Blitspatrollie-lid beskuldig van vriendin se moord

(Foto: SA Polisie)

ʼn 41-jarige polisiesersant van die blitspatrollie in Midrand, Gauteng, word beskuldig van die moord op sy vriendin, ʼn 35-jarige vrou van Pretoria.

Die man het sy meisie glo ʼn paar keer geskiet by die polisiebarakke in die Moot. Hy sal na verwagting Dinsdag in die Pretoria Sentraa-landdroshof verskyn.

Hlengiwe Mkhize, minister in die presidensie vir vroue, jeug en persone met gestremdhede, het ʼn beroep op wetstoepassers gedoen om seker te maak geen steen word onaangeraak gelaat om seker te maak geregtigheid geskied nie. “Die boodskap, onder leiding van pres. Cyril Ramaphosa, is duidelik dat geen geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika toegelaat sal word nie.”

Sedert die aanvang van die afsonderingsperiode het die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) drie klagtes ontvang oor geslagsgebaseerde geweldsvoorvalle in die SAPD.

ʼn Polisiebeampte het na bewering op 1 April sy meisie in Estcourt, KwaZulu-Natal doodgeskiet en daarna homself doodgeskiet.

Opod ondersoek ook twee bewerings van verkragting, glo deur polisiebeamptes, tydens die afsonderingsperiode, het Mkhize bygevoeg.

“ʼn Polisiebeampte in Saldanhabaai het glo sy vrou in hul huis toegesluit en haar dae lank herhaaldelik verkrag voor hy haar vrygelaat het. ʼn Polisiebeampte in Tumahole in die Vrystaat word daarvan beskuldig dat hy met sy meisie gestry het en hy op haar geskiet het. Hy wou sy eie lewe neem, maar hy was onsuksesvol.”

Mkhize het gesê sy departement word bemoedig deur Opod se reaksie op skuldigbevinding en vonnisoplegging van ʼn polisiebeampte in KwaZulu-Natal in November verlede jaar. Hy is twee keer lewenslange vonnisse opgelê toe hy sy eksmeisie en haar nuwe kêrel in 2018 in Johannesburg doodgeskiet het. “Opod het gesê die vonnis is ongetwyfeld ʼn belangrike boodskap aan polisiebeamptes wat die reg in eie hande wil neem.”

Mkhize moedig vroue, wat bedreig voel, aan om 0800 150 150 of 0800 428 428 te kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rodger17 ·

En so kom die SAPD se ware kleure na vore!Let wel,nie almal nie maar daar is baie kruminele elemente in die polisie en weermag.Raak ontslae van die skuim in hul geledere

Cherokee ·

Daar was kommer uitgespreek deur vrouens in hierdie selfde forum oor wat geen sigarette en geen alkohol in huise te weeg gaan bring. As jy langs ‘n stroom staan en die opdrifsels dophou, sal jy opmerk dat skuim se kleur partykeer nie bepaal kan word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.