Bloem-bejaarde vir selfoon en R150 aangerand

anne-els

Anne Els is Donderdag erg in haar huis in Bloemfontein aangerand. Foto: Verskaf

Anne Els (75) word in die waakeenheid van die Mediclinic Bloemfontein behandel nadat sy Donderdag erg in haar huis in Universitas aangerand is.

Anne se man, Johannes, het Vrydag aan Maroela Media gesê hy het omstreeks 10:00 die huis verlaat om rekeninge te gaan betaal.

“Ek weet nog nie presies wat gebeur het nie want my vrou kon, weens die aard van haar beserings, nog nie sedert die aanval praat nie,” het Johannes gesê. “Ek vermoed sy was buite in die tuin besig om die plante water te gee toe haar aanvaller oor die duiwelsvurk-heining geklim en haar oorweldig het.”

Die aanvaller het haar vermoedelik in die huis in gedwing en op geld aangedring. “Daar was egter nie geld in die huis nie, net R150 wat in my bedkassie was. Die aanvaller het dit en ʼn selfoon gesteel en die huis geplunder op soek na ander waardevolle items.” Anne is tydens die voorval vermoedelik met ʼn harde voorwerp aangerand.

Johannes het omstreeks 12:00 by die huis gekom en sy erg beseerde vrou op die vloer in die gang aangetref. Sy was nie by haar volle bewussyn nie en kon glad nie loop of praat nie. Johannes het dadelik die polisie en nooddienste ontbied, en hulle was vinnig op die toneel.

Anne is na die Mediclinic Bloemfontein gehaas waar sy in die intensiewesorgeenheid opgeneem is.

Amanda Appelgryn, hospitaalwoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê Anne is in ’n stabiele toestand en steeds in die intensiewesorgeenheid waar sy aan ʼn ventilator gekoppel is. “Sy het swelling en bloeding aan die linkerkant van haar gesig opgedoen, maar het gelukkig nie ʼn skedelfraktuur of swelling op die brein nie,” het Appelgryn gesê.

Volgens kol. Thandi Mbambo, ʼn provinsiale polisiewoordvoerder, word ʼn saak van huisbraak ondersoek. “Meer inligting is nog nie in die stadium bekend nie omdat die vrou nog nie kan praat nie,” het Mbambo gesê. “Dit is nie bekend hoeveel verdagtes by die voorval betrokke was nie. Niemand is nog in verband met die aanval in hegtenis geneem nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
anet

Anne en Johannes, sterkte ons hoop en bid vir spoedige herstel. Dit is so hartseer oor wat besig is om in suid-Afrika te gebeur. Wetteloosheid, Moord, Verkragtings,Aanvalle op brose mense. Ek wil graag verwys na ‘n ander media berig vandag, waar Bheki Cele vra dat ons voedsel moet skenk omdat daar 12 Miljoen Suid Afrikaners daagliks sonder kos gaan slaap. Die boere wat voedsel moet voorsien word daagliks uitgemoor. Hoekom word daar nie iets aan ons misdaad gedoen nie, dit werk mos van Bo af(Leiers van ons Land) na onder. Nou word weerlose teikens aangeval vir R150 en ‘n Selfoon.… Lees meer »

Izak Nel

Net huisbraak???

amelia

Die goed word vir huisbraak gesoek Sou eerder se poging toto moord Wie betaal nou die hospitaal onkostes ens Sy moet sommer die staat dagvaar vir pyn en lyding Nerens is jy veilig nie Die land is in sy kanon

ekke

Ek is magteloos!!! Ek is boos!!! Ek is hartseer!!! Wat gaan van ons word, wat???.

Elizabeth

Ai liewe hemel ek kan net vir die arme vrou bid vir beterskap, volkome herstel en sterkte vir die toekoms. Ek voel bitter bitter jammer vir haar en hoop nie sy hou enige geestelike letsels oor nie. Mag haar man, familie en ook asb die gemeenskap en kerk haar goed bystaan om hierdeur te kom. Die duiwel wat dit veroorsaak het – wel ek het nie woorde en mag alles wat sleg is hom tref. Kan die selfoonmaatskappy dan nie enigsins opspoor waar die foon is en so help nie – daar is tog maniere wat hul kan, ek weet… Lees meer »