Bloem weer kalm ná bendegeweld

Argieffoto (Foto: thesouthafrican.com)

Argieffoto (Foto: thesouthafrican.com)

Die situasie in Bloemfontein was Vrydag weer kalm ná die stad vandeesweek onder bendegeweld deurgeloop het waarin minstens drie mense dood is.

Kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, het gesê altesaam 13 mense is tot dusver weens bendegeweld in hegtenis geneem en het reeds in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.

“Thamsanqa Ramahlele, Tsheyo Selebalo en Kgotso Sebonyane het Maandag in die hof verskyn op aanklag van poging tot moord op ʼn leerder in Kopanong. Die saak is uitgestel. Hulle is nie op borgtog vrygelaat nie en bly in aanhouding,” het Mbambo gesê.

In ʼn ander saak het Thabiso Leeuw, Cavern Gemaine, Tshokolo Motsamai, Kgotso Shai, Vuyisile Mnyamane, Letshego Mafa, Mosiuwa Mokotjo, Moeketsi Makhele, Mohlopheki Nzimande en Tshepang Makgele in dieselfde hof verskyn nadat hulle glo die eienaar van ʼn taverne, Makgaola Seatile, in die woonbuurt Phase 4 vermoor het. Seatile is verlede week deur ʼn groep aangeval wat gevaarlike wapens by hulle gehad het. Hy is op die toneel dood.

Drie bendes, wat intussen geëien is as Born to Kill, Romans en Triple Six, word na bewering met die geweld verbind. Dié bendes het glo verlede week by verskeie skole in die gebied opgeruk en gedreig om die leerders dood te maak.

Lt.genl. Thabethe Mpembe, provinsiale kommissaris, het ʼn beroep op die gemeenskap gedoen om saam met die polisie te werk om geweldsmisdaad uit te roei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.