Bloem-begraafplaas nou rioolplaas

Riool is orals te sien in die begraafplaas (Foto: Verskaf)

Die Memoriam-begraafplaas in Bloemfontein is nou reeds vir langer as ’n jaar met riool oorstroom, klaarblyklik weens die afwesigheid van toesig en instandhouding van die munisipaliteit. Behalwe daarvoor loop die grafte en grafstene deur onder vandale.

Adriaan de Bruyn, VF Plus-raadslid in die Mangaung-metro, sê die riool loop al van voor Augustus 2019 die begraafplaas in. Hy sê die rioolbesoedeling aangrensend aan die begraafplaas het onlangs so erg geraak dat nabygeleë grafte in die grond begin wegsak.

“Duisende liter riool borrel tussen die treinspoor en die begraafplaas en het in effek al ’n riooldam gevorm,” sê Du Bruyn.

De Bruyn sê weens die munisipaliteit se versuim van toesig en instandhouding beland vullissakke en rioolwater in ’n stormwaterkanaal wat deur die begraafplaas loop.

Vullissakke en rioolwater beland in ’n stormwaterkanaal wat deur die begraafplaas loop (Foto: Verskaf)

“Die hoofrioollyn van die suide van Bloemfontein het ’n blokkasie net voor die begraafplaas. Dit is ten minste drie voorstede se rioolwater wat dan in die begraafplaas uitloop.”

De Bruyn sê hierdie vullis- en rioolbesoedelde water loop in ’n natuurlike spruit en uiteindelik na die Mockesdam, waarna dit vir menslike gebruik gesuiwer word.

Verder word die grafstene en mure van herinnering by die begraafplaas ook oopgebreek en geplunder. De Bruyn sê dit gebeur omdat daar nie voldoende toegangsbeheer by die begraafplaas is nie en enigiemand van die publiek die begraafplaas omtrent vrylik kan betree.

“Die meeste grafte is ook reeds gedeeltelik met onkruid toegegroei vanweë die metro se ongeërgdheid teenoor instandhouding,” sê De Bruyn.

Bekommerde inwoners van Bloemfontein het Dinsdag hul misnoeë oor die toestand van dié begraafplaas teenoor Maroela Media uitgespreek. Talle klagtes is ook al by die munisipaliteit ingedien van inwoners wat weens die rioolbesoedeling en vandalisme nie die grafte van hul geliefdes kan besoek nie.

“Die haglike toestand van die begraafplaas is absoluut skokkend,” sê Nicole Viljoen, omroeper van die gemeenskapsradiostasie Radio Rosestad.

Die mure van herinnering is geplunder (Foto: Verskaf)

Viljoen sê haar oumagrootjie is in die begraafplaas begrawe en sy het die afgelope drie jaar nog nie weer haar graf besoek nie. “Dit was in ʼn stadium die mooiste begraafplaas in die stad wat nou heeltemal verval het. Dit is ook baie onveilig,” sê sy.

Nog ʼn inwoner, wat anoniem wil bly, sê dit is hartseer hoe die grafstene geplunder is en dat die terrein glad nie in stand gehou word nie. “Families kan omtrent nie eers meer hul geliefdes [se grafte] besoek nie, want ʼn mens verwag net om die ergste te vind. ʼn Begraafplaas is ’n plek wat veronderstel is om gerespekteer te word,” sê die inwoner.

Volgens Du Bruyn het die begraafplaas se toestand agteruit gegaan onder die toesig van die gewese uitvoerende burgemeester van die metro, Olly Mlamleli.

“Indien die ANC haar sou herverkies tot burgemeester sal dit as bevestiging dien dat die ANC geen erns met die omgewing en gesondheid van mens en dier het nie, maar ook geen respek het vir oorledenes en hul geliefdes nie,” sê De Bruyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Sarel ·

Bloemfontein O Bloemfontein my trane rol oor jou my eens pragtige stad.

marius ·

Laat Greecy se kinders daar gaan swem en speel . Nikswerd spul lakke.

Johan ·

Hierdie misdadigers wat nou die land regeer, gaan ons bodem so verwoes dat cholera en ernstige siektes ons voorland is. Ek wag dat ons een oggend wakker word met die nuus dat meer as een miljoen mense ernstig siek is en SA ‘n nood-toestand gaan afkondig!!

Plaaskind ·

Dis darem maar sleg om te dink mens moet nie net oor ons lewende familie en vriende nie, maar ook die wat ter ruste gelê is ook bekommer. Die boosdoeners het geen geen respek vir enige iemand nie en so ook die munisipale amptenare.

Jakes ·

Hierdie gedrag is normaal en die norm gegewe die land se regeerders.

Danie ·

Net weereens bevestiging in my gemoed dat ek nie geplant nie maar gestrooi sal word.

RS ·

Dit is n absolute tragedie. Dis wat gebeur as onbevoegde persone aangestel word.

annie ·

En elke naweek word laaang en duuur ANC-begrafnisse gehou en groootse grafstene opgerig, selfs doodskiste word as monumente heilig geag veral sonder ‘n dooie binne-in, maar wit mense se begraafplase word sonder respek vir hul naaste gesaboteer en verinneweer. Rassiste! Leuenagtig! Vernielsugtig! Lui!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.