Bloed in vermiste Pta-man se bakkie gevind

Louis de Villiers word sedert Woensdag vermis. (Foto: Verskaf)

Die polisie in Noordwes krap kop oor die bloed wat in Louis de Villiers (35) se bakkie gevind is.

De Villiers is Woensdag die laaste keer by sy huis in Monumentpark gesien en sy bakkie is etlike ure later by die Letlabeli-winkelsentrum in Brits gevind.

Kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig die polisie het De Villiers se blou enkelkajuit-Isuzu verlate in die winkelsentrum se parkeerterrein aangetref.  Daar is bloed in die bakkie gevind. Sy beursie en selfoon is ook in die bakkie aangetref.

“Op die oog af kan ’n mens duidelik sien dit is bloed. DNS-toetse sal bevestig of die bloed wel dié van De Villiers of dalk ’n dier s’n is,” het Myburgh gesê.

“Intussen word De Villiers steeds gesoek.”

Maroela Media het vroeër berig De Villiers het Woensdag omstreeks 11:00 by sy huis in Monumentpark in Pretoria vertrek. Dit was die laaste keer dat sy familie hom gesien het.

Louis bedryf sy eie instandhoudingsonderneming en was op pad na die Johannesburg-omgewing toe hy by die huis weg is. Hy het ’n wit T-hemp en ’n denimbroek aangehad.

De Villiers se familielede het aan Maroela Media gesê hulle wag nou in spanning vir meer inligting.

“Ek het niks geslaap nie. My kind kan dalk iewers in ’n gat lê. Hulle moet hom net vir my terugbring. Ek wil net my kind terughê,” het sy ma, Nicolene de Villiers, Donderdag gepleit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cherokee ·

DNS-toetse? In Suid Afrika? Die vertelling is dat DNS-toetse in SA geweldig agter is.

piet ·

Ek is seker daarvan dat sekere gevalle voorkeur kan geniet of dat daar voorsiening voor gemaak kan word.

Casper ·

Ek is bevrees dit lyk in die stadium nie goed nie maar ons hoop en bid almal dat hy wel lewend gevind sal word.

Swerwer ·

Hoe lank gaan die DNS toets neem om gedoen te word en hoe lank gaan die uitslag neem?
Wonder maar net met die agterstand waarvan hul praat en intussen moet die familie probeer voortgaan met hul lewens.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.