Bloedspatsel-analise aangehoor in Van Breda-verhoor

Kapt. Marius Joubert (Foto: Catherine Rice, ANA)

Die grys kortbroek wat die moordbeskuldigde Henri van Breda die aand gedra het toe sy ma, pa en broer vermoor is, het altesaam 67 bloedspatselvlekke daarop gehad.

Kapt. Marius Joubert, ʼn bloedspatselkenner by die polisie se forensiesewetenskap-laboratorium, het Maandag aan die Wes-Kaapse hooggeregshof gesê hy het ʼn aantal voorwerpe ondersoek wat deel was van die misdaadtoneel in die De Zalze-landgoed in Stellenbosch.

Van die 67 bloedspatsels op Van Breda se kortbroek, het DNS gewys dat 35 spatsels aan sy broer Rudi behoort, vyf was van sy pa Martin, en daar was ʼn mengsel bloedvlekke wat ook sy ma, Teresa, se DNS bevat het, het Joubert getuig.

Hy het aan die hof gesê die vlekke is waarskynlik die gevolg van kontak met ʼn bloedbevlekte voorwerp.

Joubert is die staat se laaste getuie in die saak teen die 22-jarige Van Breda, wat tereg staan op aanklag dat hy sy pa, ma en broer in Januarie 2015 met ʼn byl vermoor het en op aanklag van poging tot moord op sy suster Marli, wat in daardie stadium 16 jaar oud was.

Joubert het ook ʼn paar wit kouse, wat Henri aangehad het, ondersoek “wat verskeie bloedspatselvlekke bevat het”. Sewentien bloedmonsters is op die kouse ondersoek en nege monsters was van Rudi, een van Martin, een van Teresa en twee van Henri.

Joubert het bevind dat die bloedvlekke op die vloer aan Marli behoort, toe sy haar regterarm beweeg het toe nooddienspersoneel by die toneel opgedaag het.

Die bloedvlekpatroon in die kamer wat Rudi en Henri gedeel het, het daarop gedui dat houe met mening toegedien is terwyl Rudi steeds in die bed was. Dit dui ook daarop dat Rudi stil gelê het en ʼn plas bloed het rondom hom gevorm.

Joubert het gesê daar was ook ʼn patroon in die bloed wat wys dat Rudi deur die bloed beweeg het.

Bloedvlekke van Marli is op die rak in die gang gevind, en is waarskynlik veroorsaak deur ʼn voorwerp wat in beweging was.

Bloed op die stort se vloer behoort aan Henri, Rudi en Teresa.

Joubert het aan die hof gesê daar was bloedspatsels op die stort se deur, handvatsel, vloer en muur.

Van Breda het skuld ontken op drie aanklagte van moord, een van poging tot moord en een van dwarsboming van die gereg. In sy pleitverduideliking het hy gesê ʼn man, met ʼn klapmus, handskoene en donker klere, het in hul huis ingebreek en gelag toe hy die gesin met ʼn byl aangeval het. Hy het aangevoer die aanvaller het ook ʼn mes gehad.

Martin, Teresa en Rudi is dood in die aanval. Marli het ʼn ernstige breinbesering opgedoen. Sy ly aan geheueverlies en kan niks onthou wat die aand gebeur het nie. Sy sal nie in die hofsaak getuig nie.

Lees alle vorige berigte oor Henri van Breda op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hartseer ·

Dit is so hartseer om dit te lees. Ek volg elke artikel omtrent die moord. Hy soooo skuldig. Hoekom erken hy dit nie. Kan nie glo jy kan daagliks opstaan en nie dink aan jou pragtige familie nie. Iets moes drasties gebeur het om jou na dit te dryf. Jou pragtige ouers en broer en amper sus se lewe ook gekos. Waarheid sal uitkom.

Stan ·

Wil voorkom asof dit narsistiese sosiopatologiese gedrag is wat deur dwelm gebruik aangewakker is! Kry die sussie baie jammer.

Hennie ·

Met soveel bewyse, waarom het dit so lank geduur voor die mannetjie nader gehark is?

Babsie ·

Volgens bloed toetse wat van hom geneem is was daar nie tekens van dwelms nie. So ek vrrstaan dit nie

Wonder maar net ·

Is die sussie werklik nie in staat om iets te onthou nie? Daar is nog steeds te veel los draadjies. Ek dink daar behoort maniere te wees wat sy wel inligting kan gee.

Frik ·

As jy onskuldig pleit en wel skuldig bevind word is dit bewys dat jy geen berou het en daarom behoort daar dan geen versagtende omstandighede in aanmerking geneem word.
As die beginsel toegepas word sal minder kriminele onskuldig pleit en minder tyd en geld gemors word

Peet J ·

Gestel daar was ‘n tweede persoon wat die moorde uitgevoer het soos hy beweer en hy het probeer keer dan kon die bloedspatsels op die manier aan sy klere gekom het.

Theresa ·

Dis wat ek ook wonder. En dat hy waaragtig so geskok was met wat gebeur om hom dat hy “toegeslaan” het?? Hoe sal mens ooit weet.

SARIE VAN HEERDEN ·

Herhaaldelik is getuig dat dit ‘n gelukkige gesin was en dat dwelmgebruik van Henri eintlik die familie se enigste probleem was. Ek wonder of die kind nie wel onder die invloed daarvan was en niks van die aand kan onthou nie. Soms lyk hy vir my baie verward as ek na hom op tv kyk.
Ek hoop dat daar op een of ander manier vir hom wel genade sal wees indien hy skuldig bevind sou word.

Elizabeth ·

Sarie, daar gaan natuurlik vir hom genade wees. Soos vir die res van die moordenaars in ons land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.