees en ʼn volledige voorspelling sal later in die seisoen beskikbaar wees.

(Foto: Unsplash)

Volgens die CGA lyk die gehalte van die vrugte vir 2024 uitstekend en sal die tydsberekening vir oes na verwagting normaal wees.

“Onlangse droë toestande in die noordelike streke kan egter beteken dat oesgroottes ietwat kleiner as in 2023 kan wees, maar reënval – later in die seisoen – kan dit verander.

“Vergaderings met die variëteitsfokusgroepe word op ʼn gereelde grondslag gehou om voorspellings oor vrugoesgroottes te bepaal.”

In die 2023-uitvoerseisoen het Suider-Afrikaanse sitrusprodusente 165,1 miljoen (15 kg elk) kartonne vir aflewering aan wêreldmarkte verpak.

(Foto: Unsplash)

“Hoewel dit ʼn toename van ongeveer 800 000 kartonne van die vorige jaar is, was dit aansienlik minder as die langtermyn- verwagte groeikurwe,” sê Chadwick.

“Die bedryf kan, as alle rolspelers saamwerk, moontlik die teiken van 200 miljoen kartonne in die volgende vier jaar bereik sowel as 260 miljoen kartonne teen 2032.”

Die vereniging sê gegewe die skerp stygings in insetkoste oor die waardeketting is dit is egter belangrik om daarop te let dat hoewel volumes toeneem, dit nie ʼn toename in winsgewendheid of lewensvatbaarheid van baie sitrusplase beteken nie.

“Terwyl die toename in voorspelde uitvoervolumes vir die 2024-seisoen die bedryf op ʼn beter trajek plaas om doelwitte te bereik, bly daar ernstige uitdagings.

“Die Europese Unie se diskriminerende en onwetenskaplike fitosanitêre regulasies rakende swartvlek (CBS) en valskodlingmot (FCM) is ʼn ernstige bedreiging aangesien dit daartoe kan lei dat Suid-Afrika toegang tot die Europese mark geweier kan word – ʼn mark wat verantwoordelik is vir meer as een derde van Suid-Afrikaanse sitrusuitvoere.”

Gegewe wat alles op die spel is, hoop die SKV dat die Suid-Afrikaanse regering binnekort sal vra vir die stigting van ʼn onafhanklike Wêreldhandelsorganisasie-paneel (WHO) wat kan besluit oor die valskodlingmot-kwessie.

Dit is ook noodsaaklik dat die regering ʼn WHO-konsultasieproses oor swartvlek aanvra.

ʼn Ondoeltreffende logistieke stelsel bly ook ʼn groot bron van kommer. Opeenhopings by die land se hawens het groei in die sitrusbedryf en die Suid-Afrikaanse ekonomie in die geheel belemmer.

“Transnet, in samewerking met belanghebbendes in die bedryf, het die afgelope maande aandag gegee aan die doeltreffendheid van hawens en sal voortgaan om dit te doen. Die vrees dat onklaarraking van toerusting en verwante ontwrigtings uitvoere kan beïnvloed, bestaan egter ​​steeds,” waarsku Chadwick.

“Die SKV beskou die spoedige bekendstelling van die aangestelde private operateur van Durban se Pier 2-houerterminaal, International Container Terminal Services Inc. (ICTSI), as van die uiterste belang.”

Die vereniging sê hy bly versigtig hoopvol oor die komende seisoen. Onlangse suksesse vir die bedryf sluit in die toetrede van die internasionale skeepsmaatskappy Hapag-Lloyd tot die Suid-Afrikaanse mark, sowel as die uitbreiding van die verskepingsopsies wat deur die maatskappy MSC aangebied word.

’n Nuwe bilaterale protokol tussen Suid-Afrika en Viëtnam is ook ingestel wat die Viëtnamese mark vir Suid-Afrikaanse lemoene oopmaak; dit is ʼn groot mark wat op ongeveer 15 000 ton se uitvoere staan.

Die SKV sê hy bly daartoe verbind om met alle rolspelers, ook die regering, saam te werk om die voortgesette inklusiewe groei van die sektor te verseker “en om op sy beurt meer werksgeleenthede te bied en ʼn groter inkomste vir die land te verdien”.

(Foto: Unsplash)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Michael ·

Die goeie kwaliteit word uitgevoer en ons kry die lae graad sitrus produkte ten duurste hoekom??

Jeanette ·

Dit is ‘n feit! Saterdag ‘n sak lemoene gekoop, die stukkies wat jy aan kan proe word nogal by die sak uitgestal vat een en ag te lekker……….. soet en sappig. Die dag daarna eet ons weer van die eintste lemoene en wat ‘n teleurstelling, droog en die buitenste wit van die lemoen is kliphard kan dit nie eers kou nie. Ek se ook ons word lekker verneuk hier in SA betaal ten duurste vir alles en kry baie min waarde vir jou geld. Noem dit maar op brood, eiers, seeppoeier, koffie ens ens

Nommer 7 ·

Is al hierdie uitvoer sitrus ook so suur soos die wat plaaslik beskikbaar is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.