Bloem-veespekulant bly agter tralies

Argieffoto

Reinhardt Verster (34), ʼn veespekulant van die Woodlands-landgoed in Bloemfontein wat in hegtenis geneem is in verband met veediefstal, het Woensdag weer in die stad se landdroshof verskyn.

Volgens ao. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, is die saak teen Verster tot 25 Augustus uitgestel wanneer hy formeel om borgtog gaan aansoek doen. Hy bly in aanhouding by die Grootvlei-gevangenis.

Maroela Media het vroeër berig Verster is op 8 Augustus in hegtenis geneem vir die beweerde diefstal van 20 beeste in die Bloemspruit-omgewing. Die beeste het ʼn geskatte waarde van R140 000.

“Verster het die beeste na bewering by ʼn bekende boer van Bloemspruit opgelaai om op ʼn veiling te verkoop, maar hom nooit daarvoor betaal nie,” het Earle gesê.

Ao. Skroef Schroeder van die Bloemfontein-veediefstaleenheid het Verster opgespoor en in hegtenis geneem.

Verster se saak is die Donderdag ná sy inhegtenisneming in absentia in die Bloemfonteinse landdroshof tot vandeesweek uitgestel aangesien hy onder polisiebewaking in ʼn hospitaal was.

Dit is nie die eerste keer dat Verster met die gereg bots nie. Maroela Media het verneem Verster, toe 31, is in 2014 skuldig bevind nadat hy boere met honderde duisende rande ingedoen het. Hy is tien jaar tronkstraf opgelê wat in geheel opgeskort is op die voorwaarde dat hy die geld aan die slagoffers moes terugbetaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.