Bloem-student doodgeskiet: ‘Ek vra nie vir God hoekom nie’

Sean Kroon. Foto: Facebook

Die 18-jarige student wat Saterdag tydens ʼn rooftog by ʼn studentehuis in Bloemfontein doodgeskiet is, was alleen by die huis toe die rowers toegeslaan het.

Sean Kroon, ʼn eerstejaar BSc-student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), is in sy bors geskiet toe hy vermoedelik die rowers agternagesit het. Hy het ongeveer 70 m by die erf se hek uitgehardloop voordat hy in die straat inmekaargesak en gesterf het.

Joanne Kroon, Sean se ma, het Maandag aan Maroela Media gesê die familie kan net bespiegel oor wat daardie tragiese aand by die studentehuis gebeur het, aangesien niemand anders daar was om te sien wat gebeur het nie.

Sy het gesê Sean was die aand by die huis om te studeer vir ʼn eksamen wat hy vandag sou skryf. Sy skootrekenaar en boeke het op sy bed en lessenaar in sy kamer gelê. “Hy was ook besig om kos te maak. Een van die veiligheidshekke by die huis het oopgestaan, vermoedelik omdat hy buitentoe gegaan het om te rook. Ons vermoed die rowers het ingekom en tot in sy kamer gegaan, waar hulle sy skootrekenaar, beursie en selfoon gegryp het. Hulle het seker uitgehardloop en Sean het hulle gehoor en agter hulle aangehardloop. Toe hy by die deur van die huis uitkom, het hulle hom twee keer geskiet.”

Volgens Joanne moes die rowers oor die heining om die huis gespring en by die straat af gevlug het. Sean het die hek met die afstandbeheerder oopgemaak en hulle agternagesit, maar in die straat inmekaargesak.

Werner Vermaak, kommunikasiebestuurder van ER24, het gesê met paramedici se aankoms op die toneel het Sean reeds aan sy wonde beswyk.

Sean, ʼn oudleerder van die Union High School in Graaff-Reinet, het vanjaar vanaf sy ouerhuis op ʼn plaas buite Willowmore in die Oos-Kaap na Bloemfontein getrek om aan die UV te studeer. Volgens Joanne was ingenieurswese sy hoofvak. Hy het saam met drie ander studente in die huis gewoon en daar het nog studente op die erf in woonstelle buite die huis gewoon. Hy was egter ten tyde van die voorval alleen by die huis.

Prof. Francis Petersen, vise-kanselier en rektor van die UV, het in ʼn verklaring sy medelye teenoor Sean se familie en vriende uitgespreek. Hy het gesê die veiligheid van studente wat buite die kampusgebied woon is ʼn uitdaging vir die universiteit in terme van hul jurisdiksie. “Dit is iets wat ʼn voortdurende bron van kommer vir ons is,” het Petersen gesê.

Die toneel Saterdagaand buite die studentehuis in Universitas in Bloemfontein. Foto: ER24

Intussen het konst. Peter Kareli, woordvoerder van die polisie, gesê niemand is nog in verband met Sean se moord in hegtenis geneem nie.

Joanne beskryf Sean as ʼn vrygeestige mens wat sy lewe voluit geleef het. Hy was ʼn natuurliefhebber wat hom vir natuurbewaring beywer en vetplante versamel het. “Hy het elke dag geleef asof dit sy laaste was, maar het drome en ambisies gehad asof hy vir ewig sou leef. Hy was ʼn opregte vriend en iemand wat mal was oor mense,” het sy gesê.

Volgens Joanne is sy nie kwaad oor wat gebeur het nie en vra sy en Sean se pa ook nie hoekom nie. “Ons het 14 jaar lank gesukkel om swanger te raak voordat die Here ons uiteindelik met Sean geseën het. Wanneer jy so lank wag vir ʼn kind, is jou waardering vir daardie kind soveel groter. Ons het die Here gesmeek om vir ons ʼn kind te stuur en hy het hom vir 18 jaar aan ons geleen. So ek vra nie vir God hoekom dit moes gebeur nie. Ek vra hoekom ʼn lewe so goedkoop geraak het,” sê sy. “Slegte dinge gebeur met goeie mense, maar ek weet, Sean was só ongelooflik geliefd.”

ʼn Privaat gedenkdiens sal Saterdag vir Sean op sy ouers se plaas gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Dellaq ·

Sprakeloos….Baie baie jammer oor julle verlies. Sterkte met julle moeilike pad vorentoe.

Suné ·

Volgens ‘n e-pos van die universiteit was hy ‘n Bsc-student en nie ingenieursstudent nie…

Janie Monsieur ·

Dagsê Suné,

Dankie vir jou kommentaar. Dit was die inligting wat ons direk van die student se ma af gekry het. Maroela Media het wel met die universiteit bevestig, en die berig is gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Liez ·

Maak seker nie saak wat hy geswot het nie. Ons innige simpatie aan sy ouers familie en vriende.

Netta ·

Kom ons leer almal nou ‘n mooi les: GEEN AARDSE BESITTING IS JOU LEWE WERD NIE. As jy versekering het, goed so; as jy nie het nie, moet jy dalk daaraan dink. DINK MENSE, DINK!!! ‘n Oop veiligheidshek is mos nou vir moeilikheid soek. En onthou ook net, diegene wat dink hulle is veilig met vuurwapens e.d.m. – enige iets wat JY as wapen teen die rower of dief gebruik, kan hy netsowel as wapen teen JOU gebruik. Ek sal terugstaan en sê: “Vat, vat wat julle wil hê. Dit is nie my lewe werd nie”.

Gerbrandt ·

Dis regtig onvanpas watse student he geld vir virsekering maak seker van feite en moet nie die gebruik as n voorbeeld nie baie min studendte is bevooreg om versekering te kan bekostig nie

vetta ·

ai nett@. Hoeveel mense kan vandag nog versekering bekostig? met werk is mediesefondse nie eers meer haalbaar nie. feit is…..ONS BEHOORT ORAL EN ALTYD VEILIG TE WEES.

Gert ·

Maklik gese om net terug te staan
Maar in vandag se lewe skiet die rowers jou voor die voet
Ek was van buite af binne my huis geskiet
So moenie dink terugstaan gaan jou lewe red nie

LeonC ·

Netta. Die plaas Boere word vermoor ongeag of hulle oorgee of nie
Die krimenele is diere.Ons moet liefs wakker en voorberied wees. Dit mag meskieñ net jou lewe red. Bid vir familie en vriende.@

Hartverskeurend ·

Regtig hartverskeurend, baie sterkte vir julle. Julle siening om dit te verwerk is die beste. Ek tem saam, dit is net nie globaar dat ‘n lewe so goedkoop geraak het nie, verder het hulle mos klaar die seun se goed gevat, hoekom hom nog skiet…… Aan Rektor Pietersen, met alle respek in die verblyfplekke is dit nie noodwendig veiliger nie. By ‘n ander universiteit is my kind se persoonlike goed so gesteel en geen stilte vir studies nie, die druk het net te veel geraak. Net nadat hy uitgetrek het privaat het erge onluste aanrandings gekom, so ek was dankbaar ek is dit gespaar. Maak nie saak waar hul bly, dit bly ‘n uitdaging, kriminele het mense regte en eerbare mense nie!!!!! ‘n jong man wat net goed vir die land kon inhou – wat natuur kon bewaar en voedsel kon produseer is skielik sommer net vir die plesier uit die lewe geruk, hy was nie ‘n bedreiging, so regtig…..

Charmaine Coetzee ·

R.I.V so onnodige dan n jongmens sy lewe op so manier moes verloor sterkte as sy ouers GOD sal julle deurdra in hierdie hartseer tyd xxxx

Ange ·

Baie jammer om te moet lees van die gesin se verlies. Gebede is met julle. Hier is mense wat nie die liefde van God in hulle harte het nie en doen net wat hulle wil.

Dis rerig waar net tragies.

Magda Janisch ·

Aan ouers-haal my hoed af oor julle woorde.Want dis so waar!! Steeds,kan ek as n mamma nie myself in sien sonder my kids nie.Sterkte met elke dag wat vir julle voor le xx

Johann ·

Ons innigste meegevoel met die familie, mense dit kan nie anders dat ons ernstig moet besin om die doodstraf terug te kry

Rina Pretorius ·

Johann die probleem is net dat die blankes vir geen rede die doodstraf sal kry dis hoekom dit beter is dat dit nie nie terugkom nie. Ons sal eenvoudig maar net gewapen moet rondloop en onsself beskerm want niemand gaan dit vir ons doen nie

chrisp ·

Wat ‘n hartseer storie.
Mag Jesus julle vertroos en die pyn wegvat.

Sterkte aan die familie.

Ada ·

So So Onnodig!!!
Dit is waarom ek nie die DA kan ondersteun nie want daar gaan niks van kom nie.
Hierdie pragtige seun vermoor vir ‘n rekenaar. natuurlik het hy agterna gehardloop om dit te probeer red want al sy studiemateriaal is daarop waaraan hy ure aan gewerk het. Dit het instinktief gebeur om sy kosbare notas te beskerm.
Die DA het nie ‘n bek gerek oor die moorde in ons land nie.

Susan ·

Ada, wat het die DA daarmee te doen, hulle net soos die res kan nie almal in die land beskerm nie.

adri ·

Ons dink ongelooflik baie aan julle Micheal en Joanne mag die Liewe Vader julle in hierdie moeilike tyd vertroosting gee en toevou in Sy arms
Japie en Adri du Plessis Ladismith

Willie ·

Pleks dat Zumbie eerder die sinnelose moored in SA keer, is hy besig om kaders by mekaar te maak, vir nog meer wanbestuur… MY HART BLOEI VIR DIE MENSE…

leon pit ·

Daar gaan niks verander in die land nie almal sit agteroor en geniet die lekker kurupte lewe. Ons moet self opstaan en vuur met vuur beveg. Die regering kan nie na sy lands burgers omsien nie. Alles verval om ons. Staan op en verdedig jul self. Hoe op aarde het n mens se lewe so goed koop geword

Theresa ·

So baie baie hartseer vir hierdie ouers wat lank gewag het vir ‘hul kind.
Innige simpatie in hierdie moeilike tyd. Dis wonderlik dat jul besonder goeie herinneringe van hom kan koester.

Caroline Fourie ·

Baie sterkte aan die ouers en familie asook vriende van Sean. Mag God julle vertroos en vashou in hierdie hartseer tyd. So sinneloos?

olie ·

Skande, skande tannie en oom baie sterkte,vandag ek praat en praat en praat. Tannie u het my stil gemaak.

amvi ·

Walglik dat die goed naampies genoem word soos – rowers, diewe, kriminele, booswigte en wat nog als. Ek wens ek kon uitskree wat hulle is!!! maar ons mag nie. Iemand wat beslis die reg gehad het om te lewe doodgeskiet vir een of ander spesie wat maar net ‘n las is vir die samelewing.

Johanna ·

Innigste simpatie met die ouers. RIV Sean. Tragies en onnodig – dapper ouers. Mag God julle omvou met Sy liefde en Vertroosting.

Hans ·

Die ironie is dat ons ons agter tralies (jailed)moet hou wyl die die duiwel se aanhangers vry moor,verkrag en plunder.

E.K. ·

Baie sterkte, vrede en aanvaarding vir die familie. Die skok is nog groot op die stadium en die pad is nog lank, maar ek kan jul net die beste toewens en dat julle mekaar sal ondersteun.

adriana ·

My hart breek vir die ouers en ook die familie en vriende en mede studente. Dit is die grootste ramp wat ‘n ouer kan oorkom. Ek dink aan julle en hoop en vertrou dat julle vertroosting by die Here sal vind. Hy is al wat sal kan troos.
Pragtige pragtige jongman.

Jean ·

Ai dis verskriklik. Misdaad neem daagliks toe, dis kommerwekkend dat ‘n jong man nie meer veilig in sy blyplek kan wees nie. My innige simpatie aan sy ouers en naasbestaandes as hulle hier lees. Dit was ‘n pragtige jong man. Ek het self ‘n seun en kan my nie ons lewe sonder hom voorstel nie. Net God kan vir julle troos bring, en baie mooi herinneringe aan hom wat julle in julle harte saamdra. RIV.

w ·

Tu nou jul korrupte regerings amptenare wie ni tyd het om ons land veilig te maak. Te besig om jul bankrekeninge aan te vul. Doen iets omtrent die misdaad of verskaf dit jul plesier om te sien hoe mense vermoor word

Nita ·

Satan loop soos n brullende leeu tussen ons en maai onder die lammers van God. Geen einde aan die toestand in die afsienbare toekoms nie.

Johan Smal ·

Condolences to you Michael and Joanne may God be with you

N Lourens Reitz ·

Ada jy is so reg ek sukkel om die DA te vetrou en ek neem die DA ook nie ernstig op nie

Ada ·

DankieN Lourens.Indien die DA die moorde verdoem het kon hierdie jong man dalk vandag nog geleef het.Die moordenaars weet hulle word nie ernstig opgeneem nie.Daarom het hulle nie respek vir n lewe nie. Die DA is n totale mislukking.Ek wens meer mense wil dit besef.

Mandy ·

My innige simpatie aan Sean se ouers met hul verlies -ek glo vas dat slegs ‘n ouer wat sy kind aan die dood afgestaan het enigsins die seer kan verstaan. Jy wat nie het nie moet nie eers probeer nie , dis duisend maal erger….. As ‘n ouer wat my 21 jarige seun in soortgelyke omstandighede aan die dood moes afstaan verskil ek egter op een punt – aanvaar maar gerus dat daar nooit werklik iemand was wat na jou kind gekyk het nie – ek het na sy dood eers dit besef en is vandag meer as ooit tevrede dat ek nie meer in ‘n droomwereld lewe wat vir soveel mense vals sekuriteit, vals geluk en sogenaamde hoop bring maar werklik niks beteken nie. My kind was te groot deel van my lewe en om net te aanvaar “hy was blykbaar vir my geleen” is en sal nooit aanvaar word nie. En vir diegene wat gou gaan wees om te oordeel – as jy nie in my skoene geloop het nie……..

Geen tyd is n goeie tyd ·

Liewe Mandy, ek lei af jy is nog rou en seer. Ek verskil van jou & stem saam die ouers, dankbaar vir die tyd geleen, ek het myne as baba verloor en glo my ek sou wat wou gee om hom vir 19 of 21 te gehad het(ek weet egter ek sou hom nog steeds nie wou afstaan). Die seerste waarheid is, nooit is n beter of slegter tyd om n kind te verloor nie. As dit vir jou weer swaar raak, probeer bo bly deur te dink aan ons wat nie daai 21 jaar gehad, ek dink weer aan jul en se vir myself jy sou nie wou afgee nie en dit moet makliker vir my gewees het, al weet ek geen tyd is beter, troos dit my en help dit my om bo te bly!

Elize ·

So hartseer :-(! Dink aan die ouers. RIV.. .My kind is ook eerste jaar by Kovsies, my hart gaan uit na julle

SARIE VAN HEERDEN ·

Mandy, baie jammer vir jou. My skoonouers het 2 seuns twee verskilende tye tydens ongelukke afgestaan aan die dood en het ek gesien wat soiets aan goeie gelowige mense kan doen. Troos kan jy hul nie want HOE verklaar jy ‘n onverklaarbare situasie aan twee rou oumense? En elke tweede mens troos met die woorde dat hul net moet glo, vertrou en bid. Moet dit tog asseblief nooit doen nie. Wees net daar vir hulle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.