Bloem-dieretuin slagoffer van ‘kommersiële politiekery’

Die Bloemfontein-dieretuin se ingang (Foto: Verskaf)

Die DA gaan vrae rig aan Destea oor waarheen diere van die Bloemfontein-dieretuin verskuif is, asook onder wie se gesag dit gedoen is.

Dr. Roy Jankielsohn, leier van die DA in die Vrystaat, het gesê die Vrystaatse departement van ekonomiese en kleinsakeontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea) moet deursigtig wees oor hul betrokkenheid by die sluiting.

Die dieretuin is oor die naweek permanent gesluit deur Destea en daar is met ʼn proses begin om die diere te verwyder.

Volgens die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV) werk hy saam met al die relevante partye en owerhede om te verseker dat diere wat nog op die perseel is op ʼn veilige, volhoubare en etiese wyse verwyder word.

“Ons kan in dié stadium nie verder kommentaar lewer nie. Ons het egter al die hulp nodig wat ons kan kry om die diere te voer,” het die DBV in ʼn kort verklaring gesê.

Die DBV het vroeër die maand ná ʼn inspeksie by die dieretuin bevestig dat minstens vyf diere van honger gevrek het. Dit is glo nadat die diere dae lank nie kos gekry het nie.

Destea het in Desember die dieretuin tydelik gesluit omdat daar versuim is om aan al die voorgeskrewe vereistes en voorwaardes te voldoen, soos uiteengesit deur die departement. Die dieretuin moes egter steeds toesien dat diere gevoer word.

In Januarie is daar berig die dieretuin was in ʼn veel beter toestand. Die DBV het ook reeds ʼn klag van dieremishandeling teen die Mangaung-metro by die Bloemfonteinse polisie aanhangig gemaak.

Roy Jankielsohn voor die Bloemfontein-dieretuin.

Volgens Jankielsohn het Destea die dieretuin in Desember gesluit weens ʼn beweerde gebrek aan permitte. “Dit blyk dat die aansoeke vir die permitte ingedien, maar nie geallokeer is nie. Dit het wesenlik beteken dat die dieretuin geen inkomste ontvang het nie.”

Die dieretuin moes glo na ʼn munisipale plaas, Kwaggafontein, buite Bloemfontein verskuif word volgens ʼn besluit van die Mangaung-raad in 2013. Volgens Jankielsohn word beweer daar is al R40 miljoen bestee aan beplanning vir die voorgestelde ontwikkeling by Kwaggafontein.

“Dit sou onder meer groot kampe met wandelpaaie vir besoekers, ʼn omgewingsentrum en ʼn boetiekhotel ingesluit het. Hierdie raadsbesluit is nooit herroep nie.

“Die DA is bewus daarvan dat ontwikkelaars sedert 2013 ʼn groot belangstelling het om die waardevolle grond wat die dieretuin huisves, te bekom. Dit blyk dat daar politieke druk is om hierdie transaksies af te handel voor die munisipale verkiesing in 2021.”

Jankielsohn voer aan die welvaart van die dieretuin en sy diere blyk deel te wees van ʼn georkestreerde veldtog om op die publiek se gevoel te speel sodat die dieretuin kan sluit.

“Die eintlike kwessie is dat ontwikkelaars en hul politieke bondgenote die waardevolle eiendom soos aasvoëls omring, en dat die diere bloot politieke instrumente in ʼn kommersiële onderneming is.”

Volgens Jankielsohn sal hy vrae vir Destea aan die LUR rig en die DA sal ook enige kommersiële onderhandelinge en ontwikkelings op die dieretuin se terrein dophou aangesien dit ʼn waardevolle erfenisterrein vir Bloemfontein is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Nie Verbaas ·

Ons samelewing is baie siek as alles net om eie gewin begin gaan.

Tiaan ·

Diere vrek van die honger agv nalatigheid terwyl ontwikkelaars hul tande slyp vir die grond. Klink regtig vir my na opsetlike nalatigheid sodat die diere vrek om toegang te kry tot die grond. Baie siek spul!

Cherokee ·

Jankielsohn se verduideliking ontduik die feit dat diere van honger omgekom het. Gebrek aan finansies kan nie as verskoning daarvoor gebruik word nie

Toy ·

Dit is vreeslik om te weet ‘n dier gaan dood van die honger, ek kry ‘n pyn in my binneste, die diere het nie gevra vir dit nie. Dit was jare terug een van die lekkerste plekke om heen te gaan en sommer piekniek te hou onder die bome.

minnie muis ·

niks wat die regering oorgevat het in 94 werk meer nie…. en dan bly hulle almal blameer behalwe hulle eie hebsug, want dis waaroor als gaan ……HEBSUG !!!!!!!!!!!!

RS ·

Absoluut tragies! Dis hartseer dat diere so moet lei as gevolg van onbevoegtheid en politiekery. Hou die mense aanspreeklik vir dit!

Jack ·

ALLE dieretuine moet toegemaak word. GEEN dier is gelukkig in daardie gevangenisskap nie !!!!!!!

Sokrates ·

Ons leef waaragtig in n tyd van boosheid….. waar die “smoke and mirrors” van leuenagtigheid en korrupte selfbelang hoogty vier. Alles van waarde word opgeoffer en vernietig, sy dit mens of dier of instelling. Die doel is alleen maar selfsugtige inhalige plundering om die eie sak vol te stop. Die toestand van ons moeder aarde, die virusse wat klokslag toeslaan, nou met groter opeenvolging, en ja, selfs ook die verhaal van die dieretuin…. uiteindelik is dit waarskynlik simptome van n groter “siekte” wat die mensdom beet het. Daar waar die leuen loop, daar loop die boosheid……….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.