Bloedige naweek op paaie

Die botsing in Diepsloot het die lewens van drie mense geëis. Foto: ER24

Die botsing in Diepsloot het die lewens van drie mense geëis. Foto: ER24

Minstens 26 mense is die naweek op die land se paaie dood.

In Limpopo is minstens nege mense dood in twee gru-botsings. In die een botsing is vyf mense dood nadat ʼn rooi VW Polo Vivo onder ʼn vragmotor beland het op die R573 tussen Marble Hall en Siyabuswa.

Vier mense, onder wie ʼn polisiesersant, is Saterdagmiddag dood in ʼn ongeluk buite Lephalale (Ellisras). Die ongeluk het op die Marken/R518-pad plaasgevind. Die bestuurder van ʼn dubbelkajuitvoertuig het glo beheer verloor oor die motor en teen ʼn aankomende motor gebots.

In Gauteng is drie mense, onder wie twee kinders, dood in ʼn botsing op die R114 in Diepsloot nadat ʼn bakkie en ʼn motor reg van voor gebots het. ʼn Vrou is dood en vier mense beseer in ʼn botsing op die N1-suid naby die Lynnwoodweg-afrit in Pretoria.

In Vanderbijlpark is ʼn man dood nadat hy vermoedelik beheer oor sy voertuig verloor en dit verskeie kere gerol het. Die man het uit die wrak gekruip, maar het naby die voertuig aan sy beserings beswyk.

Die ongeluk wat op die N1 naby die Lynnwoodweg-afrit plaasgevind het. Foto: Netcare 911

Die ongeluk wat op die N1 naby die Lynnwoodweg-afrit plaasgevind het. Foto: Netcare 911

Een mens is dood en drie beseer in ʼn trompop botsing op die R114 in Chartwell.

In die Noord-Kaap is twee mense dood en vyf beseer in ʼn botsing op die N14 naby Olifantsfontein.

ʼn Vyfjarige seun is dood en vier mense beseer nadat ʼn bakkie en ʼn bus gebots het op die N12 sowat 20 km buite Hopetown. Die seun se ouers is kritiek beseer in die botsing.

In die Wes-Kaap is ʼn man dood nadat hy beheer oor sy motor verloor en dit verskeie kere gerol het. Die voorval het op die N2 by die Garden Route Mall naby George gebeur.

In KwaZulu-Natal is ʼn man en ʼn vrou dood in ʼn botsing op die N2 in Pietermaritzburg. Die 15-jarige seun wat saam met die oorledenes in ʼn motor was, het ernstige beserings opgedoen.

Een mens is dood en agt beseer op die P154 naby Wartburg nadat die bestuurder van ʼn voertuig beheer verloor en die voertuig omgeslaan het.

In die Vrystaat is ʼn man dood nadat ʼn vragmotor teen sy stilstaande motor langs die pad gebots het. Die botsing het op die N1 naby Kroonstad plaasgevind. Twee mense is beseer.

In nog ʼn ongeluk naby Kroonstad is ʼn vyf maande oue baba dood en nege mense beseer nadat ʼn bakkie op die R76 omgeslaan en gerol het.

In Mpumalanga is ʼn man en ʼn vrou op die N4 in Alkmaar sowat 30 km buite Nelspruit deur motors doodgery. Die man is eerste getref waarna paramedici ontbied is en die man behandel het. Hy is egter op die toneel dood. Terwyl paramedici besig was met behandeling is ʼn vrou deur ʼn motor getref. Sy is ook op die toneel dood verklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Elizabeth ·

Ek wonder of dit nodig is om oor elke motorongeluk te berig – lyk my die dood is hoog op die lys van Maroela se prioriteite. Wat van meer internasionale nuus en sinvolle nuuskommentaar?

Linda Fourie ·

Ek dink dit is wel nodig om daaroor te berig ter bewusmaking van die sterkflikheid van die mens en jou laat dink dat die jy kon wees daar onder die blink kombersie langs die pad. Dit sorg hopelik dat mense versigtiger en bedagsamer bestuur?

Leeukop ·

Dit is noodsaaklik omdat daar mense is vir wie lewe kosbaar is en elke persoon wat sterf maak saak. Dankie Maroela dat julle omgee.

Marilize ·

Daar was ook op N1 Noord tussen Mookgopong en Mokopane lelike ongeluk sondagmiddag so 14h00. Daar was reeds 4 liggame onder die silwer komberse langs pad.

Geen meer respek ·

Dis omdat te veel mense geen meer respek het vir reels en wette nie. Menseregte waar die oortreders se regte beklemtoon word ten koste van die wat nie oortree nie, vryheid sonder verantwoordelikheid, en patetiese verkeerspolisiediens, maak ons dood. En die regerende party gee nie die minste om nie.

marianne ·

SPOED – DRANK en DAGGA!!!!
Onpadvaardige motors en bestuurders wonder lisensie.
Ongelukke gebeur wel onskuldige mense sterf.
Dit is harverskeurend!!!

ig ·

Dit is die verdomde lamppale,bome,padreeligs ens wat maaneinde dronk raak en snags rondloop se skuld

Will i am ·

Almal het mos deesdae n kode 10 lisensie. Weet nie hoe om te ry,parkeer ens. Kry eers kode 8 en probeer dan weer.

Challa ·

Die padmerke is so swak jy sien nie eers meer die lyne nie en die slaggate is baie erg. Ek sal se dit is ook n groot oorsaak

piet ·

Dis eintlik min as jy in die aande sien hoe gery word.ek het gistraant 700 km gery vanaf pretoria en nie een verkeersbeamte gesien nie

Theresa B ·

Wat verwag julle as daar geen padreëls meer is nie. Almal maak soos hulle wil op die paaie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.