Bloem-stadsaal afgebrand: Samwu ontken betrokkenheid

Foto: Twitter

Die munisipalewerkersvakbond Samwu het Donderdag ontken dat dit sy lede was wat die historiese stadsaal in Bloemfontein aan die brand gesteek het.

Simon Mathe, Samwu se algemene sekretaris, het gesê Samwu-lede kan nie geblameer word vir die brand nie, aangesien hulle die saal as ʼn bymekaarkomplek gebruik het. “Ons distansieer onsself van die brand. Ons kan met sekerheid beslis dat geen van ons lede verantwoordelik was daarvoor nie. Inteendeel, ons is oortuig daarvan dat geen van ons lede eens in staat is tot so iets nie, aangesien ons kantoor reg langs die gebou is, en ons lede sal nie hul eie kantoor afbrand nie. Hierdie brand het begin lank nadat ons lede die gebied rondom die gebou verlaat het.”

Maroela Media het vroeër berig die stadsaal is heeltemal verwoes in ʼn brand wat ontstaan het kort nadat Samwu-lede by die gebou vergader het. Samwu-lede by die Mangaung-metro-munisipaliteit staak al weke lank weens ontevredenheid oor salarisse.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, het gesê drie mense is op aanklag van openbare geweld in hegtenis geneem, maar daar word nog ondersoek wie vir die brandstigting verantwoordelik was.

Mathe het gesê die munisipaliteit moet verantwoordelikheid neem vir gebeure. “Hulle het besluit om die munisipaliteit in ʼn polisiestaat te verander. Ons is ook van mening dat die polisie verantwoording moet doen vir die brand, want hulle het die gebou beveilig voordat hulle net voor die voet op werkers begin skiet het, skynbaar vir geen rede nie. Intussen wag ons op die uitkoms van die ondersoek na die oorsaak van die brand.”

Die stadsaal in Bloemfontein nadat dit Woensdag (21 Junie 2017) aan die brand gesteek is. Foto: Twitter via @Talk2Elia

AfriSake het intussen gesê Samwu en enige ander vakbond wat by die voorval betrokke was, moet aanspreeklik gehou word. “Daar blyk ’n toenemende tendens in Suid-Afrika te wees dat vakbonde hul ontevredenheid ten toon stel in die vorm van geweld- en misdaadpleging,” het Charles Castle, bestuurder van die arbeidsregadvieseenheid by AfriSake, in ʼn verklaring gesê.

“’n Onlangse uitspraak deur die arbeidshof bevestig dat vakbonde aanspreeklik gehou kan word vir enige skade deur hul lede aangerig. Die vernietiging van ’n erfenisgebou is ’n strafregtelike oortreding ingevolge die Wet op Nasionale Gedenkwaardighede, 1969 (wet no. 28 van 1969) en die betrokke partye moet vergelding doen. Hierdie historiese geboue is onvervangbaar.”

Castle het gesê AfriSake sal ʼn skrywe aan die Mangaung-metro-munisipaliteit rig om die metro te maan om streng op te tree teenoor vakbonde wat hulself aan sulke misdrywe skuldig maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Theresa B ·

Ag ja siestog – asof hulle sal se – ja julle ons het dit gedoen.

Johanna Botha ·

Die foto is presies hoe SA lyk ….n gemors ! Dankie anc !

Voorstel ·

Ek stem saam Johanna MAAR moenie die plek herbou. Los dit net so as ‘n besienswaardigheid vir toeriste/besoekers uit die buiteland om te aanskou wat aangaan in hierdie eens lieflike land waar die buiteland finansieel ondersteuning verskaf (het).

Michael ·

Stem saam hulle het geen respek vir niks of niemand nie die klomp wil so bly

Mads ·

Mense moet net besef waar hulle heeltyd breek en brand moet iemand weer herstel…tien trappies terug elke keer …

Alida ·

Die Vakbondunies moet verantwoordelik gehou word vir die skade en moet kostes ook van hul verhaal word!!

marous ·

Sommer maar net self gabraaaand! Die polisie sal ook se ons het nie gaskieet nie . Ander man het ook die unform getrek ons ken hom nie.

Rupert Ashford ·

Goeie idee Afrisake. Skryf vir die ANC stadsraad sodat hulle die ANC vakbond tot verantwoording roep. Nou wat hieraan klink of dit nie gaan werk nie?

Colani ·

Ek man nie verstaan nie die ou Suid-Afrika was nou so verkeert maar kom ons wees bietjie eerlik sulke goed het nooit gebeur nie die paar was nie in so toestand nie die munisiepale Kantor word af gebrand hallo dan moet hulle dit weer bou dit kos geld ek se nie die nuwe suid-afrika is verkeert nie maar hou op staak en alles afbrand en opnuik dit was nie so nie ons land word net skade aan gedoen

Meraai ·

My hart is pynlik seer as ek na al die verwoesting kyk! Het as kind een keer die voorreg gehad om die Bloemfonteinse stadsaal te besoek. My ervaring was een van ontsetting vir die mooie argitektuur en in my verbeelding het ek die mense wat deur die jare hulle voetstappe daar gelos het gesien. Ag, ek reken dieselfde gevoel wat jy kry as jy deur die koning van enige land se paleis sou loop… jy het respek. Onvervangbare skade deur mense aangerig wat kwaad was, maar regtig nie mooi besin het nie. Ek is enersyds geskok en andersyds woedend, omdat die respek wat vir jare voor baklei was, nooit weer afgedwing was na tata Madidba se bewind nie. Ek voel soos ‘n moederhen wat heen en weer hardloop nadat die rooikat in die hok gekom het en net links en regs verwoesting gesaai het. Rasend, maar hulpeloos.

Will i am ·

Nou is daar nie geld vir verhogings. Gebruik dit om weer te bou wat hul afbrand

Mike de Beer ·

Niemand word ooit tot verantwoording geroep nie. Daar is berig dat amptenary deurentyd moes vure blus wat binne in die Stadsaal aangesteek was. Daar was tog sekerlik iemand betrokke wat die vure gemaak het, en waarom het die Polisiediens nie opgetree nie? Brandstigting is tog immers ‘n kriminele daad. Het geeneen daaraan gedink om die Polisie te kontak terwyl die dinge aan die gang was nie.

Bowendien as SAMWU / ANC / EFF of enige aanhitsers van “massa aksie” nie die massa aanhits tot “civil disobedience” nie, dan kan en sal hierdie dinge gewoon nie plaasvind nie.

Watter tipe van denke is dit om te vandaliseer as jy ongelukkig is? Wat gaan dit enige iemand se saak baat om ‘n Stadsaal te vernietig of eiendom te beskadig?

Ouvrou ·

Kla oor geld. Maar wie moet nou ander stadsaal bou?? Trek elke maand helfde van al daai werkers se salarisse af, tot skade herstel en vereffen is. Kyk of hulle weer lus is vir afbrand. Niemand leer iets as hulle aanhou wegkom daarmee nie.

Catryn ·

Polisie het ook gemaan dat hulle uitmekaar gaan want hulle is besig met onwettige stakings – dus was dit hulle al pleit hulle onskuldig… Normaalweg moet mense aansoek om te fuif in die strate, maar sekere unies kan net afbrand en afbreek – hoeveel hoor ons van Coligny of selfs van Knysna se brande – almal steek aan die brand niemand kan
n vuur begin sonder die nodige toerusting van ‘n vuurhoutjie en die petrolbomme wat hulle so mee loop en spog nie – motorbrande, wie herstel die strate wat so vol gate gebrand is .. haha soliforum doen siestog

Nico ·

Pak die skuld op die polisie want hulle het die optog goedgekeur waar is ons nuwe polisie minister met daai vriendelike mond van hom nou of is hy bang die anc verloor stemme

Alida ·

Los alles net so. Stuur die fotos die wereld in dan kyk ons of die minister van toerisme nog spog met sy syfers.

John ·

Nee mense, kwaai winde, donderweer en blitse was glo aan die orde van die dag… Weervoorspellers kan ook foute maak… Die weer lyk glo steeds dreigend hoewel waterbeperkings reeds vir meer as ‘n jaar geld… geld… geld … omdat dit net in Bloemfontein reen en nie in die ‘opvangs’gebiede nie… soos dit mos moet doen…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.