Bloem-polisie soek 2 oor verkragting, diefstal

Die identikit wat die slagoffers saamgestel het ná die aanval in September 2015 in Bloemfontein Foto: SAPD (verskaf)

Die identikit wat die slagoffers saamgestel het ná die aanval in September 2015 in Bloemfontein Foto: SAPD (verskaf)

Die polisie in Bloemfontein in die Vrystaat is op soek na twee verdagtes wat vermoedelik betrokke was in die kaping, diefstal, poging tot moord en verkragting wat in September naby Lourierpark plaasgevind het.

“ʼn 29-jarige man en ʼn 26-jarige meisie het op 27 September omstreeks 04:00, toe hulle van ʼn kuierplek af gekom het, hul motor naby ʼn bekende dam aan die buitewyke van Lourierpark parkeer om te rus,” het sers. Thabo Litabe, woordvoerder van die polisie, gesê. “Terwyl hulle in die motor gesit het, het iemand aan die venster geklop en twee onbekende mans het ʼn vuurwapen op hulle gerig en hulle beveel om uit te klim.”

Die man het met die twee verdagtes begin baklei en hy is in die maag geskiet. Hy het na ʼn nabygeleë huis gehardloop om hulp te gaan soek. “Die verdagtes het met die meisie na ʼn bos gery en haar om die beurt verkrag,” het Litabe bygevoeg.

Die twee verdagtes het te voet van die toneel gevlug. “Hulle is vermoedelik iewers in Vryheidsplein of Phase Two in Bloemfontein.”

Die slagoffers het ʼn identikit van een van die verdagtes saamgestel. Hulle het gesê die man is 1.69 meter lank. Hy is ʼn swart man met ʼn ligte vel en medium gebou. hy praat Sotho en is vermoedelik tussen 28 en 32 jaar oud. “Enigiemand met inligting oor die verdagtes of enigiemand wat meer inligting het om die polisie in hul ondersoek by te staan, word versoek om ao William Leboea van Parkroad se eenheid teen gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings (GKS) te kontak by 082 527 6102.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.