Bloem se geliefde klein vrou onthou

Madge Bester is op 19 Maart 2018 in Bloemfontein oorlede. Foto: Facebook

Huldeblyke stroom op sosiale media in nadat Bloemfontein se bekende en geliefde klein vroutjie, Madge Bester, vroeër vandeesweek dood is.

Bester, wat in die ouderdom van 54 dood is, was in ʼn stadium die Guinness World-rekordhouer vir die kortste vrou op aarde. Sy het aan ʼn seldsame brosbeensiekte, osteogenesis imperfecta, gely en was net 65 cm lank, met ʼn gewig van 38 kg.

Sy is Maandag in ʼn hospitaal in Bloemfontein dood.

Bester het jare gelede internasionaal gereis om bewusmaking te skep vir mense met gestremdhede. In Bloemfontein was sy ʼn bekende gesig waar sy jare lank kaartjies ten bate van liefdadigheid in Mimosa Mall verkoop het.

Rian van Heerden, bekende radio-omroeper op JacarandaFM en voorheen ʼn omroeper by OFM in Bloemfontein, het vroeër vandeesweek regstreeks aan Bester hulde gebring en gesê sy het “ʼn massiewe persoonlikheid in daardie klein lyfie gehad”.

“Ek onthou as ons haar by die radioprogram betrek het, met die mikrofone aan terwyl ons regstreeks uitgesaai het, kon enigiets gebeur. Sy was nie op haar bek geval nie en ou Madge sou vir jou presies sê wat sy gedink het. Daar was net geen wag voor haar mond nie,” het Van Heerden gesê.

“Sy het ʼn massiewe persoonlikheid gehad en mense moet weet wie hierdie vrou was. Rus in vrede, my liewe vriendin, Madge Bester.”

Magda Nel, Madge Bester en Nel se suster. Foto: Facebook

Magda Nel, ʼn jare lange vriendin van Bester wat aan dwergisme ly, het ook vandeesweek op Facebook hulde aan haar vriendin gebring deur ʼn foto te plaas van haar en haar suster, wat ook aan dwergisme ly, saam met Bester. Nel se suster is jare gelede oorlede.

“Dit is die laaste keer saam met jou, Madge Bester, nou is dit nog net ek wat oor is,” het Nel geskryf. “Ek gaan jou baie mis, nes ek my sus mis, maar ek weet julle drie sal weer eendag saam wees en weer saam kuier in die hemel. My hart is seer, maar ek weet jy is nou sonder pyn of ongemak. Jy sal gemis word.”

Elsa Debbie Willemse het op Facebook geskryf sy sal die lekker geselsies met Bester mis, maar “nou kan jy vlieg en hardloop net soos jy altyd wou”.

Bee Kelly-Gliddon het Bester beskryf as ʼn klein mensie met ʼn groot hart, terwyl Shanine Griessel Pieters sê sy sal altyd onthou hoe baie Bester gelag het.

Karin Jordaan het geskryf: “Rus in vrede, my ou niggie, ek gaan jou só baie mis en jy sal vir altyd en altyd in my hart voortlewe. Madge, jy was vir ons almal ʼn voorbeeld van nie opgee nie. Lief jou baie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ella ·

Madge was dinamiet in ‘n klein pakkie! Ek onthou baie goed hoe behendig sy haar rolstoel kon bestuur! En sy het van alles en almal geweet.
R.I.V.

Oom Kalahari ·

Rus in vrede liewe Marge. Jy was ‘n pilaar vir vele. Alle meegevoel aan familie en vriende.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.