Bloedvoorraad kritiek laag voor Paasnaweek

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBS) se bloedbank-voorraad is kritiek laag met die Paasnaweek wat voor die deur is.

Maryke Harris, ʼn woordvoerder van die SANBS in die Oos-Kaap, het aan Maroela Media gesê die nasionale bloedvoorraad staan vandag op slegs 2,7 dae.

“Ons mik om altyd minstens vyf dae se voorraad te hê. Dit het verlede week tot slegs 1,6 dae geval,” het Harris gesê.

Volgens Harris staan die bloedvlakke in die verskillende provinsies/areas waarin hulle dit opdeel as volg:

  • KwaZulu-Natal – 1,8 dae
  • Oos-Kaap – 3,6 dae
  • Die Egoli/Gauteng area – 3,2 dae
  • Vrystaat en Noord-Kaap – 2,8 dae (grootste geografiese gebied, maar minste skenkers)
  • Mpumalanga en Limpopo – 3,3 dae
  • Noordelike sone – 2,1 dae
  • Die Vaal-area – 3,4 dae

Volgens Harris is die bloeddiens veral op soek na bloed van die O-groep omdat dit universele skenkers is. “Gewoonlik het ons meer as genoeg van die A-bloedgroep, maar ons vlakke is so laag dat ons nie eens genoeg daarvan het nie; dit is nou op slegs 3 dae.

“Ons doen twee goed as ons vlakke so laag daal. Ons hou ons bloedskenksentrums langer oop en ons personeel werk ongelooflik baie oortyd. Tweedens laat weet ons al die hospitale en dan begin ons bepalings doen oor hoeveel bloed benodig word. Dit beteken byvoorbeeld as ʼn dokter drie punte bloed bestel, kyk ons na die mediese rekords en maak ʼn besluit oor of die persoon dalk kan regkom met net twee punte. As die dokter daarop aandring, sal ons wel die derde punt gee,” het Harris gesê.

Volgens Harris sal hulle ook bepaal of nie-lewensbedreigende operasies moontlik met een of twee dae uitgestel kan word in tye wat daar ʼn tekort is. Die SANBS het reeds albei strategieë in werking gestel.

“Ons besef mense is skugter om te skenk, want daar is ʼn naald betrokke en dis ʼn bietjie traumaties, maar ons probeer mense maar met geskenkies en sulke tipe goed oorreed om te kom skenk. Dis amper nie vir mense genoeg net om ʼn lewe te red nie. Mense vra ook gereeld hoekom hulle vir bloed moet betaal as hulle verniet geskenk het. Jy betaal nie vir die bloed nie, jy betaal vir die diens – die temperatuur moet reg wees en dit moet getoets en vervoer word. Ons word ook wetlik verbied om mense te betaal vir bloed. Die oomblik as jy byvoorbeeld vir mense ʼn bewys gee vir ʼn ete by ʼn restaurant gaan jy die verkeerde mense trek.”

Harris sê ook dat hoërskole vir meer as ʼn kwart van die SANBS se bloed verantwoordelik is en dat hulle nou onder ekstra druk verkeer omdat dit skoolvakansie is. “Mense skenk nie in skoolvakansies nie en almal is op die paaie. Dit veroorsaak regtig probleme vir ons. Mense wat kanker het en plasma of plaatjies benodig, het dit ook steeds oor Paasnaweek nodig.”

Unitas-hospitaal in Centurion hou Woensdag ʼn bloedinsamelingsinisiatief waar die publiek die geleentheid kry om in die voorportaal bloed te skenk.

Die SANBS moedig mense aan om te skenk, kyk hier vir die volledige lys plekke waar jy kan gaan skenk.

Mense kan ook 0800 11 9031 bel om uit te vind waar hul naaste mobiele bloedskenksentrum is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dereck Le Roux ·

Die nasionale bloed vooraad is ook seker afgegradeer na rommelstatus toe.

Ekke ·

Hoe lekker laat jy my nou lag Dereck?ons kan mos nou enige iets verwag in hierdie deur mekaar land van ons. As die bloedbank net kan se aan watter bloedgroep van bloed hulle die mees nodigste het sal ek baie graag my bydrae maak aan hulle.

Christo Visagie ·

Laat hulle maar die Wet verander, dan kan julle ook betaal vir mense se bloed, oorsee het hulle die mense ‘n hele klomp jare terug 20 pond vir ‘n pint bloed betaal,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,,

Scalla ·

Was daar nie die tyd so iets van elke pint bloed wat jy skenk jy n pint bier ontvang nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.