Bloed in motor van vermiste Wes-Kaapse-egpaar gevind

Nick Bailey saam met Rodney (73) en Rachel Saunders (64) (Foto: Twitter via @nickbailey365)

Die drie verdagtes wat verbind word met die verdwyning van Rodney (73) en Rachel Saunders (64) van die Wes-Kaap het Donderdag in die Verulam-landdroshof in Durban in KwaZulu-Natal verskyn.

Kapt. Lloyd Ramovha, woordvoerder van die Valke, sê die verdagtes het Donderdag net vlugtig in die hof verskyn waartydens die aanklagte teen hul voorgelees is.

Die verdagtes is Sayfydeen Aslam del Vecchio (38) en Fatima Patel (27), die eerste twee persone wat in verband met die Saunders-egpaar se verdwyning in hegtenis geneem is, en Thembamandla Xulu (19), die verdagte wat Maandag in hegtenis geneem is.

Ramovha het Donderdag aan Maroela Media gesê die Valke en ander ondersoekspanne is onverpoosd besig om na die vermiste egpaar te soek wat glo op 12 Februarie in Vryheid in KwaZulu-Natal ontvoer is.

Hy sê die egpaar se Land Cruiser wat Maandag in Durban opgespoor is – 300 km verder van waar die egpaar na bewering verdwyn het – het menslike bloed in die binneruim gehad.

“ʼn Toegewyde ondersoekspan is persoonlik betrokke en werk dag en nag om die egpaar op te spoor. Ons kan egter nie in dié stadium van die ondersoek meer bekend maak oor die leidrade wat opgevolg word nie,” het hy gesê.

Vier aanklagte staar beide Del Vecchio en Patel in die gesig. Hulle word aangekla van ontvoering, brandstigting, roof met verswarende omstandighede en oortreding van die Wet op die Beskerming van ʼn Konstitusionele Demokrasie teen Terroriste en Verwante Aktiwiteite.

Die vierde klag hou verband met items wat tydens Del Vecchio en Patel se inhegtenisnemings in hul besit gevind is. Ramovha wou nie gerugte dat die verdagtes ʼn Isis-vlag vertoon het, bevestig nie. Die saak van brandstigting hou verband met ʼn voorval waarin suikerrietlande van Hulett in 2017 aan die brand gesteek is. Die skade van die brand het glo R2 miljoen beloop.

Xulu staar drie aanklagte in die gesig, insluitend ontvoering, brandstigting en roof met verswarende omstandighede.

Maroela Media het op 21 Februarie berig ʼn landwye soektog na die Saunders-egpaar is van stapel gestuur. Die egpaar woon al sowat 25 jaar in Kaapstad, maar het ook burgerskap in die Verenigde Koninkryk. Hulle was volgens die Britse webwerf Mirror voor hul verdwyning besig om ʼn natuurprogram vir die BBC saam met die televisieaanbieder Nick Bailey te verfilm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

M ·

Dit gaan my verstand te bowe hoekom die beskuldigdes sommer uit die bloute die twee bejaarde mense sal ontvoer? N mens wonder net wat maak ‘terroriste’ op n stil plattelandse plek? N mens hoop regtig die egpaar word lewend gevind!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.