Ten spyte van die merkwaardige spronge op die gebied van mediese tegnologie – van kunsmatige harte tot genetiese ingryping – bly bloed ’n skaars kommoditeit wat nie kunsmatig gekweek kan word nie.
Lewende vel uit ’n laboratorium, kompleet met bloedvate, is niks vreemd nie. Tog is die lewegewende vloeistof wat deur die 100 000 kilometer bloedvate in ons liggame bruis, letterlik goud werd (daar is sowat 0,2 mg goud in jou bloed!) Met minstens 1 uit elke 7 mense wat in die hospitaal beland wat bloed benodig, behoort bloedskenk beslis bo-aan jou doenlysie te staan.
Terwyl Suid-Afrika in Junie Nasionale Bloedskenkmaand vier, word Wêreldbloedskenkdag wêreldwyd op 14 Junie gedenk. Dié dag het ten doel om ’n bewustheid van die behoefte aan bloed te verhoog, om skenkers te bedank en te eer, en om gereelde bloedskenking deur geskikte skenkers aan te moedig.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD), wat in al die provinsies uitsluitend die Wes-Kaap werksaam is, lewer jaarliks meer as een miljoen bloedprodukte en word as een van die voorste bloeddienste ter wêreld beskou. Skenkers se bloed word verwerk tot rooibloedselle, plasma en bloedplaatjies en kan in beginsel tot drie lewens red.
Ravi Reddy, wat reeds 36 jaar in die bloedoortappingsektor werk, is in Maart vanjaar as die SANBD se nuwe uitvoerende hoof aangewys.
“Mense se lewens word aan ons toevertrou en daarom sal ons nóg harder werk om deur innovering en navorsing ons posisie as een van die wêreld se voorste bloeddienste uit te bou en te versterk,” sê Reddy.
Dié voormalige president van die Internasionale Vereniging vir Bloedoortapping (ISBT), is ook ’n lid van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se kundigheidskomitee vir biologiese standaardisering.
Die SANBD moet ’n bloedvoorraadvlak van vyf dae handhaaf vir elke bloedgroep om volgehoue beskikbaarheid van bloed vir pasiënte in nood te verseker. Volgens die SANBD is veral tipe O-bloed, die sogenaamde universele bloedgroep, broodnodig omdat dit aan pasiënte van enige bloedgroep (A, B of AB) gegee kan word. Die fisieke proses om bloed te skenk, neem minder as 10 minute.
Volgens die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKBD) is daar geen rede om skenkingsentrums tydens die koronaviruspandemie te vermy nie. Volgens dié organisasie is streng maatreëls ingestel om personeel én skenkers te beskerm.
“Daar is tans geen kliniese bewyse dat Covid-19 of enige respiratoriese virus deur bloedoortapping oorgedra word nie. Ons is voorts vol vertroue dat die goedgekeurde Covid-entstowwe nie ’n risiko inhou vir die pasiënt wat die bloedproduk ontvang nie. Inpas met internasionale protokol kan diegene wat die entstowwe ontvang het, bloed skenk, en skenkers hoef nie te verklaar of hulle ingeënt is of nie,” sê die WKBD.
Om ’n lewe te kan red, is meer as ’n keuse. Dis ’n verantwoordelikheid. Rol sommer nog vandag jóú moue op en red ’n lewe!
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
12 Kommentare
As hulle my kan verseker dat my bloed nie in die are van ‘n krimineel ingetap word nie, sal ek weer begin bloed skenk. Ek weier tot dan….
Ek kan ongelukkig nie bloed skenk nie. Ek’s onder gewig en bloeddruk is 80 oor 50 plus die gewasse op my skildklier…
Ek skenk vandag weer. Al 72 eenhede gegee.
Julle is vol vertrou dat die COVID entstof nie ‘n impak het nie; hoe weet julle? Is dit miskien getoets iewers, of is dit soos die entstof self, ook net bietjie spekulasie, sonder enige bewyse? Sover ek verstaan word die plasma van mense wat die mRNA inenting gevat het nie gebruik nie, omdat daar probleme is. Indien jy ‘n bloedoortapping nodig het, kan mens vra om bloed te kry sonder die inenting?
Seker die enigste saak waar rassisme nie saak maak. Die minderheid gee vir die meerderheid.