Blitsige polisie trek ‘rowers’ tydens rooftog vas

Blitsige polisie trek ‘rowers’ tydens rooftog in Delmas vas (Foto: Kapt. Carla Hartley)

Die polisie in Delmas, Mpumalanga, het Woensdag met spoedige optrede daarin geslaag om ses vermeende gewapende rowers in hul spore te stuit toe dié groep na bewering besig was om ʼn plaaslike klerewinkel in die Willowbrook-winkelsentrum te beroof.

Konst. Khangela Ntshangase van die Delmas SAPD was van diens af toe hy omstreeks 09:00 in die Willowbrook-winkelsentrum inkopies gedoen het. Hy het ʼn oproep van ʼn PEP-winkelklerk ontvang wat hom ingelig het van ʼn rooftog wat in Ackermans aan die gang is.

Volgens kapt. Carla Hartley, woordvoerder van die polisie in Delmas, het Ntshangase dadelik die plaaslike polisie ontbied terwyl hy hom na die Ackermans-tak gehaas het. “Hy het twee mans by ʼn verdagte silwer Toyota gewaar en hulle genader, maar hulle het in dié voertuig gespring om te probeer vlug,” vertel Hartley.

Ntshangase het drie skote met sy diensvuurwapen op die voertuig afgevuur. Die passasier het uit die voertuig gespring en volgens Hartley in die proses ʼn sak vol gesteelde selfone, asook ʼn vuurwapen neergegooi. Ntshangase kon daarin slaag om eiehandig albei verdagtes in hegtenis te neem.

“Teen die tyd dat die plaaslike polisiepatrollie by die toneel aangekom het, is die bestuurder van die silwer Toyota ook al vasgetrek,” vertel Hartley. Plaaslike polisiebeamptes het die derde verdagte binne Ackermans vasgetrek en in hegtenis geneem.

ʼn Verdere soektog is van stapel gestuur om ʼn wit Hyundai-sedan en silwer Volvo met ʼn GP-nommerplaat op te spoor wat aan die vermeende rowers behoort. Sers.maj. Titus Mthimunye van die Delmas-polisie, AO Timothy Maboea van die Valke-eenheid in Middelburg en Martin Barnard, ʼn provinsiale verkeersbeampte, het bystand gelewer om die voertuie op te spoor.

Volgens Hartley is die Volvo in een van die systrate naby die Willowbrook-winkelsentrum opgemerk. “Een van die verdagtes het na die Volvo gehardloop en probeer inklim toe Mthimunye een skoot in die voertuig se rigting afgevuur het. Die verdagte het probeer vlug en tussen die huise ingehardloop. Hy is in ʼn erf in Bothmastraat vasgetrek en in hegtenis geneem. Een vuurwapen is teruggekry,” het Hartley aan Maroela Media vertel.

Drie sakke vol gesteelde selfone ter waarde van R300 000 is teruggekry (Foto: Kapt. Carla Hartley)

Die Sundra-polisiestasie is ook intussen in kennis gestel om ʼn padblokkade op te stel. Hartley sê die wit Hyundai is by dié padblokkade voorgekeer en nog twee verdagtes in hegtenis geneem. Twee ongelisensieerde vuurwapens is teruggekry waarvan die reeksnommers afgevyl is.

Altesaam ses verdagtes tussen 30 en 38 jaar oud is in hegtenis geneem. Volgens Hartley is hulle almal oorspronklik van Berea in Johannesburg.

Drie sakke vol gesteelde selfone ter waarde van R300 000 is teruggekry. Daar is ook op die verdagtes se twee voertuie, die wit Hyundai en silwer Toyota, beslag gelê.

Hartley sê van die verdagtes kon daarin slaag om in die silwer Volvo te vlug. Die speurders is tans op dié voortvlugtiges se spoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Riaan ·

Net jammer die polisie mag of wil niks doen aan amokmakers wat paaie versper met brandende bande nie. As ek of neef Piet en Gert dit waag doen dan is jy of dood of agter tralies

Santjie ·

Riaan, maar jy en jou neefs Piet en Gert weet om sommer by die huis te braai – haha!

Anonien ·

Sjoe, dit gee my sommer ‘n warm gevoel om die hart om te lees van die polisiemanne se sukses. Baie dankie dat jy so vinnig gedink en opgetree het konstabel Ntshangase!

Johan ·

Hierdie konstabel is ‘n man so na aan my hart. Gee die man bevordering. Hy verdien dit.

Jean ·

Konst Ntshangase…jy is voorwaar in die SAPD vir die regte redes en n held ! Jy VERDIEN om op die voorblad van al ons koerante te verskyn…ons is trots op jou.So kan die polisie wat by die pantservoertuig geval verlede week, betrokke was gou by jou n lessie kom leer.

willem Botha ·

Twak,hierdie is hulle werk dit is hoekom hulle besluit het om by die polisie aan te sluit.Die konstabel het sy werk gedoen en daarvoor verdien hy n salaris ,hy is nie n held of verdien nie n medalje nie hy kan vanaand rustig slaap en weet hy het n verskil gemaak.

George in Bloem ·

“Blitsig” en “polisie” in dieselfde sin? Rerig?

Karolis ·

Absoluut puik opvolgwerk. Geluk aan al die betrokke beamptes.

GM ·

Willem, jy is seker reg, dis die persoon se werk, maar tussendeur al die polisielede wat altyd stilstaan en moniteer, en dié wat self korrup is, dink ek verdien die goeies darem ‘n bietjie positiewe kommentaar en erkenning. Anders gaan die goeies ook net gaan lê.

Dis menslik om so nou en dan te wil hoor jy doen iets reg en iemand waardeer dit. ‘Positive reinforcement’.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.