Bloedvoorraad bereik kritieke laagtepunt

Foto: SANBS

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) het ʼn beroep op Suid-Afrikaners gedoen om bloed te skenk nadat bloedvoorraadvlakke ʼn kritieke laagtepunt bereik het.

Ivor Hobbs, woordvoerder van die SANBS, het aan Maroela Media gesê daar is tans slegs genoeg bloedvoorraad vir die volgende 1,6 dae. “Vir die SANBS om optimaal te funksioneer, het ons vyf dae se voorraad nodig. Gewoonlik wissel ons voorraad vir tussen 3,5 en vyf dae. Ons voorraad is dus ver onder wat dit moet wees.”

Hy het gesê die voorraadvlak verwys na die algemene landwye voorraad van bloed, maar dat dit op verskillende plekke en vir die verskillende bloedgroepe verskil. “In die noordelike gedeelte van Gauteng het ons tans minder bloed beskikbaar as wat die daaglikse vraag na bloed is. Daar moet dus bloed van ander provinsies af gebring word om aan die vraag na bloed in Pretoria te voldoen.”

Hobbs het gesê daar is verskeie veranderlikes wat bydra tot die wisseling in die bloedvoorraadvlakke, onder meer die vraag na bloed en mense wat tydens eksamentye by skole en ander onderriginstansies minder tyd kry om bloed te skenk. “Die grootste uitdaging vir ons is beslis om mense sover te kry om gereeld te skenk. Minder as 1% van die Suid-Afrikaanse bevolking skenk bloed; baie mense sal een keer skenk en dan sien jy hulle nooit weer nie. Om mense sover te kry om bloed te skenk én dit gereeld te doen, is die groot uitdaging.”

Volgens Hobbs is alle bloedsoorte nodig. Dit is  ʼn mite dat slegs O-bloedgroepe werklik benodig word. “Ons het van alle bloedgroepe nodig om te alle tye genoegsame bloedvoorraad te hê,” sê hy. Hy noem wel dat die O-bloedgroep die mees veelsydige bloedgroep is en dat tussen 45% en 47% van Suid-Afrikaners in ʼn O-bloedgroep val – daarom word mense met ʼn O-bloedgroep veral aangemoedig om gereeld te skenk.

“Die werklikheid is dat die meerderheid Suid-Afrikaners geskik is om bloed te skenk, maar dat soveel mense dit nie doen nie. Daar is ook baie mites daar buite wat mense verhoed om bloed te skenk,” sê Hobbs. “Dit is so belangrik om te onthou dat tot drie lewens gered kan word met een bloedskenking.”

Om bloed te skenk moet jy ouer as 16 jaar wees, ʼn minimum van 50 kg weeg en goeie gesondheid geniet. Onthou om ʼn gebalanseerde maaltyd te eet minstens vier uur voordat jy skenk en dat jy net een keer elke 56 dae kan bloed skenk.

Bloed kan by enige van die SANBS se landwye sentrums geskenk word. Besoek die SANBS se webwerf om die beskikbare sentrums te sien.

Nader die SANBS by 0800 119 031 of [email protected] vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Justice ·

Met die wetteloosheid en geweld in die land is ek glad nie verbaas oor die lae vlak van bloedvoorraad nie.

Vinnige gustav ·

En hulle wonder nog waarom niemand bloed wil skenk? Ek was ñ gereelde bloedskenker maar ek het besluit ek sal nie meer nie, vir wat moet ñ mens jou bloed skenk? Sodat dit verniet vir een of ander moordenaar gegee kan word nadat hy deur die polisie geskiet is en dan verniet hulp in die hospitaal kry? Maar ons wat skenk moet belaglike bedrae betaal as ons die dag bloed nodig het, nee wat nee dankie, ek sal skenk as ek weet vir wie dit gegee word of as mens verniet bloed kan kry as jy dit die dag nodig het en ñ gereelde skenker is. Totdat so iets gebeur gaan hulle nooit genoeg bloed hé, of hulle kan my betaal vir my bloed nes ek moet betaal vir bloed as ek dit nodig het

Sydney ·

Ek kan met alle eerlikheid se dat die bloedbank baie van die blaam moet dra. Ek het verlede week bloed gaan skenk by een van hulle sateliet takke naby Amanzintoti. by die sateliet tak was ek aangese dat ek nie mag skenk nie omrede ek weereens n dokters verslag moet indien siende dat my vorige een verval het Febr 2017. Ek het na die datum al 2 keer geskenk sonder enige probleme. Ek staan tans op 178 pinte. Ek het glad nie n probleem om bewyse te lewer om te bevestig dat my diabetes status onder beheer is nie. Ek het Vrydag hulle “customer care service” per email gekontak. tot van dag toe het hoofkantoor my glad nie terug geantwoord nie. Ek het wel n oproep van iemand Maandag oggend gehad, ek vermoed plaaslik wat my gekontak het. ek het my probleem weereens verduidelik. Die dame het gese sy sal my dokter kontak en dieselfde middag terug kom. amper Vrydag weer. Ek hou eerder op om te skenk as om sulke diens tevrede te wees as n gereelde skenker. Tussen myself en my 3 kinders het ons al die 400 eenhede verby gesteek. Ek se maar net terleurgesteld met die bloedbank.

Antionette ·

nes jy daar sê vinnige Gustaf, die regering is alewig besig om te kyk waar ons iets moet betaal, tyd dat ons bietjie betaal word. Dit sal ook nogals interessant wees om te weet hoe lyk die statistieke wat skenk volgens ras.

Snoefels ·

As hulle my betaal het vir my bloed dan sou ek met liefde in die queue gaan staan het elke week/maand maar nou ja.. mense betaal honderde rade om bloed te ontvang maar jy kry niks as jy skenk nie ? Hulle belas dit ook nog !

Catherine ·

Skenk bloed….geen probleem ,maar het al baie betaal om bloed te ontvang. Regverdig….I think not..

Nope ·

Neewat ek skenk ook nie bloed nie, as ons dit regtig nodig het kan ons familie onder mekaar skenk, ek sal NIE langer bloed skenk aan mense wat mekaar met messe steek en in bendegeweld betrokke raak of in taxi-ongelukke is weens hulle eie nalatigheid nie. Jy skenk verniet, maar moet altyd ten duurste daarvoor betaal. Neewat laat die grootste monde gaan skenk, hulle het mos ‘n paar jaar gelede kapsie gemaak toe verskillende etniese groepe se bloed verskillend uitgedeel is, so ek doen NIKS meer vir die ‘gemeenskap’ nie, laat die staat vir hulle sorg. Laat die staat maar kyk waar kry hulle die bloed!

Amanda ·

Stem saam. Betaal my en ek sal dit oorweeg. Hulle maak mens vrek seer en se dan…..haai ons kry nie jou are nie. Lyk of ek drugs gebruik weke daarna nog. Betaal my vir my bloed. Die regering gee my niks vernuut nie, kyk net waar hulle nog en nog en nog by die belasting betaler kan kry. As ek verniet bloed skenk hoekom met ek ten duurste daarvoor betaal. Dit is mos nou n lekker winsgewinde besigheid die!!!!

Gys ·

Hulle personeel wat die naald insteek is ook onbekwaam. Ek het bloed geskenk vir die eerste keer en gedink ek doen iets goed. Die volgende oggend was my hele arm blou en so seer ek kon skaars my arm optel.Ek het hulle gebel om te vra wat vout is en wie gaan nou die dokters rekening betaal. Hulle antwoor. Gaan dokter toe en jy moet maar self betaal. Die dokter het gese hulle het die naald deur die aar gesteek en bloed het onder die vel opgedan. Dus skenk ek nie weer bloed nie. En as jy bloed nodig het betaal jy klein huise vol geld by die hospitaal.

Jacobus ·

Die rede hoekom skenkers in Suid Afrika en die meeste van die lande waar bloedskenkings op ‘n vrywillige basis nie betaal word nie is om te verhoed dat persone wat aan dwelms verslaaf is of wat HIV+ of VIGS (AIDS) het nie skenk om sodoende geld in die hande te kry as hulle werkloos is of om hulle verslawing te voed.

Hoeveel van die lesers wat kommentaar lewer oor die prys van bloed weet wat dit die Bloed Bank kos om die bloed te toets en berg, te vervoer, personeel salarise, huur van persele, onderhoud ens.

Vir die wat kla oor naald beserings, maak soos ek gemaak het, skenk maar dring daarop aan dat net sekere van die Susters op diens die naald hanteer. Het oor die jare geleer wie van die Susters weet hoe om ‘n naald te hanteer.

Vir die wat kla oor wie bloed mag kry en wie nie, wat gaan julle sê as daar nie bloed vir julle of julle familie is nie.

Onthou dit is die gesindheid waarmee jy skenk wat tel en nie wat jy uit dit kan kry nie.

As jy wil kla, kla dan maar en as jy wil bloedskenk, skenk; dit doen jou net goed om van die ou bloed ontslae te raak.

Van ‘n betroubare en volharde bloedskenker

Anita Sonnendecker ·

Ek stem saam met Jacobus. Ek is genoodsaak om bloed te skenk omdat ek aan hemochromatose (ysteroorlading) ly en dit die natuurlike manier is om die toestand in bedwang te hou. Reeds 57 eenhede geskenk.

Vir my was dit aanvanklik moeilik om die vrees te oorwin, maar ek het gelukkig by die Queenswood-tak begin skenk en die vriendelike personeel het later vir my soos familie gevoel.

Nadat die fasiliteit gesluit is, het ek by Hatfield Plaza begin skenk en het net lof vir die netjiese en professionele opset daar.

In al die tyd het ek slegs een keer ‘n probleem gehad, maar ek was onder geweldige spanning en het toe ‘n bekende suster gevra om hulp te verleen, wat sy met vriendelikheid gedoen het.

Ek vind dit jammer dat daar soveel mense is wie nie bereid is om te skenk nie en wil enigiemand aanmoedig om dit tog ‘n keer op die proef te stel. Alles in die lewe hoef mos nie noodwendig op die basis te geskied van wat die voordele vir myself is nie. Ek het al soveel kere seën ontvang van mense wie niks aan my verskuldig was nie.

Liza101 ·

Nee wat ek loop ook nie weer die risiko met daai madame met die naald nie. Dink sy het my aspris so seer gemaak!

Z ·

Ek het julle berig gelees en vanmiddag, na 13 jaar weer geskenk. Dit voel goed om iets te kon gee, aangesien ek elke dag soveel guns en genade gratis ontvang. Ek het baie vriendelike diens gekry en twee personeellede het my bedank vir my bloed. Ek kon n Afrikaanse vorm invul en die Engelse suster het selfs probeer om n paar woorde in Afrikaans te praat.

Se net.... ·

Dankie Z..mense soos jy se bloed het my lewe al n paar keer gered

Johan Venter ·

Dankie aan almal wat wel bloed skenk, ek wonder egter wat sal die rede wees hoekom hierdie bloed skenking debakel nie ook onderhewig is aan BEE wetgewing nie.
Miskien moet ek seker maar aanvaar dat sekeres net altyd wil ontvang of hê.

Jacobus ·

Johan, as die ontvangs van bloed onderhewig moes wees aan BEE dink net wat se probleme dit sou veroorsaak vir die bevolking.

Die selfde kan gesê word oor skenkings.

Dink net as jy of een van jou familielede bloed moes ontvang en daar word aan jou gesê dat weens BEE, jy nie bloed kan ontvang nie want jy voldoen nie aan die 51% swart bemagtiging nie of omdat die blanke bevolking 10% van die totale bevolking verteenwoordig jy net 10% van die bloed wat jy benodig kan kry.

Wat gaan jy doen?

Bloed red lewens en solank ons almal, wit en swart in die land net wil besef dat ons almal rooi bloei, dan sal die meeste van die mensgemaakte probleme al klaar opgelos wees.

Leef en laat leef.

Helena Smith ·

Ek skenk bloed en gee glad nie om om dit te doen nie, my pa het 11 jaar lank bloedkanker gehad en het vele bloedaanvullings gehad. Baie mense het anoniem sonder enige voorwaardes hul bloed vir hom geskenk, hoekom sal ek nie dieselfde doen nie? Terloops baie bloed gaan na kankerlyers toe.

Peet Schabort ·

Vir baie jare het my vrou tydig en ontydig bloed geskenk want sy was O-neg. Sy was altyd bereid om te gaan skenk wanneer sy moes help. En toe, wat gebeur, sy kry kanker waaraan sy ook oorlede is en die mediese fonds moes opdok vir die bloed. Skynbaar is daar geen rekord wat gehou word en dus geen erkenning wat geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.