Bloem-stadsaal in ere herstel ná brand

Só lyk die stadsaal in Bloemfontein nou. (Foto: Verskaf)

Die stadsaal in Bloemfontein in die Vrystaat is in ere herstel nadat dit byna vier jaar gelede vermoedelik deur stakende munisipale werkers aan die brand gesteek is.

Maroela Media het vroeër berig werkers van die munisipalewerkersvakbond Samwu het die betrokke dag in Junie 2017 by die stadsaal vergader. Die polisie is later na die toneel ontbied nadat rook by die gebou – wat dateer uit 1936 – uitgeborrel het.

Hoewel die hele gebou nie die dag van die staking afgebrand het nie, is die saal en verhoog destyds in puin gelê.

’n Bloemfonteinse argiteksfirma het sedertdien spesialisboumateriaal bekom en gedeeltelik op foto’s op sosiale media van geleenthede, wat voor die brand in dié historiese stadsaal plaasgevind het, staatgemaak om die stadsaal tot sy voormalige glorie te herstel.

“Die nuwe saal is nie ’n presiese replika van hoe die saal vantevore gelyk het nie. Daar is vanselfsprekend verskille, maar dis natuurlik ook goed,” sê Anton Roodt, uitvoerende hoof van Roodt Architects in Lilyvale, Bloemfontein.

Roodt Architects is destyds ná die brand deur die versekeraars aangestel om die stadsaal te herstel. Volgens Roodt het die herstelwerk langer geneem as wat aanvanklik beplan is weens die verkryging van sekere boumateriale en natuurlik die Covid-19-pandemie wat die boubedryf tot stilstand gedwing het.

Die stadsaal in Bloemfontein nadat dit Woensdag (21 Junie 2017) aan die brand gesteek is. Foto: Twitter via @Talk2Elia

Dakpanne moes ingevoer word terwyl die saal se deurhandvatsels deur ’n spesialis in Kaapstad vervaardig moes word. Die dekoratiewe pleisterwerk in die saal moes in gips gegiet word terwyl van die oorspronklike houtsoorte opgespoor moes word.

Sommige van die hout, soos karrihout wat oorspronklik gebruik is vir die vloere, kon nie weer opgespoor word nie aangesien dié hout van Australië afkomstig is. Daar is toe besluit op kiaathout van Zimbabwe vir die herstelde stadsaal se vloere.

Die saal se plafon moes van die enkele foto’s wat hulle van die oorspronklike plafon kon bekom, herkonstrueer word. Daar is ook replikas van die stadsaal se ligte gemaak.

Só lyk die stadsaal in Bloemfontein nou. (Foto: Verskaf deur Lize van den Berg)

Volgens Roodt sou dit in vandag se randwaarde sowat R220 miljoen kos om die stadsaal oor te bou. Die herstelwerk het net meer as 10% daarvan gekos.

Roodt sê die bouwerk is verlede week so te sê voltooi. Dit beteken dat die boumaatskappy nog 90 dae het om enige foute reg te stel. Die stadsaal se bestuur sal dan bepaal wannneer dit weer vir onthale en geleenthede gebruik kan word.

Sover Roodt se wete strek, word ’n klavier nog gerestoureer en nuwe stoele vir die saal aangekoop.

Roodt sê hoewel die projek langer as wat beplan is, geneem het om te voltooi weens die verkryging van sekere boumateriale, was dit beslis die moeite werd.

“Ons is dankbaar dat versekeraars ons toegelaat het om die gebou tot dieselfde standaard [as die oorspronklike stadsaal] te kon herstel.”

Qondile Khedama, woordvoerder van die Manguang-metro, het Woensdag by navraag aan Maroela Media gesê die metro is baie gelukkig met die restourasie van die stadsaal en sal aandui wanneer die gebou vir openbare gebruik oopgestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sarel ·

Hoe herstel jy die eer van ‘n Historiese gebou? Dit is onmoontlik

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.