Bloem-DBV het jou hulp dringend nodig

bokser-honde-troeteldiere

Foto: Nancy Nobody/Pexels.com

Die Bloemfonteinse tak van die Dierebeskermingsvereniging van Suid-Afrika (DBV) het ʼn dringende pleidooi aan die publiek gerig nadat dié organisasie se enigste middel van vervoer onlangs in ʼn ongeluk betrokke was.

In ʼn verklaring sê die DBV dié bakkie, wat sowat tien jaar oud was, was in die laaste paar jaar as’t ware die organisasie se regterhand om diere in dié stad te beskerm.

Die bakkie het in die laaste dekade onder meer 15 053 dwaaldiere opgelaai om te verhoed dat hulle onder voertuie beland en altesaam 17 856 dierekinders na sy kliniek vervoer omdat hulle “mensouers” nie meer na die diere kon omsien nie.

Die bakkie het meer as 410 000 km afgelê om “diere in nood te help”, lui die verklaring. “Ongelukkig, omdat die bakkie reeds so oud was, het dit geen waarde nie en sal ons baie min geld van die versekering kry. Hierdie uitdaging maak dit nou vir ons baie moeilik om ons deel te doen en diere wat ons hulp nodig het, te beskerm.”

ʼn Motorhandelaar in die omgewing het reeds onderneem om ʼn bakkie teen ʼn laer prys aan die DBV te verkoop, maar dié organisasie benodig steeds fondse om uiteindelik in staat te wees om ʼn nuwe voertuig aan te koop.

“Elke enkele skenking sal bydra en ons help om ʼn nuwe bakkie aan te skaf sodat ons met ons werk kan voortgaan,” sê die organisasie.

Vir meer inligting oor skenkings kontak die Bloemfontein-DBV (25 McGregorstraat, Bloemfontein) by 051 447 3801 of stuur ʼn e-pos na [email protected]. Besoek ook die Bloemfontein-DBV se amptelike webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.