Bloedoortapping gee ‘nuwe lewe’ aan spoegkobra-slagoffer

Dawid du Plessis in die hospitaal. Foto: Via Facebook / Pray for Dawid

“Danksy mense wat bloed geskenk het, het my seun meer lewe. Dit het ʼn groot verskil gemaak.”

Só sê die ma van klein Dawid du Plessis, die vyfjarige seun van Limpopo wat voorverlede week deur ʼn Mosambiekse spoegkobra gepik is en tans in ʼn Pretoriase hospitaal aansterk.

Dawid is op 23 Januarie omstreeks 23:30 in sy bed op sy hand gepik terwyl hy geslaap het. Hy woon saam met sy ouers, Philip (39) en Retha (33) du Plessis, op ʼn kleinhoewe in die Bulgerivier-omgewing buite Lephalale (Ellisras) in Limpopo.

Retha en Philip is betrokke by The Fold-kinderhuis wat na 33 kinders omsien. Philip en Retha het met Dawid en sy sussie, Megan (11), in hul bakkie gespring en hulle na ʼn hospitaal in Lephalale gehaas waar Dawid in die waakeenheid opgeneem en teengif toegedien is. Sy ouers het hom op 25 Januarie in die Netcare Montana-hospitaal laat opneem nadat sy toestand verswak het.

Dawid is sedertdien uit die waakeenheid na ʼn gewone saal oorgeplaas, maar was heeltyd moeg, slaperig en het nie na wense geëet nie.

“Hy was al vier keer vir operasies en moet Maandagmiddag nog ʼn operasie ondergaan waar sy wond skoongemaak en daar gekyk gaan word of sy infeksie onder beheer is,” het Retha Maandagoggend aan Maroela Media gesê.

Retha het gesê Dawid se bloedgroep is A+ en dat mense wat bloed skenk, moet besef hulle red lewens.

“Dawid moes oor die naweek ʼn bloedoortapping kry en ʼn mens kan sien hoe ʼn groot verskil dit gemaak het. Voor die bloedoortapping was hy baie pap en lus vir niks nie, nou praat hy weer baie, kyk DVD’s en speel met sy karretjies. Hy was Sondag ook vir die eerste keer weer in die buitelug nadat die slang hom gepik het en het die helfte van ʼn sjokolademelkskommel gedrink. Sy eetlus is egter nog nie wat dit moet wees nie.”

Dit is nog nie duidelik hoe lank Dawid nog in die hospitaal behandeling sal moet ontvang nie. “Dit hang alles maar af van vandag se operasie.”

Retha gee private onderrig vir Dawid en sy sussie. Hy was twee dae besig met graad R toe die slang hom gepik het. Retha sal met Dawid se skoolwerk voortgaan wanneer hulle weer terug by die huis is.

Retha en Philip het almal bedank wat hulle in hierdie moeilike tyd bystaan, ondersteun en vir hulle bid.

  • Marius Benade, ʼn boesemvriend van die gesin, het ʼn beroep op die publiek gedoen om die gesin finansieel by te staan met Dawid se mediese koste aangesien die gesin nie ʼn mediese fonds het nie en van skenkings afhanklik is vir sy behandeling. Klik hier vir die bankbesonderhede.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ada ·

Ai seun – ek kan net se sterkte aan jou en jou gesin en famielie.
Liewe Jesus is by julle!
Dink aan jou!

Andries Helm ·

Ek volg al die nuus oor klein Dawid van die begin af. Ek wil graag vir almal wat die berig lees vra om `n bydrae te maak, al is dit klein alle bietjies saam maak baie. Ons kan hierdie familie help. Dankie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.