Bloem se inspirasievrou sterf

Jana du Plessis. Foto: Facebook

Jana du Plessis, ʼn voormalige Mev. Bloemfontein en bekende motiveringspreker, is Donderdagoggend in ʼn hospitaal in die Rosestad oorlede.

Barbara Steenkamp, woordvoerder van die MediClinic Bloemfontein, het bevestig Du Plessis is omstreeks 05:00 oorlede nadat sy Woensdag teen 14:00 in ʼn koma verval het.

Du Plessis was ʼn bekende in Bloemfontein en het landswyd mense geïnspireer met haar aangrypende verhaal en ongelooflike veggees waarmee sy kanker meer as een keer oorwin het. Sy het voor die ouderdom van 30 haar been en ʼn ongebore baba weens kanker verloor, maar het hierdie uitdagings gebruik om ander deur motiveringspraatjies en haar boek, Aardetyd is genadetyd, te inspireer.

Sy is in 2007 as Mev. Bloemfontein gekroon en het ook toekennings ontvang soos byvoorbeeld Mev. Persoonlikheid en ook as openbare spreker. In 2008 het sy die Vrystaat as finalis vir Mev. Verenigde Nasies verteenwoordig waar sy onder die vyf top-kandidate geëindig het. In dieselfde jaar het sy aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap vir gestremdes deelgeneem waar sy ʼn goue medalje verower en ʼn nuwe Suid-Afrikaanse rekord vir verspring behaal het.

In 2011 is sy as die Kankervereniging se Internasionale Heldin van Hoop aangewys en sy het in 2011 en 2012 as ambassadeur vir die vereniging opgetree. In 2013 is sy ook as Finesse se Inspirasievrou vir die jaar aangewys.

Jana en Ian du Plessis. Foto: Facebook

Du Plessis se man, Ian, het Woensdagaand in ʼn roerende inskrywing op Facebook hulde gebring aan sy vegtervrou. “Jana lê voor my in die donker kamer, reeds van vanmiddag 14:00 in ʼn koma. Sy is moeg, haar lyf is oortrek met die kanker, haar lewer het ingegee en Jana fight nog elke minuut. Ek kan die fight nog in haar sien, maar sy is rustig. Sy het ons gegroet [en] ons het haar gegroet. God genees altyd! Dalk net nie soos ons wil hê nie.”

Hy het almal bedank vir die ondersteuning en bydraes wat die gesin oor die afgelope drie maande ontvang het en gesê hy weet Jana is gereed vir dit wat God vir haar beplan.

“Jana, jy is ʼn legend. Jy is my rots! Jy is absolutely unbelievable! Ek is vir jou so lief. Aardetyd is genadetyd. Dis geleende tyd vir my en jou. Vriende, leer asb by ons. Dit is ons doel op aarde. Koester jou mense! Die dinge wat jy as vanselfsprekend aanvaar, is dinge waarvoor iemand anders bid. Hou ons in jul gebede asseblief. Die pad is moeilik wat voorlê.”

Du Plessis word oorleef deur haar man, Ian, en hul kinders Zandri (12) en Zehan (8) asook haar ouers, broer en skoonsuster.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Boetman ·

Ek was bevoorreg om 6 weke gelede na haar te luister en wat ñ Gods mens. Sterkte aan die famielie

Twiggi ·

Jana, jy is verseker die mooiste blom wat God kom pluk het. Vandag is jy veilig en sonder pyn. Jy was n inspirasie vir so baie. Sterkte vir al die familie. Mag God jul in die tyd van rou en seer styf vashou. Sy genade en liefde jul omvou.

Christine ·

Wat n’ merkwaardige pragtige vrou met so n’ pragtige lewensverhaal. Innige meegevoel aan die familie, julle is in my gebede

Karma ·

Wees gegroet, Groot Vrou. Al het ek jou nie geken nie, net van jou gelees in “Finesse”, haal ek my hoed vir jou af vir wat jy alles bereik het (en opgeoffer het) … en nou het jy die stryd verloor. Ek is self nie seker nie, maar die Groot K kan ook nog vandag by my gediagnoseer word – ek was vanoggend vir toetse en wag vir die uitslae. Ons hele familie is deurtrek van die kanker (beide oumas dood aan kanker, twee ooms dood aan kanker, ‘n niggie se kind met neuroblastoom, pa (waarskynlik) prostaatkanker – oorlede aan hart skielik) en ma oorlewend van kolonkanker, so my kans is goed dat dit nou mý beurt is. Ons leef almal waarlik op genade op aarde. Sterkte aan dié kragvrou se gesin en familie.

Uvonka ·

Hi Karma, ek dink aan jou en bid vir jou! Sterkte, wees positief! Groete

Karma ·

Nuus was toe nie so goed nie. Maar dit kon erger gewees het. Die volgende paar maande (in ‘n staatshospitaal en -dokter se sorg) sal maar seker leer. Dankie, Uvonka.

Brenda vd Merwe ·

Die spore en beeld wat Jana agterlaat, is ongelooflik inspirerend as geloofsvrou!! Ons veg nie in eie krag nie.Sterkte aan haar familie.
Karma, baie sterkte vir jou pad vorentoe om te veg teen ‘n vernietigende siekte van liggaam , maar nie van gees.Neem God se hand met elke tree van hierdie onbekende pad. Ek bid vir jou. By God IS genesing.

Cherokee ·

Karma…. jy màg ons nie drop nie! Ons lief jou bydraes selfs sonder om daarop te reageer of terugvoering te gee. Jy is deel van hierdie groep vriende en ons wil jou hier sien sonder ophou.

Hannetjie ·

Liewe Karma,
Vanoggend bid ek saam met jou en spreek Positief oor jouself. Daar le soveel krag in woorde. Ten spyte van die feit dat jou familie deur kanker aan die dood afgestaan het, bid ek dat Vader God jou sal seen met Sy beste, sodat jy ‘n vol, gesonde lewe sal leef. Dat jy deur jou doen en wees in die lewe ‘n aansporing en inspirasie vir baie sal wees.
Seenwense
Hannetjie Pelser

Jani ·

Wat ‘n bevoorreg was dit om die Engel van ‘n Vrou te kon ken. Haar praatjies het mens so geinspreer. Dankie dat jy so ‘n Wonderlike Vrou was wat by ons kom praat het al was dit baie trane. Sterkte aan die Familie en kinders..

Irma Kuhn ·

So jammer vir julle…sterkte vir die pad vorentoe…
Sy is/was ALTYD ‘n voorbeeld!!

Liza101 ·

Hierdie merkwaardige vrou het dalk die stryd teen kanker verloor, maar glo my hierdie is ‘n WENNER! Sy het mense te harte verower net waar sy gegaan het! Rus in vrede pragvrou!

Jordaan ·

Ai, sulke jong kinders nog. Mag die Here die gesin vertroos.

Sorina Erasmus ·

Ek was bevoorreg dat my pad met hare kon kruis. Haar innerlike krag tsv haar taai stryd kon mens in haar oë sien brand, vurig vir die lewe tsv die pyn wat sy daagliks moet deurmaak. Sý én haar man Ian is ‘n inspirasie met die sterkste fighting spirit wat mens kan kry. Die leemtes wat sy los is massief, maar haar onuitputlike bron van inspirasie en haar nalatenskap is soveel groter as wat sy ooit sou kon besef. Rus in Vrede, jy het die goeie stryd gestry en sit beslis by die regterhand van die Vader. Ian en gesin, mag God julle vlerke wees en julle dra sodat julle moeë voete in Sy skadu sal rus.

Eish ·

Altyd ontsettend groot bewondering vir sulke reuse kragbronne tussen ons! Dan moet ek my kop in skaamte laat sak oor die negatiewe gedagtes wat ek koester oor die lewe in die helhool.

Jane ·

Ai watter inspirasie vir ander mense met kanker. Sommige kere word jy genees, ander kere nie, sy het egter haar journey gebruik om ander te inspireer en moed in te praat. Ek is so jammer dat sy nie haar kinders verder kon grootmaak nie en ek is baie jammer vir haar kinders en haar man wat nou deur ‘n moeilike tyd moet gaan. Weet net julle het ‘n fighter vir ‘n ma en vrou gehad en sy sou ALLES doen om by julle te bly .. die Here het haar kom haal, en sy was worthy, she mattered. Sy het ‘n naam gehad, sy het ander inspireer, sy het liefde uitgestraal .. RIV brawe vrou.

Theresa ·

Innige simpatie aan die gesin, familie en vriende. Mag daar ook vir julle vertroosting wees.

Ander Annie ·

Karma, sterkte met die groot K. Kyk op na ons Hemelse Vader en wat ‘n mooi voorbeeld het jy in die Jana inspirasie.
Aan Jana se geliefdes, familie en vriende ….innige meegevoel. Jana laat vir julle met soveel mooi herrinneringe en inspirasie, na. Ek weet nogtans hoe seer dit is om totsiens te sê vir so ‘n kosbare mens. Sterkte. Sy het die wedloop as ‘n Wenner voltooi. Hoe wonderlik moet dit wees om by die voete van Jesus te sit?

Alida Schmidt ·

Ek het haar nie geken nie, maar haar geskiedenis is ‘n spieëlbeeld soos die van my dogter. So jonk, so braaf en so onselfsugtig. Mens kan net by hulle leer. My dogter nou al 3jaar oorlede. Baie sterkte aan haar man, kinders en ander familie en vriende. Die mooi herinneringe is ‘n groot troos wanneer die verlange die oorhand wil kry.

susan ·

Na haar kon luister. Jammer vir haar gesin die kinders is nog klein. Kanker pasiënte inspireer mens. Kan baie by hulle leer. Xxx

Roos ·

Sterkte aan familie… Karma, gee asb jou voornaam dat ek jou kan opdra in gebed x

Annelle du Preez ·

Sterkte aan Ian en kinders ek weet waardeer jul gaan, het 3jr terug my man afgestaan aan die dood nadat hy 5jr met kanker geworstel het. Die seer gaan nie gou weg nie maar word met tyd makliker. Sterkte Ian.

Gesiggie ·

Sjoe… wat n prag van n mens… en die mooiste woorde van jou Ian om haar te beskryf… dit bring n kalmte oor my met die wete dat Onse Jesus haar saggies opgetel het, om saam Hom in die Paradys te wees .En ja Aardetyd… is net Genade tyd.. alle sterkte aan jou en die 2 kinders , mag Jesus jul stuif vashou.. en ek sluit af en stem 100% saam jou… Mense Koester jul Geliefdes elke dag, die lewe is kort. RIP Pragmens…

karien ·

so jammer vir haar gesin, maar wat ‘n inspirasie en voorbeeld vir ons wat nog lewe – mag ons dit ter harte neem en mekaar koester – dankie vir jou lewe, Jana …….

Saarkie ·

Susan, jy het nou die klok hoor lui, maar weet nie waar die bel hang nie. Jana du Plessis was ‘n kankerlyer en ‘n inspirasie vir almal. Jy verwar haar met Dana Snyman se verloofde wat verkies het om haar eie lewe te neem en wat vandag op sy verjaardag selfdood verkies het.

Mariette ·

Sjoe wat ‘n skok. Ek en my gesin het Desember in hum gastehuis oornag oppad PE toe en sy en haar man was so vriendelik en gasvry. My hart gaan uit na haar man en kinders. Tragiese nuus. Sy was n inspirasie! Rus sag!

Susan meintjes ·

Soo hartseer,maar een van die mees inspirerende mensie ooit!rus sag!SY LOS wonderlike gedagtes agter vir haar kindertjies!

Cheryl ·

I had the pleasure of spending a few hours with Jana when we fetched her from the airport to attend the CANSA Relay for Life Langeberg event a few years back. Jana was so down to earth. Spoke a lot about her husband and children and how she would speak out about cancer until she took her last breath. Jana, you were such an inspiration to sooooo many people and you will be sorely missed. RIP beautiful soul, and know that your legacy will be kept alive.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.