Bloed in gastehuis toe nié Yolandi Botes s’n

Yolandi Botes.

Die bloed wat in Mei in ʼn gastehuis in Kemptonpark, Gauteng, gekry is, is nie dié van die vermoorde Yolandi Botes (35) nie.

Volgens Odette van Staden, spesialisondersoeker van die private speurder Mike Bolhuis, wat deur Botes se familie aangestel is om haar dood te ondersoek, is die bloed volgens die polisie se DNS-uitslag dié van ’n onbekende manlike persoon.

Volgens Van Staden is dié uitslag ’n deurbraak en kan die gastehuis nou by die ondersoek uitgeskakel word.

Maroela Media het vroeër berig Botes is op 26 April omstreeks 06:30 die laaste keer by die OR Tambo-lughawe gesien toe ʼn Uber-bestuurder haar opgelaai het. Sy was glo op pad na Brakpan om vir haar kinders te gaan kuier.

Haar ontbinde liggaam is op 4 Mei digby die Vaal-vakansieoord by Villiers in die Vrystaat gevind.

Die polisie het ʼn dag voor Botes se liggaam gevind is, bloed in een van die kamers by die Oceanic Lodge-gastehuis Kemptonweg, naby die lughawe, ontdek. Daar was ook bloed op die bed, op die vloer, asook in die wasbak en stort in die badkamer. ʼn Mes was ook in die kamer gevind.

Volgens die Facebookblad Justice for Yolandi Botes het Botes se familie ʼn beloning van R50 000 uitgeloof vir enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van die vermeende moordenaars kan lei.

Volgens die plasing op die blad is Botes se hangertjie en trouring steeds weg.

Van Staden sê daar is nog forensiese verslae waarop die polisie wag. Die saak sloer alreeds ʼn paar maande lank.

Bolhuis sê baie van die dinge wat tans in die land aangaan, kan ʼn ondersoek beïnvloed, soos die pandemie, onluste of polisiestasies wat weens Covid-19 gesluit is.

Maroela Media het navraag aan die polisie gerig, maar wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Misky ·

Hierdie hele storie rondom die arme vrou se moord is ‘n groot raaisel. Hoop werklik waar hulle maak ‘n deurbraak binnekort en die familie kan vrae op antwoorde kry en berusting vind

Anoniem ·

Vertrou die skuldige sal spedig opgespoor en gestraf word. Geen straf sal ooit goed genoeg wees vir ‘n moordenaar nie.

Baardman ·

Hoe kan die gastehuis by die ondersoek uitgeskakel word ? Dit is dalk nie Yolandi se bloed nie, maar daar was bloed en ‘n mes. Dan het daar mos iets duister gebeur.

Linx ·

Presies,as dt nie hare is nie,kan dit dalk die skuldige sin wees,want hoekom is haar moord in d eerste plek verbind met hierie hotelkamer,dan moes sy mos daar gewees het,so hoekom die hotel uitsluit.

E ·

Ja dis ‘n goeie vraag. Ek wonder hoeveel van die bloed monsters gedns is en of al die beddegoed etc geneem is?

Phillip ·

Maar dan moet daar iemand anders ook seer gemaak in daai kammer

Casper ·

Laat ek weer probeer kommentaar lewer aangesien my vorige kommentaar nie geplaas is nie.Yolandie het dus nooit by haar bestemming uitgekom nie want sy is ontvoer en moontlik verkrag en toe vermoor op die plek waar hulle haar lyk gekry het of sy is iewers anders vermoor en haar liggaam is by Vaal agter gelaat.Die Uber bestuurder kan antwoorde verskaf.Die man wie se bloed in die kamer gevind is is of vermoor of hy lewe nog.As hy dood is waar is sy lyk.As hy dood is, is daar ‘n verband tussen sy dood en Yolandie sin.

E ·

Ek dink regtig facebook en sosiale media gaan dit help oplos. En asb. die hangertjie en die trouring is leidrade, maar ons moet nou almal hier sit en raai hoe die items lyk. Moordenaars het al soms hulle slagoffer se juwele vir hulle vrouens of meisies gegee. Ek dink regtig dat daar geen strategie toegepas word in hierdie saak nie. Moontlik woon die oortreder in die omgewing van die plek waar sy gekry is, want wie gaan nou so ver ry om ‘n liggaam te stort. Kyk maar na die informele nedersettings en ander kriminele hole in die omgewing. Ouens met misdaad geskiedenisse ook.

Gogga ·

Ek weet ons klink nou almal soos speurders…maar is daar foto’s van die hangertjie en ring? Iemand moet dit tog he of moontlik gesien het?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.