Bloedtrekvideo: Geen stappe teen beamptes

‘n Skermgreep uit die video.

Beamptes van die Johannesburgse metropolisie wat ʼn vrou vasgepen het sodat ʼn bloedmonster van haar geneem kon word omdat sy glo onder die invloed van drank bestuur het, het binne die loop en omvang van hul pligte opgetree.

Dit is die bevinding van ʼn interne ondersoek wat gedoen is nadat ʼn video van die voorval wyd op sosiale media versprei is.

Die 25-jarige vrou het glo nie ʼn alkoholblaastoets geslaag nie, wat die Johannesburgse metropolisie genoodsaak het om haar in hegtenis te neem en na die Douglasdale-polisiestasie, in die noorde van Johannesburg, te neem. Die vrou is vasgepen sodat die bloedmonster van haar geneem kon word. ʼn Video is van die prosedure gemaak en op sosiale media versprei.

Volgens Michael Sun, Johannesburgse burgemeesterskomiteelid van openbare veiligheid, sal daar in dié stadium geen dissiplinêre stappe teen die betrokke beamptes gedoen word nie.

“Hoewel ons besef dat die video op sigself ontstellend is, skets die bevindinge van die ondersoek nie ʼn soortgelyke prentjie nie. Ons kan nie daarin slaag om dronkbestuur te bestry as ons nie wet en orde handhaaf nie. Dit beteken ook dat mense soms gedwing moet word om wettige opdragte uit te voer ter beskerming van alle inwoners.”

Die ondersoek na die voorval het bevind dat beamptes van die Johannesburgse metropolisie en die Douglasdale-polisie op 5 Julie van 21:00 af tot 04:00 op 6 Julie ʼn padblokkade opgestel het waartydens motoriste van die pad af getrek is.

“Kort ná die padblokkade opgestel is, is ʼn vrou in ʼn silwer motor deur die metropolisiebeamptes van die pad af getrek. Die vrou is versoek om ʼn alkoholblaastoets te doen en die beampte het die proses aan die bestuurder verduidelik. Die bestuurder het haar samewerking gegee en die uitslag van die toets het gewys dat sy oor die wettige perk is en dus onder die invloed van alkohol bestuur het.”

Die bestuurder is hierna in kennis gestel dat sy na die naaste polisiekantoor, in dié geval die Douglasdale-polisiestasie, sal moet gaan vir verdere prosessering. Sy is in ʼn metropolisie-patrollievoertuig gelaai en na die polisiestasie geneem.

Michael Sun (Foto: ANA)

Volgens Sun het die vrou tydens die rit na die polisiestasie mense begin bel om haar te kom bystaan. “Met haar aankoms by die polisiestasie is sy na ʼn gepaste fasiliteit geneem waar ʼn verpleegsuster aan diens was om by te staan met die trek van bloed.”

Dit is in dié stadium dat die vrou glo emosioneel geraak en geweier het om haar samewerking te gee. Twee mans het kort hierna by die polisiestasie aangekom en hulself onderskeidelik geïdentifiseer as die vrou se kêrel en ʼn vriend. “Hulle het die vrou probeer oorreed om haar samewerking te gee, maar was nie suksesvol nie en is daarna versoek om die vertrek te verlaat.”

ʼn Polisiebeampte het intussen gesien dat een van die mans ʼn vuurwapen het en het die wapen om veiligheidsredes verwyder. “Ná omtrent ʼn uur waartydens gepoog is om die vrou se samewerking te kry en die verpleegster wat verduidelik het hoe die prosedure werk, het die vrou steeds geweier om haar samewerking te gee.

Volgens Sun het metrobeamptes geen ander keuse gehad as om, ter nakoming van toepaslike wette, geskikte en minimale krag te gebruik om die bestuurder onder beheer te bring sodat die verpleegsuster die bloedmonster kon neem nie.

Hy het gesê dit was nodig sodat die beamptes hul pligte kon uitvoer en om die veiligheid van almal betrokke te verseker. “Nadat die bloedmonster geneem is, het die bestuurder kalm geraak en selfs die nodige dokumente onderteken.”

Die vrou het in aanhouding gebly en ʼn saak van bestuur van onder die invloed van alkohol is teen haar aanhangig gemaak. Volgens Sun is niemand tydens die voorval beseer nie en is daar tot op hede nog geen klag ontvang teen die beamptes wat by die voorval betrokke was nie.

“Daar is onbevestigde berigte dat strafregtelike klagte teen die bestuurder voorlopig teruggetrek is weens redes wat onbekend is aan ons.,” het Sun gesê. “Ons sal egter opvolg met die Nasionale Vervolgingsgesag om vas te stel waarom die aanklagte glo teruggetrek is.

“Dit is ook om hierdie rede dat ons nie in staat is om enige ander besonderhede bekend te maak nie, aangesien die klagte weer ingestel kan word en die bestuurder aan ʼn misdaadondersoek onderhewig kan wees of steeds is,” het Sun gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

49 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stan

Kan MM dalk uitvind wat die resultaat was van die bloedmonster?
Dit sal hopenlik die hoofstuk afhandel

Sons

Ja, ek het geen meer woorde vir die patetiese regering van SA nie. Say no more!!!

Antoinette

Nee wat as dit haar taktiek is om nie bloed te wil gee nie en sy weet sy is verkeerd nie dan moet sy maar vat wat haar kant toe kom

Annie2

Vir wat skreeu sy so? Die pypie blaas het gewys sy het die limiet oorskry. Bloed trek is die volgende stap. Te veel onskuldige mense sterf in pad ongelukke as gevolg van dronk bestuur. Het sy nou gedink om te skreeu gaan haar help. Inteendeel, dit maak dit net erger. Dit is eintlik ‘n skande.

koos

Ek stem. Sy het haarself in hierdie posisie geplaas en nou kla sy. Dis soos om jou ouers te vermoor en dan tydens die hofsaak versagting te pleit omdat jy nou ‘n weeskind is.