Bloem DBV red 53 verwaarloosde diere

Een van die katte wat in ‘n slegte toestand gevind is (Foto: Verskaf)

Die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) het Woensdag 53 diere gered wat by ʼn klein eenslaapkamerhuis in die Bloemdal-Oos, net buitekant Bloemfontein, onder haglike omstandighede aangetref is.

Die DBV se inspekteurs het tydens ʼn roetine-inspeksie op 50 verwaarloosde katte, twee honde en ʼn perd by dié huis afgekom.

Duán Matthee, inspekteur by die DBV, sê toe die inspekteurs naby die huis kom, het hulle bewus geraak van ’n geweldige stank. “Toe ons die huis binnegaan, het ʼn sterk reuk van ammoniak ons getref. Ons kon skaars asemhaal,” sê Matthee.

Volgens Matthee het omtrent 50 katte verwilderd in dié klein huisie rondgehardloop. Die huis was vuil en ontlasting het oral in die huis gelê. Die katte se bokse waarin hulle slaap was ook vol ontlasting. “Die katte het hul eie ontlasting as sand gebruik om te urineer.”

Matthee sê dit het geblyk asof die katte in die klein huisie vasgekeer was. “Dit is ondenkbaar om te dink hoe so baie katte in so klein omgewing kan oorleef,” het Matthee gesê.

ʼn Dooie kat is ook op die bed aangetref. “Die lewende katte het langs die dooie kat op die bed geslaap. Die eienaar het glo nie geweet die kat is dood nie.”

Al die katte is medies ondersoek en daar is bevind dat hulle snuffels, kankerklonte, nierkwale en asemhalingsprobleme onder lede het. Van die katte het ook sere in hul bekke gehad.

Die eienaar het volgehou dat daar niks verkeerd is aan die manier hoe dié katte leef nie.

“ʼn Mens kon sien die katte is siek en depressief as gevolg van die haglike omstandighede waarin hul lewe. Katte is skoon en trotse diere wat hulself gereeld versorg. Hierdie katte se pelse en omgewing was besmet met ontlasting,” sê Matthee.

Daar is ook tydens die inspeksie gevind dat die huis geen water of ventilasie vir die katte het nie.

Matthee sê tydens hul inspeksie by die hoofhuis het hulle op die huiswerker afgekom wat met die eienaar se twee honde en nóg ʼn kat weggekruip het.

Die katte is uit haglike omstandighede verwyder (Foto: Verskaf)

Die inspekteurs het ook ʼn perd op die erf aangetref wat ook in ʼn slegte toestand was. Hy het ’n kankeragtige abses in sy een oor gehad. Sy een hoef was in ’n slegte toestand en hy was oortrek van bosluise en vlooie. Matthee sê die perd se lewensomstandighede was ook onaanvaarbaar.

“Iemand het blykbaar in die verlede aangebied om ʼn veearts te kry om die perd te help, maar die eienaar het blykbaar die hulp van die hand gewys,” sê Matthee.

Die DBV het ʼn hofbevel bekom om die diere van die erf te verwyder en na ʼn veearts te neem vir mediese behandeling.

“Weens hul eienaar se optrede, is dié diere deur geweldige lyding,” sê Matthee.

Reinet Meyer, die senior inspekteur by die DBV, sê die DBV het die afgelope weke van afsondering onverpoos gewerk om diere te red nadat duisende klagtes van dieremishandeling ontvang is.

“Mishandeling het verseker tydens die afsondering begin toeneem. Ons doen nou 10 tot 15 klagtes van dieremishandeling per dag waar ons voorheen vier tot vyf gehad het,” sê Meyer.

Die DBV het die afgelope ses weke ook met duisende honger diere te doen gekry. Eienaars kan in dié tyd nie meer vir hul troeteldiere sorg nie, want dit gaan finansieel beroerd.

Meyer doen ʼn beroep op die publiek om net R30 aan die DBV te skenk om hierdie diere in nood te help. SMS die woord “Bloemspca” na 42646 om R30 te skenk. Besoek ook die DBV se webblad om ʼn donasie te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SomeOne ·

ai, dis om van siek/naar te word as diere so mishandel word, waarom hou mense so baie van een soort dier in elk geval by hom/haar

Lorna ·

Nee dit kan nie wees nie
Ek n groot liefhebber van diere dit breek my hart ek self het n duur baie duur les geleer deur my katte vlooigif vir honde op hul te gooi en daar lek hul dit af
Groot gif toe vir hulle
Jam het goed reageer OP charcoal pille maar Peanut nie so goed nie maar met n spoed onderstepoort toe gejaag fantastic gehelp daar
Maar Peanut deurgetrek na nag in hospital
Ek baie DUUR les geleer
So as jy nie vir diere kan sorg nie moet nie 1 of 2 of 3 aanhou nie

Oujongvrou ·

Ag asb mense help hierdie spca. Wat gaan aan in Bloemfontein.??

Eerlik ·

Weer Bloemfontein. Dis net te tragies. Soms dink mense hulle doen goed maar beskik nie oor die vermoens of hulpmiddels om ordentlik na die diere te kyk nie. As mens diere aanneem/aanhou moet hulle deel wees van die familie, ordentlike kos kry die nodige veearts kostes moet gedek kan word ens. Dis bykans soos familie beplanning in normale kulture, as jy dit nie kan bekostig nie moet jy dit nie oorweeg nie.

Barry ·

Dit is die plot reg agter ons, my oorlede pa het al 20 jaar terug met daai mense gesukkel. Hulle boerbokke het altyd in ons groente tuin kom loop.
Ek het al 5 skape verloor wat deur daai mense se honde op gevreet was, besig om een te probeer red wat 2 weke terug verskeur was. Hier is tans 2 wilde katte wat in die nag met ons kat baklei, wonder maar net of hulle nie van daai mense af kom nie.? Toe ons nog perde gehad het, het my kinders elke middag met voer tyd, daai perd ook n bak kos deur die draad gaan gee. My kinders het daai perd “Tiny” gedoop.

Eerlik ·

Dis verskriklik. Mense moet aksie neem en sulke goed rapporteer voor dit so hand uit ruk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.