Bloem-vrou verdwyn spoorloos

Natasha Mans (Foto verskaf aan Maroela Media)

Natasha Mans (41), ma van die 15-jarige Noeline Koekemoer wat in April 2015 in haar ouerhuis in Bloemfontein wreed verkrag en vermoor is, word al vyf dae lank vermis.

Mans se lewensmaat het Dinsdag aan Maroela Media gesê Natasha het verlede Donderdag, op 31 Mei, ʼn werker gaan aflaai, teruggekeer huis toe en daarna spoorloos verdwyn. Sy het in die Groenvlei-gebied in Bloemfontein gaan stap en nie weer teruggekeer huis toe nie.

Volgens hom is sy laas tussen 10:00 en 11:00 die oggend gesien. Sy het ʼn denim en ʼn oortrektop aangehad.

Mans het ʼn tatoeëermerk op haar regterarm, ʼn kruis van ongeveer 8 cm x 4 cm groot met die datum van Noeline se afsterwe, 7 April 2015, daarby.

Enigiemand met inligting oor waar Mans haarself bevind word versoek om speurder Mokhele te skakel by 060 340 0135 of ao Liebenberg by 071 682 5063.

Maroela Media het vroeër berig Moses Maoka (37) is twee lewenslange vonnisse opgelê vir die moord en verkragting van Noeline. Hy is ook tot ʼn bykomende nege jaar tronkstraf gevonnis op drie aanklagte van huisbraak. Natasha het op Noeline se liggaam afgekom. Hulle het saam in ʼn woonstel op ʼn kleinhoewe in Bainsvlei gewoon. Maoka was voorheen ʼn werker op die kleinhoewe en het Noeline en haar ma geken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

humor ·

Baie hartseer. Hoop en bid ernstig dat sy lewend gevind sal word. Ag mense moet net nie weer alleen gaan stap of draf nie. Stap en draf in groepe en verander gereeld die troete ook op verskillende tye.

Nataly ·

Hoop sy word gevind so gou as moontlik…dis al 5 dae later…?

Adele ·

I pray that she is found safely can only imagine what she went through finding her daughter

kas ·

Haar dogter se moordenaar is vir lank tronk toe gestuur.Wat is die kanse dat hy iemand kon opdrag gee om wraak te neem.

Kannaland ·

Dit is moontlik, ek hoop dit word ondersoek. Ek is bekommerd dat sy ‘n werker gaan aflaai in moontlik ‘n gevaarlike gebied, en dat sy alleen gaan stap. Selfs mense wat in groepe stap word deesdae aangeval.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.