Bloem-student doodgeskiet: ‘Ek vra nie vir God hoekom nie’

Sean Kroon. Foto: Facebook

Die 18-jarige student wat Saterdag tydens ʼn rooftog by ʼn studentehuis in Bloemfontein doodgeskiet is, was alleen by die huis toe die rowers toegeslaan het.

Sean Kroon, ʼn eerstejaar BSc-student aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), is in sy bors geskiet toe hy vermoedelik die rowers agternagesit het. Hy het ongeveer 70 m by die erf se hek uitgehardloop voordat hy in die straat inmekaargesak en gesterf het.

Joanne Kroon, Sean se ma, het Maandag aan Maroela Media gesê die familie kan net bespiegel oor wat daardie tragiese aand by die studentehuis gebeur het, aangesien niemand anders daar was om te sien wat gebeur het nie.

Sy het gesê Sean was die aand by die huis om te studeer vir ʼn eksamen wat hy vandag sou skryf. Sy skootrekenaar en boeke het op sy bed en lessenaar in sy kamer gelê. “Hy was ook besig om kos te maak. Een van die veiligheidshekke by die huis het oopgestaan, vermoedelik omdat hy buitentoe gegaan het om te rook. Ons vermoed die rowers het ingekom en tot in sy kamer gegaan, waar hulle sy skootrekenaar, beursie en selfoon gegryp het. Hulle het seker uitgehardloop en Sean het hulle gehoor en agter hulle aangehardloop. Toe hy by die deur van die huis uitkom, het hulle hom twee keer geskiet.”

Volgens Joanne moes die rowers oor die heining om die huis gespring en by die straat af gevlug het. Sean het die hek met die afstandbeheerder oopgemaak en hulle agternagesit, maar in die straat inmekaargesak.

Werner Vermaak, kommunikasiebestuurder van ER24, het gesê met paramedici se aankoms op die toneel het Sean reeds aan sy wonde beswyk.

Sean, ʼn oudleerder van die Union High School in Graaff-Reinet, het vanjaar vanaf sy ouerhuis op ʼn plaas buite Willowmore in die Oos-Kaap na Bloemfontein getrek om aan die UV te studeer. Volgens Joanne was ingenieurswese sy hoofvak. Hy het saam met drie ander studente in die huis gewoon en daar het nog studente op die erf in woonstelle buite die huis gewoon. Hy was egter ten tyde van die voorval alleen by die huis.

Prof. Francis Petersen, vise-kanselier en rektor van die UV, het in ʼn verklaring sy medelye teenoor Sean se familie en vriende uitgespreek. Hy het gesê die veiligheid van studente wat buite die kampusgebied woon is ʼn uitdaging vir die universiteit in terme van hul jurisdiksie. “Dit is iets wat ʼn voortdurende bron van kommer vir ons is,” het Petersen gesê.

Die toneel Saterdagaand buite die studentehuis in Universitas in Bloemfontein. Foto: ER24

Intussen het konst. Peter Kareli, woordvoerder van die polisie, gesê niemand is nog in verband met Sean se moord in hegtenis geneem nie.

Joanne beskryf Sean as ʼn vrygeestige mens wat sy lewe voluit geleef het. Hy was ʼn natuurliefhebber wat hom vir natuurbewaring beywer en vetplante versamel het. “Hy het elke dag geleef asof dit sy laaste was, maar het drome en ambisies gehad asof hy vir ewig sou leef. Hy was ʼn opregte vriend en iemand wat mal was oor mense,” het sy gesê.

Volgens Joanne is sy nie kwaad oor wat gebeur het nie en vra sy en Sean se pa ook nie hoekom nie. “Ons het 14 jaar lank gesukkel om swanger te raak voordat die Here ons uiteindelik met Sean geseën het. Wanneer jy so lank wag vir ʼn kind, is jou waardering vir daardie kind soveel groter. Ons het die Here gesmeek om vir ons ʼn kind te stuur en hy het hom vir 18 jaar aan ons geleen. So ek vra nie vir God hoekom dit moes gebeur nie. Ek vra hoekom ʼn lewe so goedkoop geraak het,” sê sy. “Slegte dinge gebeur met goeie mense, maar ek weet, Sean was só ongelooflik geliefd.”

ʼn Privaat gedenkdiens sal Saterdag vir Sean op sy ouers se plaas gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

41 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dellaq

Sprakeloos….Baie baie jammer oor julle verlies. Sterkte met julle moeilike pad vorentoe.

Suné

Volgens ‘n e-pos van die universiteit was hy ‘n Bsc-student en nie ingenieursstudent nie…

Netta

Kom ons leer almal nou ‘n mooi les: GEEN AARDSE BESITTING IS JOU LEWE WERD NIE. As jy versekering het, goed so; as jy nie het nie, moet jy dalk daaraan dink. DINK MENSE, DINK!!! ‘n Oop veiligheidshek is mos nou vir moeilikheid soek. En onthou ook net, diegene wat dink hulle is veilig met vuurwapens e.d.m. – enige iets wat JY as wapen teen die rower of dief gebruik, kan hy netsowel as wapen teen JOU gebruik. Ek sal terugstaan en sê: “Vat, vat wat julle wil hê. Dit is nie my lewe werd nie”.

Hartverskeurend

Regtig hartverskeurend, baie sterkte vir julle. Julle siening om dit te verwerk is die beste. Ek tem saam, dit is net nie globaar dat ‘n lewe so goedkoop geraak het nie, verder het hulle mos klaar die seun se goed gevat, hoekom hom nog skiet…… Aan Rektor Pietersen, met alle respek in die verblyfplekke is dit nie noodwendig veiliger nie. By ‘n ander universiteit is my kind se persoonlike goed so gesteel en geen stilte vir studies nie, die druk het net te veel geraak. Net nadat hy uitgetrek het privaat het erge onluste aanrandings gekom, so ek was dankbaar… Lees meer »

Charmaine Coetzee

R.I.V so onnodige dan n jongmens sy lewe op so manier moes verloor sterkte as sy ouers GOD sal julle deurdra in hierdie hartseer tyd xxxx