Bloed in Jansen van Vuuren se huis gevind ná moord

Dries Venter saam met sy seun, Kobus (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Dries Venter, pa van die vermoorde Andrea Venter (25), het in die Palm Ridge-landdroshof in Johannesburg getuig dat daar ná die moord op sy dogter bloed in Gerhard Jansen van Vuuren se woonstel in Roodepoort gevind is.

Andrea is op 2 Mei 2011 by die Sibaya Sands-sekuriteiskompleks in Randburg, waar sy in daardie stadium gewoon het, vermoor. Jansen van Vuuren word aangekla van haar moord.

Volgens Venter het hy ná die moord op sy dogter ’n bos sleutels in haar Volkswagen Polo gekry. Die sleutels was egter nie aan hom bekend nie en hy het dit aan die polisie oorhandig.

“Ek het saam met die polisie na Gerhard se woonstel in Roodepoort gegaan en een van die sleutels aan die bos het Gerhard se woonsteldeur oopgesluit,” het Venter getuig.

Met die intrapslag by die woonstel is van Andrea se klere by die deur gekry. Haar badkamersakkie was ook in die woonstel.

“Ons het ’n T-hemp vol bloed op die bed aangetref. Daar was ook bloed op die mat by die bed se voetenent.”

Volgens Venter was daar ook ’n rekband om die sitplekgordel van Andrea se motor vasgemaak. Die band was in ’n ringvorm getrek. “Dit lyk soos daardie bande wat verpleegsters in die hospitale gebruik om om jou arm te bind en dan bloed te trek. Op die band is daar blonde hare gevind. Andrea se hare.”

Paartjie het glo aan verhouding gewerk

Andrea Venter (Foto: Verskaf)

Jansen van Vuuren se regspan het tydens kruisondervraging aangevoer dat Jansen van Vuuren en Andrea steeds in ʼn verhouding was ten tyde van haar dood. Volgens adv. Francois Joubert het die paartjie ʼn maand voor Venter se dood nog ’n berader gaan sien om “aan hul verhouding te werk”.

“Die paartjie het tussen ses en sewe beradingsessies bygewoon. Hulle was ernstig oor hul verhouding en was van plan om te trou.”

Venter het fronsend sy kop in die getuiebank geskud en gesê hy dra nie kennis van die beradingsessies nie.

Volgens hom het Andrea in 2008 ’n bewaringsbevel teen Jansen van Vuuren gekry nadat hy haar glo aangerand het. Volgens die bewaringsbevel mag Jansen van Vuuren nie nader as 50 m van Venter gekom het nie. “Hy (Jansen van Vuuren) het dit egter verontagsaam en haar steeds geteister,” sê Venter.

Joubert het aangevoer dat Jansen van Vuuren en Andrea mekaar egter steeds ná hierdie bevel gesien en gereeld kontak gehad het.

Venter sê indien dit wel so is, is dit omdat “hy (Jansen van Vuuren) vir Andrea forseer het om by hom te wees, soos hy haar met alles forseer het”.

Venter het aan die hof gesê dat toe Jansen van Vuuren en Andrea in 2005 ’n verhouding aangeknoop het, Jansen van Vuuren ’n “aangename jong man” was. Sy gedrag het egter radikaal verander toe hy in 2008 van Engeland, waar hy vir ʼn ruk gaan werk het, af teruggekeer het.

“Hy sou nie meer in die huis inkom nie. Hy het net in die motor gesit en wag en vir Andrea forseer om na hom te gaan.”

Die saak word vandag (Dinsdag) voortgesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Swerwer ·

Jansen van Vuuren moet permanent uit die samelewing verwyder word. Ek glo nie aan beraders nie, dit is tyd en geldmors. Waar ‘n kraak in ‘n verhouding is eindig dit met ‘n groot bars of gat. Jy kan nie ‘n gebreekte glas ooit weer 100% reg maak nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.